Vervolging
[ fərfᴐlxəŋ]

selfstandige naamwoord
• vyandigheid en mishandeling, veral as gevolg van rasse- of politieke of godsdienstige oortuigings; verdrukking.
• aanhoudende ergernis of teistering.

Die Bybel het ons gewaarsku dat ons vir ons geloof vervolg sal word. Die ongelowige wêreld sal altyd uiters vyandiggesind teenoor die Evangelie van Jesus Christus bly. Christene moenie verbaas wees dat ongelowiges in die wêreld hulle haat nie. Dit volg ’n patroon wat in die wêreld te sien is sedert Kain vir Abel vermoor het en dit kan gesien word in die wêreld se reaksies op Christus (lees Johannes 15:18).

Ons is nie slagoffers nie!
Jy het oor die laaste paar bladsye talle verslae gelees van Christene in Afrika, die Ooste en die Midde-Ooste wat vervolging verduur. Vervolging is egter ’n wêreldwye probleem en kom ook in die Weste in ’n ietwat ander gedaante voor. Ons moet egter versigtig wees om nie alle vorme van teenkanting as vervolging te bestempel nie. Dit kan ’n slagoffermentaliteit skep, wat ongelukkig algemeen onder Westerse Christene geword het. Jesus het Homself nooit as “vervolg” of as ’n slagoffer beskou nie. Gelowiges in die vroeë Kerk ook nie. Die apostels het hulle lyding as ’n voorreg beskou.

Moderne teenkanting wat die Westerse Kerk moet trotseer
In die Westerse samelewing, met sy wortels en fondamente wat op die Christelike beginsels en geloofsvaders gebou is, word die Christendom gemarginaliseer en uitgestoot. Baie Christene word in hulle daaglikse lewe met uiterste teenkanting gekonfronteer. Die genadelose manier waarop Christene geteiken word – aangedryf deur haat teenoor Christene en die Christelike geloof self – is ’n gemene deler.

Die Weste is onkundig en onverskillig
In ’n tyd waarin daar toenemend in die media gefokus word op menseregte, ongeag van gender, etnisiteit of seksualiteit – om maar net ’n paar te noem – is dit ironies dat daar in baie dele van die hoofstroommedia in die Weste so ’n beperkte dekking is van die massiewe vervolging wat soveel Christene wêreldwyd ervaar. Hierdie gebrek aan mediadekking, tesame met die onwilligheid van Westerse regerings om iets te doen aan die wydverspreide vervolging van Christene, dui op ’n kulturele kloof. Hierdie kloof is so opvallend dat ons tot die gevolgtrekking kan kom dat daar ’n onverskilligheid is, ’n kulturele gordyn waaragter die lyding van gemeenskappe van Christene en ander godsdiensminderheidsgroepe grotendeels ongesiens verbygaan. Hoewel Westerse regerings meer aandag begin skenk het aan die skending van godsdiensvryheid wêreldwyd, wag ons nog vir die internasionale gemeenskap om iets te doen wat tasbare verandering sal meebring vir baie van die Christene wat vervolg word. Hierdie onverskillige ingesteldheid het nie betrekking op rasse-, kulturele of gendersake nie, maar slegs godsdiens. Versuim om hierdie kwessie te takel en die regte van vervolgde Christene te verdedig, sal op die ou end die Westerse beskawing, vryheid en demokrasie vernietig.

Die Kerk ís noodsaaklik
Westerse vervolging steek sy kop in moderne vorms uit soos sensuur, bespotting van ons geloof, beperkings op ons vryheid van spraak en oortuigings, beperkings op ons optrede en meer onlangs beperkings op ons byeenkoms as ’n kerk. Die koronavirus-pandemie het ’n geweldige moeilike jaar vir gelowiges wêreldwyd tot gevolg gehad; hulle is verhoed om byeen te kom, moes aanhoor dat die Kerk nie noodsaaklik is nie en dat die regering nie die waarde sien wat die Kerk in ’n tyd soos hierdie van absolute desperaatheid en hopeloosheid bied nie. Hierdie feit kan nie verder van die waarheid wees nie, aangesien Christene die enigste is wat die WARE antwoord op die wêreld se probleme het – ’n boodskap van ewige hoop.

Die afgelope paar jaar het ons die moderne teenkanting gesien en ervaar hoe die Kerk die stilswye opgelê is. Dit gebeur in baie vorme, byvoorbeeld:

  • Verlede jaar het ons ’n artikel oor Barnevernet, die Noorse Kinderwelsynsdiens, gedoen, wat kinders met geweld van hul Christen-ouers weggeneem het – sonder enige rede behalwe vir hulle geloof.
  • Netflix en Hollywood bevorder godslastering skaamteloos en verdien geld uit rolprente wat die Christendom openlik bespot. In 2019 het Netflix byvoorbeeld The First Temptation of Christ aangekondig – ’n komedie wat Jesus as ’n gay daggaroker voorstel.
  • In Skotland het die regering kruise uit kerke en kapelle verwyder sodat dit nie die ongelowiges of mense van ander godsdienste tydens begrafnisdienste sal aanstoot gee nie.
  • In Brasilië het die Brasiliaanse sokkerfederasie die span verbied om enige feesvieringe te hou wat godsdienstige temas het en beweer dat om dit te doen atlete wat ander oortuigings het of agnosties is, kan intimideer of uitsluit.
  • In Amerika het baie verslae verskyn van bakkers wat beboet of aangekla is omdat hulle nie bereid was om koeke te bak vir gay huweliksvieringe nie omdat dit teen hul Bybelse oortuigings indruis.
  • In Suid-Afrika is dr. Jacques de Vos verbied om te praktiseer nadat hy ’n swanger vrou aangeraai het om nie haar ongebore kind te aborteer nie. Kyk na die volgende bladsye vir regsake wat godsdiensvryheid in Suid-Afrika betrek.
  •  In Frankryk is kerke voortdurend in die nuus omdat hulle gevandaliseer en ontheilig word.
  • Die lys is ellelank …

12 Junie 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.