Deur die Afrikaanse Taalmuseum en –monument (ATM)
Bron: Artikel verskaf

Hoe knap kan jy vanuit Engels na Afrikaans vertaal? Want die tiende ‘Skerpskryf in Afrikaans’ – ’n skeppende skryfkompetisie vir graad 7-, 10-, 11- en 12-leerders van Drakenstein – is die perfekte plan vir maklike kontant in die hand. Inskrywings is boonop gratis, dus deelnemers kan net wen.

Die kompetisie word aangebied deur die Hugenote Gedenkskool in Dal Josafat in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl. In 1883 was die gedenkskool die eerste skool in Suid-Afrika waar Afrikaans amptelik as onderrigmedium aangewend is.

Deelname is maklik en tot voordeel van elke leerder wat in Afrikaans skryf. Die finaliste en hul onderwysers sal genooi word na ʼn prysoorhandiging by die Hugenote Gedenkskool op Saterdag, 23 Oktober 2021, waar hulle ook sal deelneem aan ’n werksessie met bekende skrywers, joernaliste en blogskrywers oor die vele aspekte van skryf in Afrikaans.

Daar is twee kategorieë, een vir alle Graad 10-, 11- en 12-leerders in Drakenstein en een vir graad 7-leerders van landelike skole in Drakenstein. Deelnemers moet een van die verskafte Engelse leesstukke wat oor woordeboeke handel kies en dit na Afrikaans vertaal. Hulle word aangemoedig om (aanlyn)woordeboeke te gebruik om op ʼn skeppende wyse die beste woorde en sinsbou vir die vertaling aan te wend.

Leerders én skole kan ʼn hele paar pryse wen, so sit skouer aan die wiel! 

Die algehele hoërskoolwenner kry R1 000 kontant asook ’n R1 000-koopbewys vir Afrikaanse boeke. Die twee wenners in die skeppende en taalkundige afdelings wen elk R500 kontant asook ’n R500-koopbewys vir Afrikaanse boeke. Die drie wenners se skole ontvang ook elk ’n koopbewys van R500 vir Afrikaanse boeke. Die algehele laerskoolwenner kry R500 en die eerste twee naaswenners R300 en R200 elk. Al drie wen ook ’n boek as prys. Die persone wat die wen-inskrywings aangemoedig het sowel as die onderwysers wat die meeste inskrywings instuur, ontvang elk R500.

Leerders kan by hul Afrikaansonderwysers uitvind hoe om in te skryf of op www.taalmonument.co.za kyk. Wenners van die vorige jare kan weer inskryf, maar sal nie in aanmerking kom vir pryse nie. Inskrywings moet teen 20 Augustus 2021 ingehandig word by Janine Brown in die Taalmuseum te Pastorielaan 11, Paarl. Vir navrae en elektroniese inskrywings, kontak haar op 021 872 3441 of opvoeding@taalmuseum.co.za


11 Junie 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.