Ons moet egter onthou dat die vervolgde Kerk nie ’n verslane Kerk is nie, maar dat dit oorwin en uiteindelik seëvierend sal wees.

Lyding, teistering, gevangenskap, vrees of pyn is alles komponente van vervolging, maar daar is ’n gevaar dat alle vorme van teenkanting as “vervolging” beskou kan word. Dit kan ’n slagoffermentaliteit skep, wat nou ongelukkig redelik algemeen onder Westerse Christene voorkom. Jesus het Homself nooit as “vervolg” of as ’n slagoffer beskou nie. Gelowiges in die vroeë Kerk ook nie. Die apostels het hulle lyding as ’n vreugde (Heb 12:2) en ’n voorreg beskou (om deel te hê aan die lyding van Christus).

‘Dit is waarvoor ons geroep is’
Pastoor Labib Madanat het na ‘n aanval op die Bybelgenootskap in Palestina gesê: “Die dood – ons moet dit die een of ander dag trotseer. Dit is onafwendbaar. Maar die angel van die dood is verbreek deur die kruis van Jesus, deur die liefde van Jesus Christus. Ek weet dit is baie moeilik vir die Kerk wêreldwyd om toe te kyk hoe ander Christene geteister, gedreig en vervolg word. En daarom wil hulle tot die familie se redding kom … Maar ons moet versigtig wees. Moet ons nie van die moed beroof wat Christus ons gee nie. Staan saam met ons om al hoe sterker in hierdie moed te word. Moenie enige teken van selfbejammering versterk nie …”

‘Om vir Hom te ly’
Paulus het homself nooit as ‘n slagoffer van ‘n vyandige samelewing gesien nie. Hy het die noodsaaklikheid verstaan om nie net in Jesus te glo nie, maar ook om vir Hom te ly:
• Filippense 1:29: “God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.”
• Kolossense 1:24: “Nou verbly ek my in my lyding …”
• Filippense 2:17: “Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly.”
Uittreksel uit die artikel “Understanding persecution” deur Mike Burnard, die voormalige direkteur van INcontext International.

Is jy gereed vir vervolging?
Miskien kom daar vervolging vir ons almal; daar is geen beter verwysing as Handelinge 4:13-31 nie. Die Christene het enkele weke tevore gesien hoe hul Verlosser gely het en was op die punt om self ernstig vervolg te word, maar hulle was gereed. Hier is vyf lesse wat ons by hierdie dissipels kan leer.
Vervolging openbaar die mens se blindheid.
Kajafas het twee opsies gehad: erken dat hy God doodgemaak het of word verder blind en ontken die voor die hand liggende waarheid. Handelinge 4:16-17 toon dat hy laasgenoemde gekies het.

Vervolging dwing jou om op God se soewereiniteit te vertrou
Petrus en Johannes was vreesloos. Hulle het nie omgegee wat die gevolge was nie. Hulle het geweet die Here kon die situasie wegneem as Hy wou.

Vervolging dwing jou om in die Hemel te hoop
Of dit nou Daniël in die leeukuil is of die apostels, almal herken een ding; Niks is die moeite werd om aan God ongehoorsaam te wees nie. Soos Jesus in Matteus 16:26 gesê het: “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld wen en sy siel verbeur? Of wat sal iemand gee in ruil vir sy siel?” As of wanneer vervolging kom, sal dit ‘n geleentheid vir Christene wees om werklik die ewigheid van waarde te skat, eerder as hierdie lewe.

Vervolging laat jou die Kerk waardeer
Vervolging herinner ons daaraan dat die beste ding wat ons kan doen, is om ons met ander gelowiges te omring wat daar sal wees om ons aan te moedig wanneer die tye swaar is.

Vervolging leer jou om beter te bid
Die dissipels erken die feit dat hulle dit nie sonder die Here se hulp kan doen nie. Hulle gebed is verstommend. Hulle bid in Handelinge 4:29-30, en vra die Here om kennis te neem van die bedreigings. Hulle vra egter nie dat die Here dit moet verwyder nie, maar eerder om hulle groter moed te gee. Ons gebede brei dus uit van die eenvoudige “Here verwyder dit van my” tot gebed dat God ons in staat sal stel om Hom deur die vervolging te verheerlik – dat hierdie beproewing ons nie net sal laat groei nie, maar ander gelowiges sal aanmoedig en selfs ongelowiges na Hom sal lei.
Ons moenie geskok wees as die wêreld Christus haat en ons gevolglik haat nie (Johannes 15:18), maar ons moet gereed wees vir vervolging sodat ons ons Verlosser kan behaag met ons gehoorsaamheid en hemelse gesindheid.

WAT KAN ONS DOEN?
• Lig jouself in oor die werklikhede van vervolging. Voice of the Martyrs, Geopende Deure en Barnabas Fund is drie bedienings wat diepgaande en akkurate inligting oor vervolging bied. Hul webwerwe is uitstekend!
• Bid vir die vervolgdes!
• Skryf aan die vervolgdes (sien Geopende Deure).
• Evangeliseer die vervolgers. Bid dat die vervolgers hulle tot Jesus sal bekeer. Jy kan deelneem aan die pogings om vervolgers te evangeliseer deur finansieel te gee aan sendingpogings.

Uittreksel uit “Are you ready for persecution?” met toestemming van Jordan Standridge www.standridge.org


13 Junie 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.