Deur: Donnelly McCleland
Bron: incontextinternational.org

Tanzanië se eerste vrouepresident ingehuldig na die skielike afsterwe van president Magufuli

Duisende mense, waaronder verskeie Afrika-presidente, het op Maandag 22 Maart die begrafnis van wyle Tanzaniese president John Pombe Joseph Magufuli bygewoon. Die pas aangestelde president van Tanzanië, Samia Suluhu Hassan, het begrafnisgangers in die hoofstad Dodoma voorgegaan om hulde aan mnr. Magufuli te betoon.

Me. Hassan het op 17 Maart die dood van die vyfde president van Tanzanië aangekondig. Hy is op 61-jarige ouderdom onverwags aan hartkomplikasies oorlede nadat hy meer as twee weke lank nie in die openbaar gesien is nie. Daar is bespiegel dat die werklike oorsaak van sy dood COVID-19-verwant is, maar dit is amptelik ontken.

Me. Hassan is as president ingesweer om mnr. Magufuli se tweede termyn, wat tot 2025 duur, te voltooi. Dit maak haar die land se eerste vroulike staatshoof. Kommer oor ’n grondwetlike vakuum wat op die skielike heengaan van mnr. Magufuli gevolg het, is uit die weg geruim met die spoedige inswering van me. Hassan.

In haar eerste toespraak het sy In ’n emosionele huldeblyk aan haar voorganger ook Tanzaniërs aangemoedig om vreedsaam en in eenheid te bou aan “die nuwe Tanzanië waarna president Magufuli gestreef het”. Hoewel mnr. Magufuli soms omstrede was, het hy baie steun onder Tanzaniërs en Afrika-leiers geniet en me. Hassan het haar voorneme uitgespreek om voort te bou op dít wat hy begin het.

Mnr. Magufuli is geprys dat hy voorkeur aan beleggings in infrastruktuurprojekte gegee het. Hy is ook geloof vir sy sterk standpunt teen korrupsie. Sy besluit om Tanzanië se ekonomie te beskerm, selfs toe baie regerings verlammende inperkings afgedwing het tydens die koronavirus-pandemie, het na bewering die land se ekonomie in ’n goeie toestand gelaat ten tyde van sy heengaan. Me. Hassan staan voor die uitdaging om haar spesifieke leierskapstyl te vestig terwyl sy haar land se vertroue probeer wen as hul eerste vroulike president.

Vanuit ’n Christelike perspektief

Mnr. Magufuli was ’n onbeskaamde Christenleier, wat nooit weggeskram het om sy afhanklikheid van gebed en vertroue op God te benadruk nie. Alhoewel hy internasionaal gekritiseer is oor sy hantering van die COVID-19-pandemie – wat grotendeels die internasionale (veral Westerse) inperkingsmaatreëls teëgestaan het – het hy sy land, met ongeveer 51% belydende Christene, aangespoor om ‘God eerste te stel’.

Terwyl die Tanzaniese Kerk treur oor die verlies aan ’n geliefde Christen ‘vaderfiguur’ – wat in die oë van sommige hul ‘verdediger’ was en steeds ’n rol moes vervul en nou te vroeg heengegaan het – kan die Kerk vertroosting vind in die wete dat sy krag en veiligheid nie van enige menslike leier afhanklik is nie.

Mag die Kerk God waarlik ‘eerste stel’ terwyl hul na hul werklike leier en herder, Jesus Christus, kyk, wat verewig en algenoegsaam is. Mag die Kerk ook saamstaan in hul steun aan die nuwe president. Alhoewel sy nie ’n Christen, soos mnr. Magufuli, is nie, beskik sy oor ’n leierskapstyl wat positief kontrasteer met sommige van mnr. Magufuli se swakpunte. Mnr. Magufuli het byvoorbeeld beleid deurgevoer ondanks teenkanting en was onverdraagsaam teenoor meningsverskille, wat gelei het tot die onderdrukking van die media, burgerlike samelewing, asook die opposisie.

Daar word beweer dat me. Hassan meer ag slaan op advies en nie eensydige besluite neem nie. Dit is tans moeilik om te voorspel of Tanzanië by haar leierskap sal baat, maar vanuit ’n Christelike perspektief weet ons as Christene dat God leiers vir spesifieke “seisoene” aanstel. Die Kerk moet intree dat God se planne en voornemens vir Tanzanië, deur die leiding van me. Hassan wat goddelike wysheid nodig het om sleutelareas soos die koronavirus-pandemie, die ekonomie en korrupsie aan te pak, vervul sal word.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid vir ’n vreedsame leierskapsoorgang wat deur Tanzaniërs aanvaar en ondersteun sal word, asook ’n stabiele politieke omgewing, veral binne die regerende Chama Cha Mapinduzi-party (CCM)
  • dat die verwagte veranderinge onder die nuwe leierskap deur die Here gelei sal word en dat sy wil vir Tanzanië sal geskied
  • dat die gees van gebed en vertroue op God, wat deur mnr. Magufuli in die openbaar verkondig is, nie geblus sal word na sy dood nie.

26 Maart 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.