Deur Donnelly McCleland
Bron: incontextinternational.org

Strydende partye in Jemen volvoer geskiedkundige uitruiling van gevangenes

Die Houthi-rebelle in Jemen het verlede Sondag aangedui dat hulle gereed is om alle gevangenes met die Jemenitiese regering uit te ruil. Dít slegs twee dae ná ’n omvangryke uitruiling tussen die twee strydende partye plaasgevind het.

Meer as 1 000 gevangenes, waaronder 15 Saoedi’s, is in die grootste uitruiling van dié aard gedurende die konflik wat reeds vyf jaar lank duur, uitgeruil. Die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis (IKRK) het die proses gefasiliteer.

Martin Griffiths, die Verenigde Nasies se spesiale gesant vir Jemen, het aan die veiligheidsraad gesê dat dié uitruilings ’n “brug van hoop” is. Hy het bygevoeg dat onderhandelings oor ’n permanente skietstilstand tussen die partye, steeds onderweg is – hy hoop dat die partye vóór die einde van die jaar tot die voorwaardes sal instem.

Jemen word sedert 2014, toe Houthi-rebelle ’n groot deel van die land (insluitend die hoofstad Sanaa) verower het, deur oorlog geteister. Toe magte van ’n koalisie (onder aanvoering van die Saoedi’s) in 2015 ’n vernietigende veldtog van lugaanvalle geloods het om gebiede uit Houthi-besetting te bevry, het die krisis verdiep.

Daar word geskat dat meer as 110 000 Jemeniete, wat burgerlikes insluit, in die konflik dood is – dít het tot die wêreld se grootste humanitêre krisis gelei met miljoene mense wat hongersnood in die gesig staar.

Vanuit ’n Christelike perspektief

Hierdie uitruiling van gevangenes is uiters belangrik – dit hou groot belofte in vir dié oorloggeteisterde land. Die Stockholm-ooreenkoms wat twee jaar gelede tussen die strydende partye aangegaan is, maar nog nooit volledig geïmplementeer is nie, het beoog dat bykans 15 000 krygsgevangenes binne die bestek van ’n maand vrygelaat sou word.

Die uitruil van net meer as 1 000 gevangenes het tot ’n groot mate daartoe bygedra om vertroue tussen die strydende partye te herstel. Jemenitiese verhoudings word deur wantroue geteister en hierdie uiters ingewikkelde operasie, wat noukeurig deur die IKRK gefasiliteer is, het die vertroue wat nodig is om al die partye na die onderhandelingstafel te laat terugkeer, herstel.

Die uitruiling het ’n weg vir die strydende partye gebaan om maniere te vind om die lyding van Jemen se bevolking te verlig en ’n skietstilstand te heroorweeg. Die feit dat die fasilitering deur die IKRK behartig is en nie deur die Moslem-eweknie, die Rooi Halfmaan nie, is ook ’n deurbraak, aangesien Moslems die simbool van die kruis afstootlik vind.

Die IKRK se teenwoordigheid tydens hierdie gebeure is terselfdertyd ’n tasbare bewys van die Kerk se gebede vir Jemen – dat hulle Christus, wat gekom het om die gevangenes uit die geestelike duisternis te bevry, as hulle Verlosser sal erken. The Joshua Project beraam dat 99,7% van Jemen se bevolking Moslems is (waarvan 65% Soenni-volgelinge en 35% Sjia-volgelinge is), met slegs 0,2% Christene.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat die herinneringe aan en die teenwoordigheid van die Rooi Kruis-fasiliteerders ’n “aangename geur” sal wees wat mense sal aanspoor om hulle geloof (Islam) te bevraagteken en na die Vredevors te soek;
  • dat die gemeenskap van gelowiges die fisiese voorbeeld van gevangenes wat vrygelaat word, sal gebruik om met vrymoedigheid geestelike waarhede aan soekendes mee te deel; en
  • dat die Here hierdie brose, herstelde vertroue sal gebruik om vredesonderhandelinge te bevorder, bestendigheid te verseker en die lyding van duisende mense te verlig.

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie


25 Oktober 2020

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.