Hoop VS. Om Te Wens

– deur Ella Kritzinger

“… om vas te hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ’n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel …” – Hebreërs 6:18-19

Liewe vriendin, almal wens nou en dan vir iets. Wanneer jy spyt is oor iets, wens jy gewoonlik dat dinge anders uitgedraai het. ’n Wens kan ook iets wees wat jy hoop sal gebeur, maar sonder  die waarborg dat dit sal  geskied. ’n Mens kan dus maar sê, om te wens is passief. Tog sien ons in Psalm 21:3 dat God ons wense ernstig opneem: “Die wens van sy hart het U vervul.” Paulus sê: “Al wat ek wens is om Christus te ken …” – Filippense 3:10. 

Aan die ander kant is hoop nie net ’n woord om jou beter te laat voel nie. Daar is ’n toekomsverwagting dat iets bewaarheid gaan word of dat jy iets gaan ontvang waarna jy baie uitsien. Hoop verwys na iets positief en haalbaar; soos dít wat Jesus vir ons aan die Kruis verwerf het. Bybelse hoop is nie net ’n wens nie, dis aktief en ’n vaste versekering. Ons het reeds vergifnis van ons sonde deur Jesus se Bloed, maar volgens Romeine 8 sal ons dit eendag as hoogtepunt van ons verlossing ontvang. Hierdie hoop wat Christus vir ons bewerkstellig het en die verlossing wat Hy deur Sy genade gebring het, is ’n veilige en vaste lewensanker vir elkeen wat aan Hom behoort. Hoop is om seker te wees dat God se beloftes vervul sal word. Dus kan ons uitsien na die dag wanneer ons bevry sal word van verganklikheid en Christus gaan ontmoet. Dis ’n gerusstellende gedagte en ’n geseënde hoop. Christus se opstanding is nie ’n wens nie, maar ’n geseënde hoop vir Sy kinders. Paasfees is om die draai, ek moedig jou aan om jou wense aan God bekend te maak, maar dra ook die boodskap van hoop saam met jou en deel dit met ander.


Bron:  JUIG! Tydskrif (April 2019)

Return to Home