Skud Opgaar-Bagasie Af

– deur Ella Kritzinger

“Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” – 2 Korintiërs 7:1

Liewe vriendin, net soos kamers en kaste het ons geestelike lewe ook soms ’n regpak nodig. Om emosionele bagasie op te gaar, domineer jou hart en is die grootste dief van vreugde en vrede. Om produktief te wees en gefokus en gemotiveerd te bly, moet ons ontslae raak van die opgaarbagasie (“clutter”). Begin vanjaar proaktief en neem beheer van jou lewe en situasie. Identifiseer en onderskei tussen die dinge in jou lewe wat vir jou die meeste saak maak teenoor dit wat jou gedaan maak. Dit sal help om ’n lysie te maak sodat jy jou gedagtes kan analiseer en organiseer. Om jare se ou koeie en pyn te hanteer, is ’n proses en dit is beter om dit een vir een te hanteer. Nou is die tyd om ’n lang afspraak met God te maak en oor alles te praat wat jou pla. 

Begin by díe dinge wat jou die meeste pla, wees realisties en gee uiting aan jou emosies in die proses. Laat vaar die negatiewe gedagtes, emosies en gevoelens daaroor, handel dit af en beweeg aan. Jy sal groot emosionele verligting ervaar en dinge in perspektief kan plaas vir beter toekomsbesluite. Emosionele “clutter” is dinge soos besluite wat uitgestel word. Wanneer jy besluite vermy, oorweldig die opgegaarde “bagasie” jou brein. Sosiale media en mense kan ’n groot bydrae maak tot jou bagasie. Die raad en kursusse daar buite is legio en dit kan jou brein en gees soms verstop. Kies die eenvoudige manier en handel volgens Sy Woord. Praat met God! Betoon jou dankbaarheid deur Hom te loof. Dit sal outomaties ’n tonikum vir jou liggaam, siel en gees wees. Sorg dat jy van nou af elke dag die ongewensde dinge in jou lewe hanteer voordat dit opgaarbagasie word; bely elke dag en vergewe op die daad.


JUIG! Tydskrif (Januarie 2019)

Return to Home