-deur Will Maule

11 Julie 2019

Verlede Dinsdag het verpleegpersoneel Vincent Lambert (42), ’n kwadripleeg, se lewensonderhoudende toerusting begin ontkoppel ná ’n finale beslissing deur Frankryk se appèlhof. Die uitgerekte regstryd tussen Vincent se ouers en die Franse en Europese hofstelsel het nou tot ’n einde gekom.

Vincent se pa sê die hofbevel is “verskuilde moord”.

Pierre en Vivianne Lambert het Sondag hulpeloos toegekyk hoe dokters hul seun se water- en voedingsbuise begin verwyder het. Vincent slaap en word wakker, reageer op sekere stemme en kan volgens Reuters op sy eie sluk en asemhaal.

Die ouers het die hof se besluit “waansinnig” genoem en dring daarop aan dat Vincent nie breindood is nie, maar bloot “gestremd” is. Hulle wil hom na ’n spesiale fasiliteit verskuif.

“Dit is verskuilde moord; dit is genadedood,” het die 90-jarige Pierre aan verslaggewers gesê, berig die Guardian.

Lambert was voorheen ’n psigiatriese verpleegkundige wat ná ’n motorongeluk meer as ’n dekade gelede, in ’n vegetatiewe toestand is omdat hy ernstige breinskade opgedoen het.

Vroeg in Mei het die Verenigde Nasies (VN) se Komitee vir die Regte van Gestremdepersone beveel dat die Franse howe sowel as die Europese menseregtehof hul beslissing oor die weerhouding van Lambert se behandeling moet omkeer en sodoende dokters beveel om Vincent te voed en te hidreer terwyl die komitee die saak ondersoek.

Frankryk se belangrikste regsliggaam, die Cour de Cassation, het die appèl omgekeer. Vincent se stryd is skynbaar verby.

“Ek smeek julle, help ons,” het Viviane Lambert aan die VN se menseregteraad in Genève gesê tydens haar laaste appèl. “Sonder julle ingryping sal my seun weens sy verstandelike gestremdheid die genadedood ontvang. Vincent is nie vegetatief nie,” het sy bygevoeg. “Ek pleit by julle om in te gryp en die Franse reg te herinner aan sy verpligting om my seun nie te laat sterf nie.”

Vincent se vrou, Rachel, stem nie saam met haar skoonfamilie nie. Hy sou “nooit verkies om in hierdie toestand aan die lewe gehou te word nie,” het sy volgens die BBC gesê.

In Mei het pous Francis indirek na die saak verwys en getwiet dat dit belangrik is om “altyd die lewe – God se gawe – van die begin tot die natuurlike einde daarvan, te beskerm.”

“Gruwelik,” het pro-lewe-voorstander, Lila Rose, oor die saak getwiet. “Kos en water is basiese behoeftes. Om ’n pasiënt van honger of dors te laat sterf, is immoreel en barbaars.”

Daar was nog reaksie op Twitter:

 

“Daar is 1 700 mense in Frankryk in ’n soortgelyke toestand as Vincent Lambert, wie se lewens ook in die weegskaal is,” het ’n joernalis, Caroline Farrow, bygevoeg. “Ons mag mense nie doodmaak net omdat hulle gestremd is nie.”

Sy het daarop gewys dat Vincent “nie siek is, besig is om dood te gaan of naby die einde van sy lewe is nie, maar dat hy nietemin “geen kos of water ontvang nie net omdat hy ernstig gestremd is.”

Die ouers het ondersteuners bedank vir hul “vriendskap, liefde, ondersteuning en gebede deur die jare.”

“Daar is niks meer om te doen as om te bid en ons dierbare Vincent by te staan nie,” het hulle afgesluit.

Meer as 130 000 mense het ’n CitizenGo petisie onderteken waarin die Franse president, Emmanuel Macron, versoek word om in te gryp. Hy het egter geweier om op te tree en dring daarop aan dat dit ’n saak vir die dokters en howe is.

Bid vir die gesin in hierdie ongelooflike moeilike tyd.

*Ons het intussen verneem dat Vincent oorlede is.


Bron: faithwire.com

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.