Deur: Donnelly McCleland
Bron: incontextinternational.org

Rusland begin om troepe van die Oekraïnse grens te onttrek

Rusland het militêre eenhede van die Oekraïnse grens en die Krim-skiereiland begin onttrek, ná weke van verhoogde spanning oor die opbou van Russiese troepe in die gebied.

Die Russiese minister van verdediging, Sergei Shoigu, het op Donderdag 22 April, gesê dat die doelwitte van die omvattende militêre maneuvers bereik is. Hy het die eenhede beveel om weer na hul permanente basisse terug te keer, maar alle swaargeskut beveel om by die Pogonovo-skietbaan (sowat 160 km oos van die Oekraïnse grens) te bly, vir nog ’n oefening later vanjaar.

Eenhede van die 58ste en 41ste leërafdelings het op Vrydag na hul basisse begin terugkeer, tesame met verskeie lugmageenhede. Die proses om troepe terug te stuur moet teen 1 Mei afgehandel wees.

Volgens die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) was dit die grootste opbou van troepe sedert 2014, toe Rusland separatiste in die Krim gesteun het en die skiereiland geannekseer is. Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, het die besluit verwelkom, maar het volgehou dat die Oekraïne op sy hoede sal bly. Volgens die Oekraïnse minister van buitelandse sake, Dmytro Kuleba, sal Kiëf op bevestiging van inligtingsdienste op die onttrekking wag. Kuleba het ook sy dank aan Westerse nasies uitgespreek vir hulle ferm en onmiddellike ondersteuning.

Groot kommer het die afgelope paar weke onder Navo en lede van die Europese Unie (EU) geheers, wat geweldig druk op Rusland uitgeoefen het om die streek te demilitariseer. Die Kremlin het volgehou dat die opbou van troepe ’n militêre oefening was en het aangevoer dat dit hul reg is om troepe oral in Russiese gebiede te mobiliseer. Te midde van Navo se militêre oefeninge in die Swart See en hewige Amerikaanse sanksies teen Rusland, het president Vladimir Poetin vanaf 24 April tot 24 Oktober beperkings op buitelandse oorlogskepe in verskeie gebiede van die Swart See ingestel. Die Oekraïne beweer dat dit onwettig is, aangesien dit hulle land ekonomies sal benadeel omdat dit toegang tot Oekraïnse hawens via die Kerch-seestraat beïnvloed.

Vanuit ’n Christelike perspektief

Terwyl spanning langs die grens van die Oekraïne en Rusland toegeneem het, het versoeke vir voorbidding oor die hele wêreld uitgegaan. Slegs twee weke later begin ons die vrug van hierdie gebede sien — Russiese troepe begin onttrek.

Die Skrif verseker ons as gelowiges wanneer ons in God en die woorde wat ons bid, glo, Hy kan voorsien [Markus 11:23-24]. Loof die Here vir sy ingryping en die krag van gebed. Hoewel Rusland sy troepe uit die gebied begin onttrek het, heers daar steeds spanning en konflik binne die Donbas-streek in die Oekraïne.

Ondanks jare se vyandelikhede, is die Kerk aan die Oekraïnse kant van die “kontaklyn” egter besig om te groei. Daar word berig dat byna 50 nuwe kerke en sendinggroepe in Donetsk en Lugansk (Donbas-streek) geplant is. Daarbenewens is 150 nuwe sendelinge opgelei en, met die ondersteuning van die gemeenskap, na die sendingveld uitgestuur.

Ons dank God dat Hy in ’n tyd van oorlog en lyding iets moois doen,” het een van INcontext se medewerkers gesê. Gelowiges aan die separatiste kant van die “kontaklyn” beleef egter ’n heel ander werklikheid. Separatistiese leiers erken slegs die Russies-Ortodokse geloof en baie evangeliese gelowiges word vervolg. Daar is berigte oor geteikende aanvalle op gelowiges en dit is ’n uitdaging vir die meeste van hulle om in hul geboue bymekaar te kom vir eredienste en dies meer. Die Kerk wêreldwyd moet steeds betrokke wees by gebedsaksies en voorbidding vir hierdie streek.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat daar ’n algehele afname in spanning en druk op die grens sal wees en loof die Here terselfdertyd vir dít wat reeds bereik is;

  • vir ’n deurbraak in gesprekke oor ’n nie-militêre oplossing vir die Donbas-konflik; en

  • vir die voortgesette groei van die Kerk in die Oekraïne, veral vir dié in die gebiede wat deur separatiste beheer word.


29 April 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.