Verwerping, ’N Verbloemde Seën

– deur Ella Kritzinger

“Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” – Romeine 8:18

Liewe vriendin, jy bevraagteken seker die opskrif, maar dit is die waarheid en dit hang van jou af. Só baie mense ervaar op ’n daaglikse basis verwerping; idees wat afgeskiet word by die werk, familie en vriende wat mekaar afskryf, krenkende woorde op sosiale media, egskeiding, mishandeling, ens. Dis pynlik, maar ook ’n toets vir iets groter – ’n verbloemde seën. Kyk na Jesus, Josef en Dawid wat deur hulle eie gesinne, vriende en gemeenskap verwerp is. In baie gevalle het  jou gevoel van verwerping niks met jou te doen nie, maar eerder met die mense wat die seer in jou lewe veroorsaak het. Onthou: “Hurt people, hurt people”. 

Ons moet met ander oë na verwerping kyk. Dit maak deure oop vir nuwe geleenthede. Verwerping kan jou beter of bitter maak, ’n lafaard of ’n oorwinnaar. Verwerping het die vermoë om nederigheid in ons na vore te bring en dis juis waar die grootheid van leierskap lê. Kyk maar na groot leiers; Moses was die nederigste mens op aarde (Numeri 12) en Jesus, Hy het opgestaan! Moenie dat verwerping jou menswees verwoes nie,  laat dit liewers jou promosie wees. Kry jou waarde by God en nie by mense nie. Romeine sê niks of niemand kan ons van die liefde van Christus skei nie. Moenie in die gat van die verwondes sit nie. Fokus op die groter prentjie, bly op koers en bewaar jou hart. Voorkom dat bitterheid die oorhand kry, want dis soos om gif te drink en te verwag die ander persoon moet doodgaan. Herinner jou aan al die goeie dinge in jou lewe en wees dankbaar daarvoor. Soos hulle sê: “maintain an attitude of gratitude.”


Bron: JUIG! Tydskrif (Mei 2019)

Return to Home