-deur Errol Naidoo

13 Augustus 2019

Pro-prostitusiegroepe – plaaslik sowel as internasionaal – gebruik weereens die agtergrond van Vrouemaand om die dekriminalisering van die seksbedryf in Suid-Afrika te bepleit.

“Human Rights Watch” (HRW) het op 7 Augustus 2019 ’n nuwe verslag vrygestel, met die titel: Why sex work should be decriminalised in South Africa”  en aangevoer dat gedekriminaliseerde prostitusie in wese ’n menseregtevraagstuk is. Die verslag noem egter nie die rol wat “pimps”, bordeeleienaars en misdaadsindikate in die verskriklike uitbuiting en mishandeling van vroue in die seksbedryf speel nie.

HRW blameer die huidige kriminalisering van prostitusie vir armoede, gebrek aan toegang tot gesondheidsorg en geweld teen sekswerkers. Hulle berispe die Suid-Afrikaanse regering omdat die wet nog nie aangepas is nie en beweer dat “owerhede die veiligheid en welstand van sekswerkers in die gedrang bring en hulle kwesbaar maak vir seksuele en fisieke mishandeling.”

Wêreldwye liberale organisasies soos HRW vertrou steun op inligting wat deur groepe verskaf word wat ten gunste van prostitusie is soos byvoorbeeld Sex Worker Education & Advocacy Taskforce (SWEAT). Hierdie groep word deur buitelandse organisasies befonds op voorwaarde dat hulle die volledige dekriminalisering van prostitusie in Suid-Afrika steun – ongeag die skokkende werklikheid van wat in die seksbedryf aangaan.

Family Policy Institute (FPI) het in 2009 navorsingsgegewens in ’n verslag,Why Prostitution Must Not Be Decriminalised in South Africa, bekendgemaak waarin die gevare van prostitusie en die mishandeling waartoe dit lei, blootgelê word. Elke objektiewe studie wat wêreldwyd oor prostitusie gedoen word, onthul dat prostitusie wat gedekriminaliseer word, vroue geensins help nie. Dit is eerder ’n gawe aan pimps, bordeeleienaars en georganiseerde misdaad wat die kwesbaarheid van vroue en kinders uitbuit.

Die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie het nege jaar lank ’n navorsingstudie oor volwasse prostitusie gedoen. Daar is landswyd werkswinkels aangebied en die siening van duisende burgers is ingewin. Hulle het ook onderhoude met mense in die seksbedryf gevoer. Die kommissie het in 2015 sy finale verslag bekend gemaak, waarin tot die gevolgtrekking gekom is dat gedekriminaliseerde prostitusie die uitbuiting en mishandeling van weerlose vroue in Suid-Afrika verder sal vererger.

Die FPI se voorlegging aan die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie is meer as 50 keer in die finale verslag genoem. Die verslag stem met baie van FPI se gevolgtrekkings saam. FPI sê dat ’n gedekriminaliseerde seksbedryf nie die menseregte, waardigheid en veiligheid van vroue in prostitusie verbeter nie, omdat dit juis die seksbedryf is wat vroue uitbuit en dehumaniseer.

Die liberale hoofstroommedia bevorder die vals en gevaarlike boodskap dat die dekriminalisering van prostitusie die towerstaf is wat die misbruik van vroue in die seksbedryf sal uitroei. Nuuskanale soos eNCA gee “kundiges” gereeld die geleentheid om hul vals argumente te bevorder sonder om die alternatiewe (en feitelike) standpunte ook te verskaf.

Groepe met buitelandse befondsing gebruik Vrouemaand om druk op die regering uit te oefen om gedekriminaliseerde prostitusie te aanvaar en die regshervormingskommissie se ondersoek van nege jaar te verwerp en die wet aan te pas om linkse groepe en georganiseerde misdaad te pas.

Ek voer al die afgelope tien jaar hierdie stryd, want ek is oortuig dat gedekriminaliseerde prostitusie in Suid-Afrika rampspoedig sal wees vir kwesbare vroue, kinders en die algemene samelewing.

Ek het die hulp en ondersteuning van die Liggaam van Christus in Suid-Afrika nodig om die kwesbares te verdedig. Die Skrif doen ’n beroep op gelowiges om namens dié te praat wat dit nie self kan doen nie. Maak jou stem dik teen gedekriminaliseerde prostitusie.


Bron: Artikel verskaf familypolicyinstitute.com

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.