The Miracle Place

– deur Rooies Strauss

Alles het ongeveer 25 jaar terug begin, nadat ek my hart vir die Here gegee het. Ons was besig met ’n uitreikaksie na ’n tipiese Weskusdorpie, Hondeklipbaai. Voordat ek gered is, was ek nog altyd ’n kerkganger, al was my hart nie by God nie en het ek nog nooit gesien dat iemand genees word nadat daar vir hulle gebid is nie. Tydens die tentdiens in Hondeklipbaai het ’n blinde vrou vorentoe gekom vir gebed. Ek het gedink: Ek gaan vir haar bid, maar sy sal net weer gaan sit – want dit is wat ek al die jare in die kerk sien gebeur het. Ons het vir haar gebid en daar het letterlik doppies van haar oë afgeval; sy kon weer sien – al die eer aan God! Alles het van daar af eksponensieel toegeneem – oor ’n tydperk van ses maande het ek gesien hoe God 22 blindes genees, dowes het gehoor, verlamdes het uit rolstoele opgestaan en waar een been korter was as die ander, het dit van 3 cm tot selfs 10 cm gegroei – alles in die wonderlike naam van Jesus wat gesterf het sodat ons redding en genesing kan ontvang. Ek kan getuig van my eie genesing. 

Ek was in die Koevoet-eenheid op die grens toe ek in ’n ongeluk betrokke was: ons Casspir het ’n dubbellandmyn getref. Ná die operasie was my hele rug vol penne – ons het gebid dat God my rug moet aanraak. ’n Paar jaar gelede is van die penne verwyder danksy God se genesing. God wil jou ook genees. In 1 Johannes 5:15 staan daar: “Immers, as een van ons vir God iets volgens Sy wil vra, kan ons maar weet: Hy luister! Wel, een ding is seker, dit is so goed of ons het wat ons van God vra.” (Die Boodskap). Ek wil jou aanmoedig om ons gebedslyn (076 7957 571) enige tyd te skakel, iemand sal saam met jou bid. Volgende maand gaan ons ’n bietjie dieper in op die onderwerp, maar die belangrikste wat jy moet onthou, is: God wíl genees. Besoek gerus ons Facebook-blad ‘Rooies Strauss’ en gaan kyk wanneer en waar ons volgende byeenkomste is. Jesus Laaik Jou!


JUIG! Tydskrif (Februarie 2018)

Return to Home