Die Here Se Weë Is Nie Ons Weë Nie

– deur Rina Kinnear

“Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.” – Jesaja 55:8

Toe my seun eenkeer om ’n betrekking aansoek doen, was een van die vrae op die aansoekvorm “ouers se beroep”. My man was toe al oorlede, dus was dit nie meer op hom van toepassing nie. Vir my beroep het my seun “sendeling” neergeskryf. Sy waarneming het my verbaas, want toe was ek nog huismoeder vir tien kinders in die AGS se Villa Lubet Kinderhuis. Ek het wel op ’n Donderdagoggend ’n biduur gehou en die werkers met die Woord te bedien, maar ek het myself nie as ’n sendeling beskou nie. Later het ek besef ons dade praat harder as woorde. Toe breek daar ’n dag aan dat ek genooi word as spreker by ’n internasionale vrouekonferensie in Uganda. 

Ek was baie opgewonde en het die Here vertrou om dit vir my moontlik te maak om te gaan. Ek was verbaas toe iemand my vra of ek ’n sendeling gaan word. Ék ’n sendeling? Nee, nooit! Min het ek geweet wat die Here vir my beplan. Ná my besoek in Uganda het die een deur ná die ander oopgegaan na Brasilië, Soweto en KwaNdebele, ’n vorige swart tuisland. Ek het besef die Here het ’n groter plan met my lewe. Op 30 Oktober 1999 is ek en Ron Kinnear van Afrika Sending getroud en het sendingwerk inderdaad deel van my lewe geword! The Fellowship Network het ons in Julie vanjaar in Scottsdale, Arizona, vereer as hul Sendelinge van die Jaar vir 2018 en die jaarlikse Ray Chamberlain-prys aan ons toegeken vir buitengewone toewyding aan wêreldsending (Matteus 28:19-20). Dit is die eerste keer dat dit toegeken is aan iemand buite Amerika. Aan die Here al die eer, “Ebenezer”, tot hier het Hy my deur Sy genade gebring.


Bron: JUIG! Tydskrif (November 2018)

Return to Home