Vir die eerste keer in die geskiedenis van die bediening het ons gelyktydig vyf massa-evangelieveldtogte in vyf verskillende stede suksesvol geloods. Soos jy jou waarskynlik kan voorstel, was die logistieke onderneming om dit uit te voer enorm! Dit is hoe dit gewerk het …

Kleiner dorpies, maar ’n groter uitwerking
Die vyf stede waarheen ons gegaan het, was Tunduma, Iringa, Morogoro, Dodoma en Mbeya. Hierdie stede pas perfek by die Dekapolis-strategie in: Kleiner dorpies waar ons massiewe evangelieveldtogmasjien nooit kon uitkom nie. In die verlede het ons slegs een “‘instrument” in ons evangelistiese “gereedskapskis” gehad – ’n reusevoorhamer. Dit was baie groot en kon slegs in sekere kontekste gebruik word. Nou het ons benewens die massiewe “vlagskipveldtogte” – wat ons steeds ook doen – ’n nuwe strategie waarmee ons kleiner, meer afgeleë en onbereikte plekke met die Evangelie kan bereik, terwyl ons steeds ’n groot uitwerking kan hê!

Die vermenigvuldigingsinisiatief
Die Operasie Dekapolis-veldtogte in elke stad het van die Woensdag tot die Sondag geduur, vyf nagte elk. As jy wonder hoe ons dit kan doen: Dit is danksy die vermenigvuldigingsinisiatief waarmee ons nou al etlike jare lank besig is. In elke stad het twee evangeliste elkeen twee aande gepreek. Die meeste van hierdie predikers is gegradueerdes van ons Evangelism Bootcamp! Evangelis Daniel Kolenda het een aand in elke stad gepreek en elke dag na die volgende veldtog gereis. Hier is ’n voorsmakie van die wonderlike beweging van God in Tanzanië!

Hier is ’n voorsmakie van die wonderlike beweging van die Here in Tanzanië!

TUNDUMA
Nadat ek die Evangelie verkondig het, het ek kortliks onderrig gegee oor die genesing van siekes en toe ek vir hulle begin bid, het wonderwerke oral begin gebeur. Ek was al op ’n hele paar crusades, maar hierdie keer was dit anders as enigiets wat ek al ooit gesien het. Krukke is oral in die lug opgehou en dié wat kreupel was, het begin loop – net soos in die CfaN-video’s wat ek al gesien het. Die hele skare het gejubel en het die Here vir die wonderwerke geloof. Die een wonderwerk het op die ander gevolg sover as wat my oog kon sien – ORALS om my! – David Rotärmel


Hierdie kleuter het nog nooit in sy hele lewe geloop nie! Toe evangelis Michael Job bid, het die ma haar kleutertjie die hande opgelê soos die prediker gesê het – en die kleuter het skielik opgestaan ​​en begin loop. Dit was sy eerste treetjies ooit.

IRINGA
Nadat ons ’n duidelike evangelieboodskap verkondig en gesien het hoe duisende mense daarop reageer, het ons saam met die studente wat hulle internskap voltooi, vir die siekes gebid. Verstommende wonderwerke het plaasgevind.
• ’n Vrou met pynlike gewasse (die grootte van ’n vuis) aan beide kante van haar middel het gesê dat die gewasse onmiddellik tydens gebed verdwyn het en dat al die pyn weg was.
• ’n Bejaarde vrou het ’n paar maande tevore sleg geval. Sy was verlam aan die linkerkant van haar liggaam en kon nie praat nie. Nadat ons vir haar gebid het, was die verlamming weg en kon sy weer praat, maar sy het gesê dat die linkerkant van haar liggaam nog effens dood gevoel het. Ek het weer vir haar gebid en die dooie gevoel het verdwyn. Sy is volkome genees net daar waar sy gestaan het! – Daniel Kolenda

MOROGORO
Op die verhoog het die pastore om my gehuil toe hulle die bonatuurlike uitstorting van wonderwerke voor hulle oë sien gebeur. As ’n mens dit eers gesien het, verander dit jou vir ewig! Andrew was een van die eerstes wat op die verhoog getuig het. Sy vriende het hom op ’n motorfiets na die veldtog gebring en hom versigtig op die grond neergelê. Daar het hy plat op sy rug gelê en wag op ’n wonderwerk van die Here. Hy kon ses maande lank nie loop nie en was verlam in sy rug en bene. Andrew het gesê hy het gevoel hoe krag deur sy liggaam stroom toe ek vir die siekes bid. Hy is heeltemal genees en het Jesus ook aangeneem. Hy is as ’n totaal veranderde man huis toe. Toe ek op die laaste aand van die crusade daar aankom, kon ek dadelik sien dat die skare baie groter was as die vorige aande. Voordat ek op die verhoog uitgestap het, het die plaaslike veldtogorganiseerder my ingelig dat die plaaslike pastore gesê het dit is die grootste skare wat in die geskiedenis van Morogoro, Tanzanië vir ’n evangelieveldtog byeengekom het! – Jared Horton

DODOMA
Ek het ’n wonderlike deurbraak ervaar. Ek het die Evangelie verkondig, maar toe ek vir die siekes begin bid, het demone in buitengewone getalle begin manifesteer. Ons bevrydingspan het hul hande vol gehad! Ons het talle wonderwerke gesien plaasvind:
• Een man het ’n rugstut gedra. Hy het ’n kierie gebruik om te loop en moes pynmedikasie gebruik. Hy kon van die kierie en rugstut ontslae raak en is heeltemal genees. Hy het heen en weer oor die verhoog gestap om te wys dat sy bene en rug weer sterk is.
• ’n Vrou het vreeslike rugpyn gehad en moes krukke gebruik. Ná gebed het sy op die verhoog rondgehardloop om te wys dat sy ook genees is.
• ’n Ander vrou kon 22 jaar lank nie meer buk nie weens die verskriklik pyn wat sy gely het. Daardie aand het die pyn haar verlaat en kon sy weer vrylik beweeg. – Daniel Kolenda

MBEYA
Terwyl die son agter die skare ondergaan, kon ek sien hoe duisende van hulle op die uitnodiging reageer om na Jesus te kom. Ek het in hulle oë gekyk terwyl ek verkondig het dat daar slegs een manier is om gered te word en dit is deur Jesus Christus, die seun van God. Die beeld van al die glimlaggende gesigte en trane wat stroom terwyl hulle Jesus ontmoet, sal my altyd bybly. Ná gebed vir die siekes, het ’n jongman, wat sewe jaar lank doof was in albei ore, met die trappe opgehardloop na die verhoog om te getuig dat die Here sy gehoor heeltemal herstel het. “Wat het Jesus vir jou gedoen, jongman?” het ek gevra. Hy het vol vreugde uitgeroep: “Ek kon sewe jaar lank nie hoor nie, maar nou kan ek alles hoor!” Ek en die skare het saam ’n dawerende “Halleluja!” laat klink. “Wie is die Geneser?” het ek hom gevra. Met sy arms hoog in die lug in oorwinning en ’n stralende glimlag op sy gesig, het die jong Tanzaniese man uitgeroep: “Jesus is die Geneser en Hy het my genees!” – Gary Smith

Teken in op CfaN se nuusbriewe, Bybelstudies en verslae!: info@cfan.org.za


11 September 2021

 

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.