21 Mei 2019

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Sondag ’n sterk waarskuwing aan Iran gerig wat daarop dui dat, as die Islamitiese republiek Amerikaanse belange sou aanval, dit vernietig sal word.

“As Iran wil veg, sal dit die amptelike einde van Iran wees. Moet nooit weer die Verenigde State dreig nie,” het Trump in ’n twiet gesê.

Spanning tussen Washington en Teheran is aan die toeneem, aangesien die Verenigde State vliegdekskepe en B-52-bomwerpers in die Persiese Golf ontplooi het weens die “Iranse dreigemente”.

Iran se minister van buitelandse sake het die moontlikheid van ’n oorlog in die streek afgemaak en gesê Teheran is daarteen gekant.

Die verhouding tussen Iran en Amerika het verlede jaar ’n laagte punt bereik, toe pres. Trump Amerika onttrek het uit ’n kernwapenooreenkoms wat in 2015 bereik is, en weer sanksies ingestel het. Dit het gevolg omdat Teheran nie sy deel van die ooreenkoms nagekom het deur sy kernprogram af te skaal nie.

Pres. Trump se waarskuwing het gekom net nadat ’n Katyusha-missiel in Bagdad se Groen Sone neergestort het. Die Groen Sone is waar regeringskantore en ambassades geleë is.

Die missiel is afgevuur nadat Washington beveel het dat alle diplomatieke personeel wat nienoodsaaklike dienste lewer uit die Bagdad-ambassade en die Erbil-konsulaat ontruim moet word. Amerika het die stappe geneem, weens die bedreiging van Irakse gewapende groepe wat deur Iran gerugsteun word.

Die oënskynlike aanval het gebeur te midde van verhoogde spanning in die Persiese Golf nadat die Wit Huis vroeër vandeesmaand oorlogskepe en bomwerpers in die streek ontplooi het om die bedreiging van Iran teen te werk.

Daar is ook bewerings dat vier olietenkskepe verlede week langs die kus van die Verenigde Arabiese Emirate gesaboteer is, en dat rebelle in Jemen, wat bande met Iran het, verantwoordelikheid aanvaar het vir die aanval op ’n Saoedi-Arabiese oliepyplyn.

Irak is die tuiste van magtige pro-Iranse militêre groepe, terwyl daar terselfdertyd ook meer as 5 000 Amerikaanse troepe in die gebied is.


Bron: timesofisrael.com

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.