13 Augustus 2019

Annerie van JARS-boeke het CLF genader om aan ’n uitreik en “straatwinkel”-projek deel te neem. CLF het die geleentheid aangegryp om die boodskap van Jesus deur sy gratis pamflette en Bybelprojek na die Modimolle gemeenskap en hawelose mense te neem.

Lourin Viljoen van die Modimolle Christian Academy skryf na afloop van die uitreik dat CLF ’n groot rol gespeel het om mense wat op straat woon met die Woord te bedien. CLF bid saam met die Christian Academy dat die Here die saad wat gesaai is, sal vermenigvuldig en mense se lewe werklik ten goede sal verander.

CLF het ook dié getuienis van Lethlogonola Mohwasa ontvang:

“Almal wat my ken, weet dat ek dit geniet om te help. Toe daar gevra is of iemand wil help om Bybels uit te deel, het ek die geleentheid aangegryp. Dit was ’n wonderlike ervaring om Bybels uit te deel. Maria en ek het Kick (Kids in Christ Kingdom) en Modicademy (Modimolle Christian Academy) verteenwoordig en ons het die voorreg gehad om hierdie taak te verrig. Die ‘straatwinkel’ was nie iets wat ek geken het nie en ek het daarheen gegaan met die doel om Bybels uit te deel, maar dit was op die ou end ’n wonderlike geleentheid om ander te dien en die Evangelie te verkondig … Ek het die gawe om ander se siel raak te sien … ek het agter die liefdadigheid altyd net die [verskuilde] gebrokenheid gesien. God het my hier die geleentheid gegee om liefdadigheid te sien vir wat dit werklik is. Hy het my die geleentheid gegee om herstel in plaas van gebrokenheid te sien. God het my deur ’n baie eenvoudige (maar tog betekenisvolle) taak weer hoop gegee. Ek sal daardie kinders miskien nooit weer sien nie, maar ek weet dat ’n saadjie geplant is. Ons sal miskien nooit van die oes hoor nie, maar daar sal ’n oes wees en die Hemel sal juig!”

Om CLF se werk te ondersteun met ’n skenking, kontak Ina Willemse by 021 873 7134 of stuur ’n e-pos aan ina@clf.co.za


Bron: Artikel verskaf

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.