Deur: ds. Willem Badenhorst geestelike leier: Moreletapark
Bron: Artikel verskaf

Die afgelope paar dae het hoofsaaklik winkelsentrums en sentrale besigheidsdistrikte van townships, dorpe en stede in KwaZulu Natal, dele van die Oos Rand, Oos-kaap en Mpumalanga deurgeloop onder plunderaars wat breek, steel, brandstig en gewelddadig raak.

Die staking aan dienste, skade, besoedeling en verwoesting beloop miljoene rande en lewensverlies eskaleer. Trokke word gebrand, paaie word versper o.a. in so mate dat noodvoorrade nie by hospitale kan uitkom nie, en in sommige gevalle word alle winkels met hul werknemers in ‘n dorp ontruim a.g.v. intimidasie en vrees vir geweld.

Daar was  ook gevalle van brandstigting by hospitale. Massiewe kospakhuise en algemene voedselhandelaars is  geteiken, Icasa rapporteer dat 113 netwerktorings gevandaliseer is, SAPREF petrolraffinadery het vir eers operasies gestaak, mediese voorrade word gesteel, ens. Die weermag is ontplooi om die polisie by te staan.

Ons roep almal op om te bid soos die Here jou lei teen hierdie geeste van oproer, rebellie (1Sam15:23), wetteloosheid, anargie, intimidasie, vrees (2 Tim 1:7), en vernietiging (Joh 10:10) en om God se Woord oor Suid Afrika te verklaar.

Gebedsriglyne wat jy kan gebruik:

  1. “Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys. Waarom sou die heidene kan sê: “Waar is hulle God nou?” (Psalm 115:1-2)

Hemelse Vader, ons verneder onsself voor U.  Ons het U nodig.  Help ons asseblief ter wille van U Naam. (Jak 4:7) 

  1. “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” (Romeine 12:19-21)

Vader, ons bely dat ons harte gevul is met woede en kwaadwillige gedagtes oor dit wat in ons land gebeur. Ons beoordeel, veroordeel en blameer en beskuldig mekaar eerder as om te bid soos U Woord ons leer.  Wys my U hart vir verlore mense. Heilige Gees, wys my die diep geestelike nood wat agter die plundering lê.  Wys my die heerlikheid van U vergifnis wat U uitstort op elke sondaar wat tot inkeer kom. Ek kies om hulle wat ons land so vernietig te vergewe, want ek weet dis die werk van die onsigbare bose magte. Ek seën dié misdadigers wat nou nog vyande is van die kruis is, met U liefde, redding, hoop, vergifnis en ‘n goeie, heilige lewe.  

  1. “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” (Matteus 5:9)

Here, ons bid vir taktiese en strategiese ontplooiing van polisie- en weermaglede in elke gebied waar daar onrus is en gaan wees, asook vir hul beskerming. Beskerm asb lede van die publiek wat ingetrek word by die geveg teen geweld. In die Naam van Jesus staan ons teen enige poging van die vyand om geweld te laat eskaleer en grootskaalse voedselnood verder te induseer.  Ons roep uit na U, Here, ons voorsiener om steeds te voorsien in elke persoon se lewensnoodsaaklike middele. Jahweh Sabaoth, U is die Here van die leërskare, ontplooi asb U hemelse engele skare regoor ons land om te veg, te beskerm en te versterk.  Prins van Vrede, openbaar Uself as die ware Vrede vir Suid Afrikaners by Wie ons kan skuil in tye van nood. Dankie dat ek ook ‘n vredemaker kan wees in U diens en ek spreek nou U vrede uit oor my huis, my omgewing, my stad en plekke wat verwoes is.  Here, gee tog spoedige herstel van dorpe, besighede, huishoudings, en lewens wat stukkend en in puin lê 

  1. Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.” (1 Timoteus 2:1-2)

Vader, ons bid dat die Gees van God van Pres. Ramaphosa besit sal neem en dat die vrees van die God van Israel hom sal rig.  Gee ‘n landswye ontbloting en erkenning van omkopery, voortrekkery, oneerlike wins, korrupsie en geheime agendas in alle sektore. Verwyder oneerlike bestuurders uit hulle poste. Here, reinig ook Christen politici en geestelike leiers in die sakewereld en die kerk, sodat hulle vreesloos standpunt kan inneem teen ongeregtigheid wat onderliggend tot al die oproer lê. Here Jesus, ontwortel asb alle goddelose strukture en ontwapen alle bose magte wat die strukture in plek hou.  Gee dat wetgewing daar gestel word wat Suid Afrikaners, en nie magsbeheptheid en selfverryking nie, voorop stel. 

  1. “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” (Efesiërs 6:12) “Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.” (Ps 94:19)

Vader, ek klee myself net weer met die Geestelike wapenrusting om my staande te hou teen die aanslag van die bose.  Ek onderwerp my gedagtes, emosies en wil aan U en U waarheid.  Beskerm asb vir my, my gesin, my buurt, stad, werkplek, verhoudings, en alles wat U aan my toevertrou het volgens Ps 91. Dankie dat U vurige engele ‘n muur rondom ons maak en U heerlikheid binne in ons soos ‘n helder lig skyn.  Skuif asb U wolk tussen ons en die Bose in soos U vir Israel gedoen het by die Rooi See. Ek gee nou vir u alle vrees, onsekerheid, twyfel, hooploosheid, en onstuimigheid binne in my en ruil dit vir U vrede, kalmte, rustigheid, liefde en die wete dat U in beheer is. Lei my in wysheid asb. U Woord sê geen wapen wat teen ons gesmee word sal iets uitrig nie. U planne vir Suid Afrika is goed, U roeping staan vas. Met my hande omhoog verklaar ek “Niks is vir u onmoontlik nie!” 

  1. “Van oos tot wes (in Suid Afrika)sal die Naam en die mag van die Here geëer word. Wanneer die teëstander aanstorm soos ‘n rivier, jaag die Gees van die Here hom op loop. Die Here kom na Sion (Suid Afrika) toe as Verlosser, na dié toe in Jakob wat hulle van hulle sonde bekeer. So sê die Here.” Jes 59:19-20

“Die redding wat Ek bring, kom baie gou, die verlossing wat Ek bewerk, is op pad, Ek self regeer oor die nasies (Suid Afrika).” Jes 51:5

“Daniel het gesê “Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan die wat insig het, wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig.”” Dan 2:20-22

“Mag daar vrede wees binne jou mure, (Suid Afrika), rus in jou wonings.” Ps 122:7

“Ek laat vrede oor jou regeer, Ek laat geregtigheid jou bestuur. Daar sal nie meer gehoor word van geweld in jou land nie, of van ondergang en verwoesting binne jou grense nie. Jy sal jou mure noem: Redding, jou poorte: Lof.” Jes 60:17b-18

“Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ‘n verterende vuur.” Heb 12:28

Kom ons proklameer hierdie Skrifgedeeltes (en ander beloftes wat die Here op jou hart lê in die Woord) oor ons omgewing, stad en land.

Praktiese wenke vir jou gebedstyd:

  • Stap of ry saam met jou gesin, vriende of kleingroeplede en bid in jou kompleks, woonbuurt, by ‘n winkelsentrum, of enige plek wat die Here op jou hart lê.
  • Gebruik saam nagmaal (brood en druiwesap) en verklaar Jesus se beskerming, verlossing en oorwinning oor elke plek waar julle sit of beweeg.
  • Bid vir ‘n spesifieke winkel of besigheid en hul personeel. Bewys liefde aan hulle deur bv. ‘n bordjie eetgoed vir hulle af te laai en te sê dat jy vir hulle bid. Wees behulpsaam waar jy kan en seën hul daagliks met die woorde van Num 6:24 “Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!”
  • Nooi mense op die WattsApp groep van jou kompleks of woongebied uit om jou te kontak indien hulle gebed benodig.

 Mag jy groot seën ervaar wanneer jy voor God se troon kom met jou versoeke.


16 Julie 2021

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.