Deur: Casper le Grange

In Suid-Afrika beloop die gemiddelde kredietkaartlimiet ongeveer R35 000. Die gemiddelde uitstaande balans op sewe miljoen kredietkaarte wat tans deur Suid-Afrikaners gebruik word, het met bykans 1% gedurende 2020 toegeneem tot ongeveer R18 800 gemiddeld per kredietkaart.

Moenie skuld ignoreer nie
Kredietkaartskuld kan ’n struikelblok wees om te oorkom, veral in hierdie uitdagende finansiële tye, maar die volgende aanhaling van Aldous Huxley, ’n Britse outeur en filosoof, is so waar: “Facts do not cease to exist because they are ignored.” Dit is belangrik om jou finansiële situasie te bepaal en as daar probleme is, so spoedig moontlik reg te stel.

Waarop het jy jou geld spandeer?
Die eerste stap is om ten minste die laaste drie maande se kredietkaartstate na te gaan. Waarop het jy jou geld spandeer? Wat is noodsaaklik en wat is luukses? Is daar goedere wat dalk beter is om kontant aan te koop? Gebruik jou kredietkaart vir noodsaaklikhede. Moenie “verskonings” uitdink vir sekere uitgawes nie. Wees eerlik met jouself, want sodra jy jou gedrag erken, kan jy die situasie regstel.

Voorstelle wat jou kan help:
• Stel ’n lys op en identifiseer wat “toelaatbaar” is om te koop volgens jou behoefte.
• Bepaal ook watter aankope jy met jou kredietkaart gaan doen. Hou daardie lys byderhand om jou te herinner en om onnodige uitgawes te vermy.
• Bepaal wat jou snellers (triggers) is en skryf dit neer. Dalk is dit spesifieke winkels of dalk spandeer jy maklik geld op sekere familie of vriende.
• Indien jy maklik aanlyn aankope doen, haal die toep van jou foon af.
• Dalk is afslagprodukte (specials) jou swakpunt, vermy sulke uitverkopings.

Wil jy regtig jou kredietkaartskuld beter bestuur?
Verder stel ek voor dat jy meer as die minimum maandeliks vereiste bedrag terugbetaal. Dit sal help om die rente wat terugbetaalbaar is te beperk. Kontak ook jou bank en doen navraag of daar nie pakkette beskikbaar is wat meer voordelig is nie, soos byvoorbeeld ’n 60 dae rentevrye kredietkaartfasiliteit of ten minste verlaagde rente-koerse. Verantwoordelike verbruikers behoort gereeld navraag te doen oor beter pakkette en nie net te aanvaar wat aangebied word nie.

Maak kredietkaart-paaiemente ’n prioriteit
TransUnion het in hulle Q3-verslag van 2020 bevind dat verbruikers by voorkeur poog om nie kredietkaartpaaiemente oor te slaan nie. “Dit is belangrik dat verbruikers kredietkaartbetalings ’n prioriteit maak, aangesien kredietkaartfasiliteite die voordeel van beide likiditeit en vinnige toegang tot krediet bied, veral tydens hierdie uitdagende COVID-19-tye.”

Klop gerus aan vir professionele hulp
Sodra ’n verbruiker nie meer sy skuld en/of huishoudelike finansies kan bestuur nie, is dit tyd om aan te klop vir professionele hulp. Jy is welkom om
ons by 086 100 1047 te skakel, of kontak ons per e-pos by help@dcgsa.co.za. Ons assesserings is 100% vertroulik en verpligtingvry.

CASPER LE GRANGE is ’n geregistreerde skuldberader by die nasionale kredietreguleerder. NCRDC 1560.


23 April 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.