’N Wyse Vrou Se Waarde Is Ver Bo Die Van Korale

– deur Rina Kinnear

“Wie sal ’n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale.” – Spreuke 31:10

Vrou, die belangrikste waarde wat jy in jou huis, gemeenskap en gemeente aan ander kan oordra, is wysheid. ’n Wyse vrou is ’n pilaar in die samelewing. Sy is ’n voorbeeld vir vroue, jonk en oud. Die Bybel sê vir ons in Titus 2:3 dat die gedrag van ouer vroue heilig moet wees, dat hulle nie moet kwaadpraat of aan drank verslaaf moet wees nie. Sy moet kan raad gee aan die jonger vroue om liefdevol teenoor hulle mans en kinders te wees. Hulle moet ook geleer word hoe om in volle onderdanigheid goeie huisvroue vir hulle mans te wees. 

Ons vrouens het ’n belangrike rol om te speel. Die volgende geslag vroue gaan ons voorbeeld volg. In 1 Petrus 3:1 staan daar dat vroue se skoonheid nie net moet bestaan uit mooi haarkapsels, juwele en sierlike klere nie, maar “’n sagmoedige en stille gees wat baie kosbaar is voor God.” Volgens Spreuke 31:10 is ’n knap vrou baie meer werd as edelstene. Alles in haar spreek van ’n sterk en edel persoonlikheid. As Sy praat is dit met wysheid, as sy leiding gee, is dit met liefde. Sy hou goeie toesig oor haar huishouding, lui is sy nie. Haar kinders prys haar, haar man bewonder haar. Wie is ’n wyse vrou? “A woman who fears the Lord (reverently worshiping, obeying, serving,and trusting Him with awe-filled respect) she shall be praised” – (Amplified Bible). Dank God vir vroue van wysheid. Is jy een van hulle?


Bron: JUIG! Tydskrif (April 2019)

Return to Home