Deur: Donnelly McCleland
Bron: incontextinternational.org

Soedan het Dinsdag, 27 Junie goedkeuring van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank ontvang vir meer as $56 miljard se skuldverligting en $2,5 miljard se finansiële hulp.

Die $2,5 miljard sal oor drie jaar versprei word. Soedan het in aanmerking gekom vir die IMF se inisiatief vir Highly Indebted Poor Countries (HIPC) vir arm lande wat groot ’n groot skuldlas het. Dit volg op die Soedannese regering se poging om ekonomiese hervormings deur te voer, insluitend die opheffing van staatsubsidies op brandstof.

Die opheffing van brandstofsubsidies het wydverspreide protesaksie ontlok, maar was nodig vir Soedan om vir die IMF-program te kwalifiseer. Soedan moes ook eers verseker dat hy van Amerika se lys van regerings wat terrorisme borg, verwyder word om vir die hulp in aanmerking te kom.

Soedan het verlede jaar hierin geslaag nadat die land vergoeding aan die slagoffers van terreuraanvalle aangebied het. Volgens Susan Baker, aan die hoof van die IMF se missie na Soedan, sal Soedan se nasionale skuld van meer as $50 miljard tot ongeveer $30 miljard verminder word met die aanvanklike toetrede tot die program. Ná drie jaar sal dit verder verminder word tot ongeveer $6 miljard.

Die addisionele finansiering van $2,5 miljard sal toegeken word om armoede te bestry en om ekonomiese COVID-hulpprogramme van die grond af te kry. Ongeveer $1,4 miljard van die hulp sal onmiddellik gelewer word en die res sal oor die volgende 39 maande versprei word – mits Soedan die nodige hervormings deurvoer.

Soedan het in ’n diep ekonomiese resessie verval as gevolg van skuld wat agterstallig geraak het nadat die voormalige president Omar al-Bashir in 2019 ontsetel is, asook weens dekades van sanksies. Inflasie was erg (amper 400%) en daar was voedsel- en brandstoftekorte. Om sy HIPC-kwalifikasie te handhaaf, moet Soedan voortgaan om te bewys dat hy oor die vermoë beskik om ekonomiese stabiliteit te bevorder en regeringshervormings te implementeer deur die finansiering te gebruik om armoede te bekamp en sosiale toestande te verbeter. Hy moet ook die res van sy nasionale skuld getrou delg.

Vanuit ’n Christelike perspektief

Ondanks die huidige ekonomiese onsekerhede in Soedan en die blywende bedreiging van vervolging in baie gebiede, het die Christelike bevolking (ongeveer 5%, volgens Joshua Project) die afgelope jaar ’n paar oorwinnings behaal.

Sedert al-Bashir uit die kussings gelig is, is daar meer godsdiensvryheid in die land. Gelowiges vanuit ’n Moslem-agtergrond staar nie meer die doodstraf in die gesig nie en die vlak van vervolging het oor die algemeen afgeneem. Soedan het weens die verbeterings ses plekke op die Wêreldwaarnemingslys, wat deur Geopende Deure gepubliseer word, gedaal.

Volgens ’n kontak van INcontext in die gebied, het die aanvaarding van Soedan in die internasionale gemeenskap die potensiaal om nuwe geleenthede vir die internasionale Kerk en die sendinggemeenskap te skep om na die 24,7 miljoen “onbereikte” mense in Soedan uit te reik.

Die ekonomiese hervormings sal na verwagting egter ook beteken dat die bevolking gaan swaarkry, aangesien die IMF se streng regulasies die land sal dwing om sy ekonomiese praktyke te herstruktureer. Gelowiges is nie immuun teen die fisiese en ekonomiese uitdagings wat die res van die bevolking in die gesig staar nie. Die wêreldwye Liggaam van Christus kan juig en die Here dank vir die deurbrake in Soedan die afgelope twee jaar, maar terselfdertyd gebruik maak van die nuwe geleenthede om die plaaslike Kerk te ondersteun.

Mag hierdie ondersteuning deur middel van hulpbronne en gebed, tot ’n groter verspreiding van hoop, vrede en uiteindelik die evangelie, gedurende hierdie oorgangstyd, lei.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat die Soedannese regering die geld verstandig sal aanwend om meer stabiele toestande te bewerkstellig;
  • dat die wêreldwye Kerk sal aanhou bid vir Soedan en die Here sal dank vir die deurbrake wat reeds plaasgevind het, sowel as dié wat nog gaan kom; en
  • dat die plaaslike kerk die beste sal maak van die nuutgevonde geleenthede om diegene wat nie met die evangelie bekend is nie, daarmee te bereik.

9 Julie 2021

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.