-deur Lourieke Haller

Kruiskyk TV saai vandeesmaand al elf jaar lank uit as ’n baanbrekerkanaal vir die Evangelie in Afrikaans. “’n Bewys dat jou drome nie gekoppel moet wees aan jou vermoë of finansiële status nie, maar slegs in reaksie op God se Woord en wil vir jou lewe,” sê Stephanie Mans met ver-wysing na die woorde op ’n bufferplakker wat tot die ontstaan van Kruiskyk gelei het:
“Dream a dream so big that it is destined to fail, unless God is in it.”
Die woorde was destyds bevestiging vir Clemens en Stephanie om ’n TV-kanaal te begin, al het hulle geen ervaring of die finansies daarvoor gehad nie.
“Ek het getwyfel oor ’n eie TV-kanaal, maar die Here se plan vir Sy kinders is altyd groter as wat die mens kan dink of droom!” sê Clemens. Binne ’n jaar het God Kruiskyk – dit wat menslik onmoontlik was – moontlik gemaak.

’n Groot skok
In Mei vanjaar is Clemens en Stephanie se geloof behoorlik getoets. Sosiale media het gegons nadat Kruiskyk bekendgemaak het dat hulle vanaf 1 Mei nie meer op die Open View HD (OVHD) platform te sien sal wees nie. Kruiskyk is reeds 11 jaar lank op die Free To Air-platform-dekodeerder beskikbaar en daardie kykers is glad nie geraak nie. Die laaste vier jaar was Kruiskyk egter bykomend op OVHD en dit is dié kykers wat proble-me ondervind het.
“Ons was geskok en diep teleurgesteld, maar terselfdertyd het ons ’n bomenslike vrede ervaar,” vertel Stephanie. Hulle was ook bekommerd oor Kruiskyk-ondersteuners met die OVHD-dekodeerder wat ewe skielik nie meer hulle programme sou kon kyk nie. “Jou hande is afgekap. Jy wil graag by elke huis uitkom en hulle help om weer Kruiskyk op te vang omdat ons weet hoeveel bedlêende mense daar is vir wie Kruiskyk ’n lewenslyn is,
of ander wat op verafgeleë plekke woon en vir wie Kruiskyk letterlik hulle kerk en gemeente is,” sê Clemens.

God se weermag in die onsienlike
Die onverwagte terugslag het ’n innerlike geloofstryd tot gevolg gehad: “In jou wandel as ’n Christen is ’n mens geneig om te dink alles sal altyd net goed gaan, want jy is mos ’n
kind van die Here. Jy voel gerus, want al die reuse wat oor jou uittroon, kan niks aan jou doen nie. Maar dit is ’n persepsiefout, want dit is nie altyd so nie,” sê Stephanie. “Soms sê die Here: ‘Staan terug en aanskou die verlos-sing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk,’ soos in Eksodus 14:13. Ander kere moet jy veg en self handgemeen raak in die stryd. God het byvoorbeeld vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie, moenie bekommerd wees nie. Neem al die manskappe met jou saam en trek op teen Ai.’”
Dit was ’n ontnugtering vir Clemens-hulle, maar hy getuig dat die Here hulle reeds in die voorafgaande weke geestelik voorberei en geleer het oor die geestelike ryk, die werklikheid van geestelike aanvalle en die stryd waarin hulle betrokke is as Christen-media.
“Die Skrif waarsku ons nie om dowe neute dat ons worstelstryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die owerhede in die lug. En wat is Kruiskyk meer as God se weermag in die onsienlike, te midde van die owerhede in die lug?” sê Stephanie.

Woord van die Here
Verskeie mense het almal dieselfde Skrif vir Clemens gegee: “Be still, and know that I am God” (Psalm 46:10). Dit is presies wat die Manse gedoen het, hulle het gewag op die Here se leiding. “In daardie tyd het die Here vir my Jeremia 51:20 gegee: ‘Jy is vir My ’n hamer en oorlogswapen … en met jou verwoes Ek koninkryke.” Ek het daardie woord geneem en in gesag opgestaan en as hamer en oorlogswapen waarmee God die ‘koninkryke van die duisternis’ verwoes, outoriteit geneem in die geestelike ryk,” verduidelik Clemens. Ek sien Kruiskyk as die ‘hamer’ in God se hand wat besig is om die koninkryk van die duisternis in hierdie land te verwoes. Dit is waarom die aanval op Kruiskyk en ons so fel was die afgelope tyd. Maar ons het deurgebreek en staan sterker as ooit op vir Christen-media in hierdie land en wêreldwyd – dit is ons mandaat van God af,” verklaar Clemens.

Oorweldigende steun
Ontstoke kykers het van hulle laat hoor op sosiale media en Kruiskyk was verstom en bemoedig deur die steun wat hulle van die publiek ontvang het. “Ons het nooit regtig besef hoeveel Kruiskyk vir die kykers beteken, totdat dít gebeur het nie. Die kykers het soos ’n reus opgestaan en kapsie gemaak teen die feit dat hulle kanaal sommer net weggeneem is. Hulle het soos een man saam met ons gemobiliseer om op te staan vir ons geloof en te veg vir die Evangelie in die media,” vertel Clemens.

God verander dit in iets goeds
Geloof aktiveer God se planne vir ons en stel God se geestelike wette in aksie. In hierdie geval het die Manse se stille vertroue in God die duiwel se kwade bedoelings omgekeer “in iets wat goed is” (Genesis 50:20).
“Die goeie wat nou hieruit voortgevloei het, is dat Space TV ons goedgesind is en ons hulle platform aangebied het. Hulle het takke landswyd en die beste nuus is dat ons nie deur ’n instansie van hierdie dekodeerder of platform verwyder kan word nie. Die Space HD-dekodeerder kos ’n eenmalige R499 met geen maandelikse gelde nie en daar is heelwat ander geestelike kanale ook beskikbaar buiten Kruiskyk. Alle ander Free to Air-dekodeerders werk ook steeds. Daar was so baie mense wat die nuwe dekodeerders aangeskaf het dat daar aanvanklik probleme met voorraad was, maar dit is nou uitge-sorteer,” sê Stephanie.

Die rol van Christen-media
“Christen-media is beslis in die minderheid in ’n see van sekulêre media-inhoud,” sê Ste-phanie. Sy voel sterk dat elke Christen daadwerklik vir Christen-media moet opstaan: “Teken in, koop ’n dekodeerder, sluit aan, registreer – of dit nou vir Christen-tydskrifte, Christen-televisie, – radio, internetmedia of sosiale media is – ondersteun Christen-media en help hulle om Christelike waardes en ’n Christelike stem in die media te behou.” Sy gaan vurig voort: “Media word deur die vyand gebruik en bereik alle ouderdomme – van babas, wat letterlik voor die televisie sit en geïndoktrineer word met animasie-programme en rolprente, tot die ouer geslag wat natuurlik met die res van die media se arsenaal geteiken word.”
Volgens haar is Christen-media in ’n hewige stryd gewikkel. “Ons moet regtig soos die Woord sê, en die Here vir Clemens gewys het, optree as ’n hamer en ’n oorlogswapen in die Here se hand. Ons moet die koninkryk van die duisternis in die Naam van die Here verwoes en as Christene outoriteit neem oor die media.”

Oproep tot aksie
Clemens en Stephanie roep Christene op tot aksie: “Ons vra Christene om aan te tree saam met ons. Ons wil vir die land uit ons hart baie dankie sê dat julle opstaan en deel vorm van hierdie weermag in hierdie tye waarin ons lewe. Ons kykers moet asseblief nie opgee nie. Hulle moet dit sien in die lig van ’n geestelik aanval en nóú, meer as ooit, bankvas agter Christen-media staan ter wille van die uitbreiding van God se Koninkryk, sê Stephanie. “Daar is ’n lied wat lui: “If we are the Body, why aren’t His hands healing, and His arms reaching?
“Ons is die hande en voete van Christus en ons rig die versoek, koop asseblief ’n dekodeerder vir iemand wat dit nie kan bekostig nie. As jy nog nie ’n nuwe dekodeerder het nie, dit kos soveel as een sakkie kruideniersware of ’n T-hemp en is van baie groter blywende waarde,” sê sy.

Hernude vuur om aan te tree tot die stryd
Dit wat die vyand bestem het vir kwaad, het die Here omgekeer en ’n nuwe vuur in Kruiskyk aangesteek om meer as ooit tevore met Sy mandaat aan te tree in die Here se weermag en vernietiging te saai in die koninkryke van die duisternis.

CLEMENS MANS
Clemens het as die seun van past. Bekkie en Brenda Mans die kerkorkes gelei. Hy was betrokke by sanger-pastoor, Willie Botha, wat hom aangemoedig het om in 2003 sy eie CD op te neem. Sedertdien het Clemens verskeie albums en DVD’s opgeneem wat op itunes beskikbaar is.  Hy is aan die hoof van  Kruiskyk TV en is die geesdriftige leier van die Kruiskyk Familie Sentrum-gemeente in Somerset-Wes.

STEPHANIE MANS
Stephanie was nege toe Clemens se pa na die Lighuis-gemeente beroep is waar hulle aanbid het.  Hulle is nou  byna 18 jaar getroud. Sy ondersteun Clemens as eienaar van Kruiskyk TV en herder van Kruiskyk Familie Sentrum-gemeente. Sy is in verskeie gemeenskappe by prestasie-ontwikkeling betrokke deur leerlinge se breinpotensiaal te ontgin en beskou dit as ’n integrale deel van haar bediening.

Wat bied die platform jou?

  • Kruiskyk TV bied jou 24-uur gratis satelliertuitsendings. besoek www.kruiskyk.tv
    vir meer inligting.
  • Kruiskyk Radio saai unieke musiek uit wat oor die afgelope dekade in die Kruiskyk-ateljee vervaardig is en nêrens anders beskikbaar is nie.
  • Kruiskyk TV ‘live stream’ van die nuutste uitsendings 24- uur op die webtuiste, vir dié wat nie toegang tot satteliet -TV het nie.
  • Die aanlynwinkel: Musiek van Kruiskyk kan via CD Baby op die webtuiste gekoop word. Dit is ook beskikbaar op Itunes en Google Play.
  • Kruiskyk-toep is beskikbaar by App Store sodat jy Kruiskyk-musiek en goeie nuus altyd in die palm van jou hand beskikbaar het.

Wat kan jy doen?
• Moenie opgee nie, kry jou dekodeerder, al die kontakbesonderhede is op Kruiskyk se webtuiste. Jy kan die dekodeerder by Kruiskyk bestel; of by Space TV-takke landswyd asook by ander afsetpunte wat op die webtuiste gelys is, of SMS “dekodeerder” na 31575 of 072 890 6634
• Besoek Kruiskyk se webtuiste en sluit aan. Hulle saai 24-uur per dag wêreldwyd uit.
• Sluit aan by Kruiskyk se Facebook-blad wat ’n lewendige kuierplek is; daar word baie inligting gedeel en nuwe uitsaaiers aangekondig.
• Laai die Kruiskyk-toep op jou slimfoon af (Android of Apple) en neem Kruiskyk saam met jou 24-uur per dag, waar jy ook al is.


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.