-deur Andre Bekker

Bron: Voice of the Voiceless

5 Oktober

Aan die publiek van Suid-Afrika:

Graag maak ek van die geleentheid gebruik om ʼn pas-gestigte Christelike menseregte organisasie, Voice of the Voiceless Advocacy (VOTVA), aan u bekend te stel en ook van stapel te stuur.

Gelei deur die Heilige Gees, is VOTVA in lyn met Spreuke 31:8 in die lewe geroep: “Speak up for people who cannot speak for themselves. Protect the rights of all who are helpless” (Today’s English Version).

Die Visie is dat Voormalige Homoseksuele persone (of eks-gays) en ander seksuele minderheidsgroepe wat binne Bybelse waardes optree, hulleself vry en sonder vrees sal uitdruk. Dit sal bereik word deur eks-gays te bemagtig en hulle regte en vryhede te beskerm, te verdedig en te bevorder op sosiale, politieke, teologiese en regsvlakke.

Die afgelope paar jaar is die polities korrekte, maar wetenskaplik ongegronde narratief geskep dat ʼn mens gay gebore word en nie kan verander nie. Dit het daartoe gelei dat eks-gays se stemme verdoof is en dat hulle bestaan as leuenagtig afgemaak word.

Dié onhoudbare situasie het daartoe aanleiding gegee dat Voice of the Voiceless gestig is. Dit verleen aan eks-gays weer ʼn stem. Dit stel ons in staat om die vooruitsig te hê dat ons ons waardes en geloofsoortuigings vry en sonder vrees kan uitleef. Hierdie stem verander die hele gaydebat, want dit is die bewys dat verandering moontlik is. Ons getalle groei daagliks, dus verwelkom ons alle eks-gays om by die organisasie aan te sluit.

Dit is belangrik om daarop ag te slaan dat die Suid-Afrikaanse Handves van Menseregte nie net vir gays geldig is nie. Alle seksuele minderheidsgroepe is gelykwaardige regtedraers. Mense van alle seksuele oriëntasies word vry en gelyk in waardigheid en regte gebore, en het die reg om hulle regte en vryhede uit te leef. In beginsel is mense van alle seksuele oriëntasies geregtig op die gelyke beskerming van die reg, sonder diskriminasie. Voice of the Voiceless Advocacy beklemtoon daarom dat geeneen van die menseregte gereken kan word as net spesifiek vir, of uniek aan, een groep mense, terwyl ander uitgesluit / misken word nie. Daar moet konsekwent omgegaan word met die menswaardigheid, regte en vryhede van alle seksuele minderheidsgroepe – wat tans nie die geval is nie.

Voorts wil ons ʼn belangrike dilemma uitlig: die huidige toedrag van sake bring die publiek – en veral die kerk – voor ʼn groot vraagstuk te staan. Daar sal herbesin moet word oor die gemoedelike aanvaarding van bv. ’n onberouvolle en dus onbekeerde homoseksuele persoon, en die afwys van ʼn onberouvolle en dus onbekeerde homoseksuele pedofiel. Op watter redelike gronde kan daar teen laasgenoemde gediskrimineer word op grond van sy seksuele oriëntasie, deur nie aan hom / haar, in sy diversiteit as ʼn randfiguur, dieselfde regte en vryhede toe te staan, waarvoor die gayregte-aktiviste hulle beywer nie? Die implikasie is dat dieselfde liefde-is-liefde-beginsel bv. vir ʼn homoseksuele pedofiel sal moet geld. Dieselfde waarde van “moenie oordeel nie” sal toegepas moet word. Dieselfde interpretasie van die liefdesgebod sal gemaak moet word, en dieselfde Bybel-interpretasie sal moet toegepas word om alle seksuele oriëntasies te ‘ontsondig’.

Ons skep ʼn baie netelige situasie. Dit bring onwillekeurig die begrip gay Christen in fokus, aangesien ʼn “gay pedofiel” dan net so ʼn Christen kan wees soos ʼn “gay teleiofiel” (iemand wat aangetrokke is tot ʼn volwassene). Indien dit waar is, moet die gay pedofiel ook as ʼn lidmaat in die kerk opgeneem kan word, die sakramente kan geniet, ampte kan beklee en as predikant kan studeer en gelegitimeer word. Dis inderdaad ʼn selfgemaakte krisis vir beide die kerk en die samelewing in die breë. Deur die een goed te keer word jy by implikasie gedwing om die ander ook goed te keer.

Dis hoekom ʼn belangrike seksuele minderheidsgroep soos eks-gays se stemme in berekening gebring moet word in die gaydebat.

Uit ervaring kan ons dit duidelik stel dat ‘vrywording’ die klem op die regte plek plaas, naamlik die Bybelse onderskeid tussen seksuele reinheid en onreinheid. Dís wat ons aanbeveel en dit sal beslis help om ʼn oplossing te vind vir die huidige dilemma, soos hierbo uitgelig.

Soos dit die geval is met enige ander seksuele oriëntasie, is om te identifiseer as ʼn eks-gay ʼn daad van so ʼn persoon se vryheid van keuse, vryheid van uitdrukking en sy vryheid van assosiasie. Dit gaan oor die persoon se vryheid om sy geloof en oortuigings te kies, en meer so die vryheid om te kan verander, wat integraal is aan ʼn konstitusionele demokrasie wat diversiteit, vryheid en self-beskikking onderskryf.

Wetenskaplike bevindings dui daarop dat seksuele oriëntasie nie onveranderbaar en voorafbepaal is nie – soos die algemene polities-korrekte opvatting dit wil hê nie. Die persoonlike getuienisse van eks-gays bevestig hierdie bevindings (sien as voorbeeld my verhaal wat by aangevra kan word by VOTVA VOTV@protonmail.com ).

Ons blote bestaan weerspreek die aanspraak dat oriëntasie onveranderbaar is. Daarom word ons in die huidige milieu gemarginaliseer en dikwels met onverdraagsaamheid, haat en minagting behandel. Pogings word aangewend om te verhinder dat eks-gays homoseksualiteit as sonde uitlig, en iets is waarvan ʼn persoon hom- / haarself moet bekeer. So word daar inbreuk gemaak op ons godsdiensvryheid en vryheid van spraak.

Voice of the Voiceless neem ten sterkste ʼn standpunt hierteen in. Ons is dié wat uit ondervinding praat, en daarom moet ons gehoor word – ten bate van die publiek.

Dis bejammerenswaardig en ironies dat die stand van sake juis aangevuur word deur dieselfde gayregtegroepe en -individue wat self aanvaarding en respek eis vir hulle selfdegeslagleefstyl en -huwelike. Dié wat onderdruk was, het nou die onderdrukkers geword – en onderdruk selfs van dié wat soos hulle was. Verdraagsaamheid, respek en waardigheid is veronderstel om ʼn tweerigtingstraat te wees. Die versoek vir verdraagsaamheid deur een groep kan nooit die onverdraagsaamheid van ʼn ander groep regverdig nie. ʼn Aanhaling van Nelson Mandela is hier gepas: “To be free is not merely to cast off one’s chains, but to live in a way that respects and enhances the freedom of others.”

Voice of the Voiceless is hier om te bly. Ons sien duidelik die gevaar in vir die publiek, wat die kerk insluit, as daar nie op ons waarskuwings en besorgdhede ag geslaan word nie. Sosiale strukture sal uitmekaar val as ons toelaat dat politiekekorrektheid die absolute standaard word. As eks-gays deel ons dieselfde stories – stories wat hoop bring vir die land! Ek vertrou dat hierdie skrywe nugtere denke met ʼn oop gemoed onder ons almal sal bevorder.

Hartlike groete,

André Bekker

Stigter van Voice of the Voiceless Advocacy


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.