Lewensles Uit Die Kraamsaal

– deur Ron Kinnear

Sommige ervarings wil ’n mens nie oorhê nie. Een so ’n ervaring was in die Mowbray-kraaminrigting in Kaapstad waar ons tweede dogter gebore is. In die ure vooraf kon ek met ons Joodse huisdokter oor die Here praat. Hy het gesê dit mag hom dalk beskore wees om die pasgebore Messias eendag in sy hande te hou. Ek het hom aangeraai om na die hemele te kyk: “Hy het reeds gekom. Sy volgende verskyning gaan op die wolke wees.” Terwyl ons gesels, sê die Here dat ek na ’n spesifieke kraamsuster moet uitreik. Sy was besonder kortaf en ek het verskonings opgedis: “Here, ’n mens kry nie aldag die kans om ’n arts te evangeliseer nie; ek is te opgewonde oor die koms van ons dogter, ek sal net ’n gemors daarvan maak.” Uiteindelik het ek ’n “skikking” met Hom probeer bereik: “Here, môreoggend, ná die geboorte, sal ek met haar gesels. As sy my dán op my plek sit, sal daar ook nie so baie mense wees nie en as sy wel na my luister, sal daar meer tyd wees om te gesels.” Die stem het egter al hoe dringender geword, maar ek kon net nie genoeg moed bymekaarskraap nie. 

Die volgende oggend is ek reguit toonbank toe soos ek “belowe” het. Ek het gevra om die betrokke suster te sien, maar toe hoor ek die skokkende nuus dat sy in die vroeë oggendure haar eie lewe geneem het. Ek was verslae. Dit was 40 jaar gelede. Ek kon ’n verskil in iemand se lewe gemaak het, maar het versuim … Sedertdien het ek baie evangelisasieprojekte aangepak wat derduisende siele vir die Here gewen het, maar ek is steeds hartseer oor daardie voorval. Ek nooi jou vriendelik dog dringend uit om ons sendingvennoot te word. Ons staan op die vooraand van die grootste evangelisasieprojek nog in Sentraaloos-Afrika. Help ons asseblief om nie nóg gulde kanse deur die vingers te laat glip nie. Besoek gerus www.africamissions.org.za vir meer inligting.


JUIG! Tydskrif (Februarie 2018)

Return to Home