Deur: Donnelly McCleland | INcontext International
Bron: incontextinternational.org

Poetin geniet sterk steun in omstrede Russiese hervormingsverkiesing
Bykans 78% van Rusland se kiesers het meer as 200 wysigings aan die Grondwet goedgekeur, insluitend ’n wysiging wat die huidige president, Vladimir Poetin, in staat stel om tot 2036 aan bewind te bly.

In die week lange verkiesing, wat op 1 Julie geëindig het, het 77,9% van die kiesers ten gunste van die grondwetlike wysigings gestem en 21,3% daartéén. Meer as 65% van die bevolking het aan die verkiesing deelgeneem, met die grootste steun uit die Krim, Tsjetsjnië en Noord-Koukasië.

Die hervormings wat goedgekeur is, behels onder meer die verbod op gay huwelike, die verwysing na Rusland se “geloof in God”, verhoging van die minimum loon en ’n verbod op die bekleding van hoë poste deur amptenare met buitelandse paspoorte of buitelandse burgerskap.

Die ingrypendste verandering aan die Grondwet is egter die bepaling dat die president nie meer as twee ses-jaar termyne in sy amp mag dien nie. Poetin se vorige termyne sal egter nie teen hom tel nie – met ander woorde hy kan in beginsel tot 2036 aan bewind bly. Poetin, wat die afgelope 20 jaar óf as eerste minister óf as president gedien het, is sedert Joseph Stalin, in die moderne geskiedenis die Russiese leier wat die langste aan bewind is. Golos, ’n onafhanklike Russiese groep wat verkiesings monitor, het die uitslae gekritiseer en daarop gewys dat teenstanders verbied is om die media gedurende verkiesingsveldtogte te gebruik. Die groep het ook gesê dat daar onregmatighede met die elektroniese stemmery was en dat verkiesingsmonitors deur ’n staatsinstelling aangewys is.

Vanuit ’n Christelike perspektief
Dit sal ’n ruk lank neem om te sien hoe die grondwetlike wysigings die kerk en gelowiges sal beïnvloed. Sedert die val van stoere kommunistiese ateïsme, het die beeld en posisie van die kerk in Rusland onder Poetin se leierskap geweldig verbeter – veral dié van die Russies-Ortodokse Kerk, wat nóú verbonde is aan die Russiese identiteit.

Gelowiges wat nie die Ortodokse geloof aanhang nie, is egter wantrouig. ’n Anonieme bron het verduidelik dat daar in die laat negentigs baie vryhede en regte bekom is, maar dat die regering dit stelselmatig begin “terugtrek” het deur beperkings in te stel. Byvoorbeeld: Daar mag nie sonder toestemming op straat gepreek word nie, daar word op geboue beslag gelê, staatsgoedkeuring moet verkry word om nuwe geboue op te rig, ens.

Volhardende gebed vir die regering en die leierskap bly van kardinale belang, aangesien die wysigings die sosiale en ekonomiese toestand van Russiese burgers, (plaaslike gelowiges inkluis), kan beïnvloed.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat die Here vir Poetin en die grondwetlike wysigings sal gebruik om positiewe verandering in Rusland teweeg te bring;
  • vir beter geleenthede om die Evangelie te deel; en
  • dat gelowiges, ondanks beperkings deur die regering, aan hulle roeping getrou sal bly en dissipelskap met kreatiwiteit sal benader.

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Foto: REUTERS/SPUTNIK
10 Julie 2020

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.