Draers Van God Se ‘Aroma’

– deur Rina Kinnear

“Want ons is ’n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan.” – 2 Korintiërs 2:15

As vroue hou ons mos daarvan om lekker te ruik. Ek hou nie van goedkoop parfuum nie. Dit is omdat die geur nie lank hou nie. Ek het onlangs ’n kompliment gekry van ’n jong assistent agter die toonbank in ’n supermark, wat gesê het dat ek daardie dag die eerste kliënt was, wat so lekker geruik het. Daar is ook ’n ander geur / aroma wat ons met ons moet saamdra en dit is die aroma van Heilige Gees se salwing. Ek skryf graag wat in die Amplified Bybel staan in Jesaja 60:1,2: “Arise, shine, (be radiant with the Glory and brilliance of the Lord); for your light has come. 

The Lord will rise upon you and His glory and brilliance will be seen on you.” In Meimaand vier ons Moedersdag. Kom ons raak die lewens van ons mans, dogters, seuns, familie en ons naaste aan deur: die aroma en parfuum van God se teenwoordigheid, deur Sy salwing van die Heilige Gees en deur Sy liefde uit te dra. Waar kry ons hierdie “duur” aroma of “parfuum” vandaan? Wat is die geheim? Deur ’n diep liefdesverhouding met die Here. Ons lees in Matteus 22:35 dat ’n wetgeleerde Jesus vra: “Wat is die grootste gebod in die wet?” Jesus antwoord hom: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand,” en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”


Bron: JUIG! Tydskrif (Mei 2019)

Return to Home