Deur: Donnelly McCleland
Bron: incontextinternational.org

Tsjad staar onsekerheid in die gesig terwyl herverkose president op voorste linie sterf

Die president van Tsjad, Idriss Deby, het op 20 April gesterf, een dag nadat hy as die wenner van die land se presidentsverkiesing verklaar is.

Dít tydens ’n besoek aan troepe op die voorste linie wat teen rebelle uit die noorde geveg het. Die skielike en misterieuse dood van een van die langsdienende Afrika-presidente het kommer oor die bestendigheid van Tsjad en die streek, gewek.

Deby is as ’n “kragtige leiersfiguur” beskryf en word as ’n betroubare Westerse en streeksvennoot in die stryd teen Islamitiese ekstremistiese groepe beskou. Deby se 37-jarige seun, generaal Mahamat Kaka, is deur ’n oorgangsraad van militêre offisiere as tussentydse president aangestel en die parlement is ontbind in ’n oënskynlike poging om orde in hierdie onbestendige tyd te handhaaf.

Internasionaal bestaan daar egter kommer oor die opskorting van die parlement en die afwyking van grondwetlike protokolle – die tussentydse mag was veronderstel om aan die parlement se woordvoerder oorgedra te word. Die weermag het egter belowe dat “vrye en demokratiese” verkiesings ná 18 maande aan die einde van die oorgangstydperk gehou sal word.

Die onlangse verkiesing op 11 April was nie sonder omstredenheid nie, aangesien dit wyd deur opposisieleiers en ontevrede Tsjadiërs geboikot is. Burgers is ontevrede met die wyse waarop die wyle president Tsjad se olierykdom bestuur het, sy onderdrukking van die opposisie en die vermeende hoë vlakke van korrupsie. Deby se 30 jaar lange bewind het ook teenkanting van rebellemagte, insluitend Front for Change and Concord in Chad (FACT), wat in Libië gebaseer is, gekry. FACT het die noorde van Tsjad op die verkiesingsdag ingeval en suidwaarts beweeg. Dié rebellegroep het die afgelope naweek ’n terugslag beleef toe weermagtroepe na bewering meer as 300 rebellevegters doodgemaak en 150 gevange geneem het. Daar word gevrees dat rebelle munt sal slaan uit die onsekerheid wat Deby se dood tot gevolg het en verder veld sal wen. Daar bestaan ook groot kommer dat faksiepolitiek die vakuum wat die ontydige dood van Deby gelaat het, sal vul, veral omdat dit lyk asof daar geen voorbereidings, vir ’n opvolger getref is nie.

Vanuit ’n Christelike perspektief

Die tyd van vrees en onsekerheid bied ’n spesiale geleentheid vir die Kerk in Tsjad om buitengewone vrede en hoop, ondanks moeilike omstandighede, ten toon te stel. As hulle boonop die vrug van die Gees openbaar, mag hulle “oop deure” kry om met hul ongelowige naastes, wat op soek is na iets om aan vas te hou in hierdie krisistyd, in gesprek te tree.

Daar word berig dat die geloofsgemeenskap in Tsjad wel groei, veral onder huiskerke. Sommige bedienings maak alreeds van verskeie maniere gebruik om na verlorenes, veral diegene met spesifieke behoeftes, uit te reik.

Benewens projekte wat in basiese behoeftes voorsien, maak hulle ook van die media, soos radiostasies as ’n instrument om die Evangelie te versprei, gebruik. Die tradisionele Kerk in Tsjad (38,5%), wat grotendeels uit Rooms-Katolieke bestaan, is na bewering egter uit vrees vir vervolging huiwerig om ’n meer aktiewe, sigbare rol in hul gemeenskappe te speel. Tsjad het gepoog om godsdiensvryheid te handhaaf, wat lofwaardig is in ’n land omring deur lande met ’n Moslem meerderheid in die Sahel-streek.

Die meerderheidsgodsdiens (veral in die noorde) is egter Islam (52,8%) en die rebelle is dikwels sterk Islamities-geörienteerd, gewoonlik deur streng, konserwatiewe nasies en buitelandse groepe gesteun. ’n Kontakpersoon van INcontext vertel dat onlangse gebeure die mense se bestaande woede en frustrasie vererger sowel as vrees en onsekerheid meebring. Die Kerk wêreldwyd kan egter Tsjadiese gelowiges biddend ondersteun, sodat hulle nie sal terugdeins nie, maar eerder die Koninkryk deur die krag en leiding van die Gees sal bevorder.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Bid vir goddelike leierskap in die hantering van die krisis en dat Tsjad nie in wanorde en gevegte sal verval nie;
  • dat die Kerk die vrug van die Gees sal openbaar en in gesprek sal tree met diegene rondom hulle wat hulle Christelike reaksie op die onsekerheid en onstabiliteit raaksien; en
  • dat die kerk in Tsjad doeltreffend na Moslems en “onbereikte” mensegroepe sal uitreik.

22 April 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.