12 Augustus 2019

’n Voormalige Moslem-vrou wat Christus as haar Heer en Verlosser aangeneem het, het al meer as 1 500 Moslems na Christus gelei.

Sy is die voorganger by twee kerke en gee ander Christen-organisasies leiding oor hoe om na Moslems uit te reik en ’n pad van dissipelskap met die gelowiges uit ’n Moslem-agtergrond te stap.

Annahita Parsan (48), ’n joernalis en ’n geordende predikant in die Kerk van Swede, het tydens ’n eksklusiewe onderhoud met CBN News gesê dat niemand hulle sou kon voorstel dat sy, ’n Moslemvrou, eendag twee kerke sou lei nie.

Haar man het haar mishandel, maar sy het die Bybel in die geheim begin lees. Hoewel sy die vrede en liefde van God begin ervaar het, was die mishandeling te veel vir haar.

Parsan erken dat haar destydse man haar met ’n graaf geslaan het. As ’n mishandelde vrou, vol blou kolle en snye oor haar hele lyf, het Parsan uiteindelik probeer om haarself met pille om die lewe te bring, maar sy het dit oorleef.

Parsan, haar man en haar kinders het in 1984 deur die berge na Turkye gevlug. Hulle het na vele wedervaringe uiteindelik in Denemarke aangekom waar sy van haar man geskei het wat haar nog steeds mishandel het. Dit was ook die plek waar sy die Evangelie die eerste keer gehoor het. Sy het na Swede verhuis waar sy en haar twee kinders uiteindelik in ’n kerk gebid het: “Ons is nou vir ewig en altyd Christene.”

Parsan het tydens die CBN-onderhoud vertel dat sy die bediening in 2012 betree het en sedertdien meer as 1 500 Moslems na Christus gelei het.

“Ek werk spesifiek met die Moslem-gemeenskap. Baie van hulle is Farsi-sprekend,” het Parsan gesê. “Soms kom hulle kerk toe omdat hulle nuuskierig is. Soms is hulle asielsoekers en soms besoek hulle net die Weste uit plekke soos Iran en Afghanistan sodat hulle in die geheim gedoop kan word en dan keer hulle weer terug.”

As ’n jong vrou wat in Iran ’n bestaan sonder enige hoop gevoer het, het Annahita Parsan geen plan en geen doel in haar gebroke huwelik gesien nie, net sinnelose geweld. Maar God het ’n plan gehad.

“God het my liefgehad en was van die begin af in my lewe,” het sy gesê.

Foto: Annahita Parsan.


Bron: gatewaynews.co.za

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.