-deur Geopende Deure

Die gesigte van vervolgde Christen-vroue oor die hele wêreld vertel ’n persoonlike verhaal: een van vrees en pyn. Bowenal vertel hulle ons van die vroue se hoop, vreugde en vrede in Christus. Leonie se getuienis is ’n voorbeeld van wat dit kos om tradisie te verwerp en Jesus te kies. Leonie is ’n weduwee uit die oostelike deel van die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Haar man was ’n pastoor van ’n kerk in Bangassouw. Ondanks die feit dat hulle al twee uit families kom wat tradisionele rituele onderhou, het Leonie se man gepreek teen Christene wat die rituele onderhou. Hy kon nie voorsien hoeveel hartseer dit sy vrou later op die hals sou haal nie.

Verwerping van gebruike
Die gebied waar Leonie en haar man gewoon het, is erg deur die Seleka-aanvalle geraak. Haar man se liggaam was afgetakel weens die stres en dit het ongelukkig gelei tot sy afsterwe. Leonie is alleen agtergelaat terwyl sy swanger was met hulle sesde kind. Ná sy dood het Leonie teruggekeer na haar man se tuisdorpie vir hulp om na die kinders om te sien. Weens haar geloof het sy nie haar kop geskeer nie en ook nie die gebruiklike rouklere aan-getrek nie.

Tradisionele Afrika-rituele
“My aankoms was rampspoedig! My skoonsuster het my kliphard uitgeskel oor my voorkoms,” onthou Leonie. As ’n weduwee was sy veronderstel om ’n hele klomp rituele te onderhou. Sy moes onder meer vir ’n jaar dieselfde klere dra, ’n rituele bad neem, geen mans groet, of eet as haar skoonfamilie nie teenwoordig is nie. Sy moes ook toelaat dat haar skoonouers vir al haar behoeftes betaal terwyl sy wag dat ’n huwelik met ’n ander familielid gereël word. Sy het geweier om daaraan deel te neem en gekies om die pad saam met Jesus te stap.
“Toe ek [later] vir my skoonsuster sê dat ek nie met haar seun gaan trou nie, het sy belowe om die lewe vir my moeilik te maak. Sy het gesê: ‘My broer het jou bruidsprys betaal. Toe dit goed gegaan het, het jy saam met hom geëet, maar nou weier jy om oor hom te treur!'”

Niemand om haar te steun nie
Daar was niemand om Leonie te ondersteun nie en omdat haar skoonfamilie bang was dat die voorvaders hulle sou vervloek, het dit haar lewe nog moeiliker gemaak. Die situasie het ondraaglik geword en uiteindelik het Leonie en haar kinders na Bangassouw teruggekeer. Deur die plaaslike kerk kon Geopende Deure help om ’n huis vir haar te huur. Sy het later begin om brandhout en ook seep wat plaaslik gemaak word, te verkoop sodat sy die huur kon betaal en vir haar gesin sorg.

Geopende Deure bied ’n helpende hand
“Dit is nie vir my ’n opsie om tou op te gooi nie, al is dinge nie maklik nie. Ek dank die Here vir die Kerk wat my ondersteun. Ek sal Jesus nooit verlaat nie.” Geopende Deure ondersteun Christen-weduwees en hul kinders, soos Leonie, wat vir hulle geloof verstoot word en herinner hulle dat selfs al word hulle vervolg, is hulle nooit alleen nie.

Om ’n skenking te maak aan Geopende Deure se projekte wat weduwees en hul kinders
ondersteun, gebruik asseblief die bankbesonderhede hier onder.

Geopende Deure | Nedbank | Takkode 198765
Rekeningnommer: 113 750 4552 (Besigheid) Verwysingsnommer: JA1909

Geopende deure | Absa | Takkode: 632005
Rekeningnommer: 160 340 568 (Lopende) Verwysingsnommer: JA1909


VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsluitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.