Oorspronklik gepubliseer in Charisma News

9 Julie 2019

Die seremonie om Werner, Jean-Pierre en Rode Groenewald in te sluit by die Martyrs Memorial in Bartlesville, Oklahoma, is verlede Saterdag regstreeks oor die internet uitgesaai as deel van die Day of the Christian Martyr.

Werner, Hannelie en hul twee kinders – Jean-Pierre en Rode – het hul gemaklike lewens in Suid-Afrika agtergelaat om ná 9/11 as sendelinge in Afghanistan te gaan werk. Hulle het die Afghaanse mense langer as tien jaar gedien – Hannelie as ’n dokter en Werner met leierskapontwikkeling en humanitêre hulp. Op 29 November 2014 het die Taliban hulle huis aangeval en Werner, Jean-Pierre en Rode vermoor. Hannelie was nie tydens die aanval tuis nie.

“Die Groenewald-gesin het op die Here se roeping gereageer ondanks al die gevare,” het Voice of the Martyr (VOM) se Todd Nettleton gesê. “Hulle het geweet wat die gevare in Afghanistan is, maar hulle was meer besorgd oor mense wat Christus nog nie ken nie as oor hulle eie veiligheid of gerief. Ek hoop dat my kleinkinders en agterkinders eendag die Groenewalds se name op die gedenkteken sal sien en geïnspireer sal word deur hul gewillige, selfopofferende diens aan die Here.”

Die Groenewalds se verhaal sal ingesluit word by ’n nuwe, opgedateerde uitgawe van Foxe’s: Voices of the Martyrs wat vanjaar deur Salem Books uitgegee sal word. Die boek is ’n moderne weergawe van die klassieke Foxe’s Book of Martyrs, wat Christene geslagte lank geïnspireer het met verhale van dié wat gewillig vir die Naam van Christus gely en gesterf het.

Die Martyrs-gedenkteken is in The Voice of the Martyrs-bedieningsentrum in Bartlesville, Oklahoma, geleë. VOM is ’n organisasie sonder winsmotief wat vervolgde Christene in meer as 70 nasies bedien.

Jy kan na die Groenewalds se volledige storie kyk by www.persecutionsa.org.

Vir meer inligting oor The Voice of the Martyrs SA, besoek www.facebook.com/cmivomsa.

Foto: Werner en Hannelie Groenewald, (INcontext Ministries).


Bron: gatewaynews.co.za

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.