Deur Donnelly McCleland
Bron: incontextinternational.org

Hernude betogings in Tunisië ná die dood van ’n betoger

Betogers het weer die strate van Sbeitla, Tunisië, ingevaar toe daar berig is dat ’n jong man wat verlede week tydens skermutselings beseer is, in die hospitaal beswyk het.

Haykel Rachdi het aan die landswye betogings deelgeneem om die tiende herdenking van die Tunisiese rewolusie te vier. Dié rewolusie het demokrasie ingelui en opstande dwarsoor die streek, bekend as die Arabiese Lente, tot gevolg gehad.

Dit wat Tunisië bereik het deur ’n begin te maak aan politieke en maatskaplike transformasie, is nie deur gepaardgaande ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling vergesel nie. ’n Ingewortelde stelsel wat korrupsie bevorder, of politieke wedywering in die parlement wat menige regerings gepootjie het, is hiervoor geblameer. (Die afgelope tien jaar het Tunisië twaalf regerings gehad.)

Sporadiese burgerlike onrus in Tunisië is niks nuuts nie, maar met elke jaar wat verloop, neem die frustrasie oor ’n steeds groeiende lys van klagtes toe – van die verswakkende ekonomie tot die gebrek aan groter hervorming en ontwikkeling. Beperkende gesondheidsmaatreëls, om die verspreiding van COVID-19 te bekamp, ​​het ook die krisis verdiep en frustrasie laat toeneem. Die jongste onluste het hoofsaaklik in digbevolkte en minderbevoorregte gebiede plaasgevind waar die verhouding tussen jongmense en die polisie tradisioneel gespanne is.

Vanuit ’n Christelike perspektief

Tunisië word dikwels in wêreldse terme as een van die “suksesverhale” van die Arabiese Lente voorgehou; ’n mate van vooruitgang ten opsigte van die regte van godsdiensminderhede (soos Christene) het inderdaad plaasgevind.

Ná die omverwerping van Ben Ali se sekulêre regering van 23 jaar in 2011, het die gematigde Islamitiese party En-Nahda, geïnspireer deur die Moslem-broederskap in Egipte, egter ’n meer Moslem-georiënteerde Tunisië saam met die land se demokratiese oorgang begin propageer.

Daarom verklaar die hersiene grondwet van 2014: “Tunisië is ’n vry, onafhanklike, soewereine staat; sy godsdiens is Islam, sy taal is Arabies en sy politieke stelsel is republikeins. Hierdie artikel mag nie gewysig word nie.”

Vir ’n land om uitdruklik te verklaar dat daar slegs een amptelike godsdiens is, stel die regte van godsdiensminderhede in gevaar. Vervolging van Christene in Tunisië word dalk nie aan die groot klok gehang nie, maar dit is wel ’n werklikheid, met die gevolg dat baie gelowiges hulle geloof geheim hou. Christene wat Islam versaak, het die meeste om te vrees – dikwels van hulle familielede en die gemeenskap waarin hulle leef. Ondanks hierdie bekende druk, bekeer baie wat deur die regering en Islam ontnugter is, hulle tot geloof in Christus.

Die geleentheid om Tunisiërs met behulp van tegnologie met die Evangelie te bereik, is steeds daar – veral in hierdie tye van onrus, waar geloof in die geheim gevoed kan word en groei. Een van die gevare wat die Kerk in Tunisië tans in die gesig staar, is dat jong gelowiges, op soek na beter ekonomiese vooruitsigte, na Europa en ander Westerse lande gelok kan word en sodoende die Christelike getuienis in Tunisië en die streek, verswak. (Werkloosheid onder die jeug het tot 36% gestyg, vergeleke met die nasionale gemiddeld van 15%).

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat die regering van Tunisië konstruktief op hulle burgers se pleidooie sal reageer;
  • dat die Evangelie wyd verkondig sal word in Tunisië en die Here gelowiges, wat kies om vervolging in die gesig te staar deur hulle geloof in en hoop op Christus aan soekende gesinslede en naastes te deel, sal beskerm; en
  • dat jong gelowiges die Here se wil vir hul toekoms sal soek – of hulle in Tunisië moet bly al dan nie.

2 Februarie 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.