-deur Andre Viljoen

8 Junie 2019

Die voormalige professionele rugbyspeler, Israel Folau, het regstappe teen Rugby Australië (RA) en die Waratahs-klub ingestel nadat sy kontrak beëindig is oor sy omstrede sosiale mediaboodskappe.

Folau se multimiljoen dollar-ooreenkoms van vier jaar is kort geknip nadat ’n onafhanklike paneel RA se standpunt bevestig het dat Folau se opmerkings wat hy in April gemaak het, strydig was met die professionele gedragskode vir professionele rugbyspelers en dat sy ontslag geregverdig is, eerder as om ’n boete te ontvang of tydelik geskors te word.

Die toegewyde Christen het op Instagram gesê dat die hel vir dronkaards, homoseksuele, owerspelers, leuenaars, hoereerders, diewe en ateïste voorlê.

Die afgedankte rugbyster het sy saak na die Fair Work Commission geneem en eis $10 miljoen (R106,7 miljoen) in skadevergoeding vir die onwettige beëindiging van sy kontrak. “Geen Australiër van enige geloof behoort afgedank te word vir die beoefening van sy / haar geloof nie,” het Folau in ’n verklaring gesê.

Sy prokureurs het verklaar dat dit onwettig is om ’n indiensnemingskontrak te beëindig op grond van godsdiens.

Die voorsitter van die Australiese Nasionale Rugbyliga-kommissie, Peter Beattie, het Woensdag bevestig dat die NRL Folau nie onder die omstandighede in die spel sal toelaat nie.

Folau se broer het ook die Waratahs verlaat oor die aangeleentheid.


Bron: gatewaynews.co.za

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.