-deur Karen Badenhorst

Volgens Matteus 25:14-30 en die gelykenis van die talente, moet ons goeie rentmeesters wees van dít wat Hy ons gee. “Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir ’n ander twee, en vir ’n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee …” – Matteus 25:15.

Word finansieel fiks
Ons almal weet ons het ’n plig om ons liggaam fiks en gesond te hou. Oefen gereeld, eet gesond en probeer minder stres! Dit is partykeer moeilik om dit alles in ons besige lewens in te pas, maar ek is seker baie van ons probeer ons bes.
Ons het egter ook ’n verpligting om ons geldsake te bestuur. Net soos met ons liggame, moet ons finansieel fiks word en oefen om fiks te bly. Sodoende kan ons die finansiële fiets sonder moeite trap!

Voorbeelde van hoe om finansieel fiks te word:
1 Bou KENNIS op.
Hoe meer jy weet, hoe meer sal jy wyse besluite kan maak. Lees gereeld die koerant en finansiële artikels en vra by meer as een persoon raad. So kan jy self die regte besluite neem.

2 Stel ’n BEGROTING op.
As jy ’n huweliksmaat het, is dit raadsaam om insig in al twee van julle se besteding te hê. Probeer by die begroting bly ondanks uitdagings.

3 Probeer MEER AS EEN INKOMSTESTROOM bou.
Kyk hoe jy ’n ekstra geldjie kan verdien. Daar is baie maniere hoe ’n mens jou inkomste kan aanvul en so gemoedsrus opbou vir onvoorsiene omstandighede.

4 Werk ’n PLAN van aksie uit.
As jy nog ’n bron van inkomste het, kan jy maklik besluit watter skuld eerste afbetaal gaan word, of hoeveel ekstra gespaar kan word.

5 Moenie onnodige SKULD maak nie.
As jy iets nie nóú kan bekostig nie, wag tot daardie item op ’n uitverkoping is, of spaar totdat jy dit kontant kan koop. “Wat hardwerkende mense beplan, is nuttig, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur af op gebrek.” – Spreuke 21:5.

6 BESKERM jouself en jou gesin deur
finansiële beplanning te doen saam met ’n finansiële adviseur.
Ons is verantwoordelik om vir ons eie huis-houding te voorsien, soos 1 Timoteus 5:8
ons herinner: “As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ’n ongelowige.”

7 WEES VERGENOEGD.
Moenie iets koop net omdat jou buurman of beste vriend dit het nie. Spandeer wat jy kan bekostig en hou by jou eie begroting. “As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.” – 1 Timoteus 6:8.

Trap die finansiële fiets moeiteloos
As ons van hierdie beginsels toepas, sal ons beslis fiks word en ons finansiële fiets sonder moeite trap!


KAREN BADENHORST het haar oor die afgelope 20 jaar in die finansiële bedryf be-kwaam en het ’n gevestigde praktyk met lojale kliënte. Sy is getroud met Quintin en hulle het vier kinders.

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.