-deur David Choi

12 Julie 2019

Die Iranse vloot het eergister probeer om op ’n Britse olietenkskip in die Persiese Golf beslag te lê, het ’n Britse regeringswoordvoerder aan INSIDER gesê.

Magte van die Islamitiese Revolusionêre Wag het ’n Britse olietenkskip beveel om sy roete in die Hormuz-seestraat te verander en gepoog om dit nader aan waters onder Iran se beheer te dwing. Maar die HMS Montrose, ’n Britse fregat, het die olietenkskip begelei en sy wapens op die Iranse vaartuie gerig.

Die HMS Montrose het die Iranse magte verbaal gewaarsku. Die vaartuie het toe wegbeweeg van die olietenkskip af. ’n Amerikaanse vliegtuig het die voorval waargeneem en gedokumenteer, berig CNN.

“Die drie Iranse vaartuie het in verontagsaming van die internasionale reg probeer om ’n kommersiële vaartuig te dwing om sy roete deur die Hormuz-seestraat te verander,” het die woordvoerder aan INSIDER gesê en bygevoeg dat die Britse vloot “homself noodgedwonge tussen die Iranse skepe en die olietenkskip moes posisioneer … en verbale waarskuwings aan die Iranse vaartuie rig, wat toe omgedraai het.”

“Ons is bekommerd oor hierdie voorval en versoek die Iranse owerhede om die spanning in die streek te ontlont,” het die Britse woordvoerder gesê.

Die voorval volg op verhoogde spanning tussen Iran en die Verenigde Koninkryk. Iran het Woensdag gedreig om op Britse olietenkskepe beslag te lê, wat onlangs onder die Britse vloot se begeleiding deur die Hormuz-seestraat gevaar het.

Iran se dreigemente het gevolg nadat die Britse Vloot beslag gelê het op ’n Iranse olietenkskip wat daarvan verdink word dat dit sanksies van die Europese Unie verbreek het deur sowat 2 miljoen vate ru-olie na Sirië te verskeep.

Iran het ontken dat dit probeer het om op die Britse olietenkskip beslag te lê en gesê dit is “Amerikaanse bronne” wat die aansprake gemaak het.

Foto: USNI News


Bron: amp.businessinsider.com

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.