10 Junie 2019

Met skenkings vir ’n gawe petroljoggie in die Wes-Kaap wat naby ’n halfmiljoen rand trek, het die man, Nkosikho Mbele, ’sy hartlike dank uitgespreek aan almal wat skenkings gemaak het.

Baie Suid-Afrikaners het bygedra om Nkosi (28) te beloon vir sy onbaatsugtige daad om uit sy eie sak vir Monet van Deventer se petrol te betaal. Dit het weer hoop in mense se harte laat opvlam.

In diep dankbaarheid het Monet in samewerking met BackaBuddy, ’n veldtog begin om fondse vir Mbele in te samel. Haar doelwit was om R100 000 in te samel, maar Dinsdagoggend verlede week het die geld wat ingesamel is, reeds naby aan ‘n halfmiljoen rand getrek! Daar was reeds ’n totaal van R471 615,07.

Monet het aan SAPeople gesê: “Ek het dit regtig nie verwag nie. Ek het dit op Facebook gedeel en het gehoop dat dit iets sal beteken vir een of twee mense op my Facebook. Ek is verbaas om te sien hoeveel die goeie daad vir duisende Suid-Afrikaners beteken het.”

Monet is sedert daardie eerste dag in kontak met Nkosi. Sy het hom Vrydag by die Shell (Valsbaai Ultra City Shell, op die N2) besoek. “Hy het vir my gesê dit voel steeds asof hy droom,” het sy gesê.

Die geweldige uitstorting van liefde, waardering en geld van Suid-Afrikaners af het ongelukkig gelei dat Nkosi se lewe bedreig kan word.

BackaBuddy het aan SAPeople gesê: “Nkosi het ons Sondagaand laat gekontak en verduidelik dat hoewel hy opreg dankbaar is vir die ondersteuning wat hy ontvang het, hy bang is dat hy geteiken kan word by sy huis in Khayelitsha.

Hy het BackaBuddy gevra om die fondse namens hom te administreer, sê BackaBuddy. Dit sal sy veiligheid verseker.

Patrick Schofield, die uitvoerende hoof van BackaBuddy, sê: “Wanneer iemand daaraan gewoond is om elke maand ’n sekere bedrag te verdien en dan skielik ’n groot skenking ontvang, kan dit hulle in groot gevaar stel – ten opsigte van moontlike misdadigers, maar ook van ander wat graag van die geld wil hê vir hulle eie behoeftes.”

As Mbele egter die geld direk in sy rekening wil laat oorbetaal, sal hulle die hele bedrag oordra.

“Hy het volle beheer oor hoe sy fondse bestee word,” sê Patrick.

Die geld wat ingesamel word, sal gebruik word vir Mbele se familie wat saam met hom woon (sy twee kinders, broer en ma), vir hom om te studeer om ’n ketelmaker (boilermaker) te word, asook vir Mbele om liefdadigheidswerk te doen en staatkinders te help – ’n saak wat hom na aan die hart lê.

Foto: Nkosikho Mbele


Artikelbron: sapeople.com

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.