Deur: Donnelly McCleland
Bron: incontextinternational.org

Arabiese staatshoofde en senior amptenare uit die streek, waaronder aartsvyande Iran en Saoedi-Arabië (wat aan die begin van 2016 diplomatieke bande verbreek het) het op Saterdag 28 Augustus ’n buitengewone vergadering gehou, tydens ’n konferensie wat deur Irak aangebied is.

Irak is dekades lank grootliks deur Arabiese leiers vermy, weens kommer oor veiligheid te midde van opeenvolgende oorloë en interne onrus. Hierdie beraad word dus beskou as ’n groot hupstoot vir Irak in sy nuwe rol as streeksbemiddelaar. Die vergadering het ook ten doel gehad om spanning in die Midde-Ooste te verlig.

Ander aanwesige leiers en amptenare sluit Turkye en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) in, wat die afgelope jare ’n besonder bitter verhouding het. Dit sluit ook die staatshoofde van Katar en Egipte in – nog twee regerings wat teenstanders is. Die Franse president, Emmanuel Macron, wat Irak se eerste minister, Mustafa al-Kadhimi, se pogings om die konferensie aan te bied, ondersteun het, was ook teenwoordig. Hy het die vergadering as ’n groot hupstoot vir Irak en sy leierskap bestempel.

Hoewel die organiseerders van die beraad gesê het dat hulle geen diplomatieke deurbrake verwag nie, is sake soos die streek se waterkrisis, die oorlog in Jemen en die ernstige ekonomiese en politieke krisis in Libanon onder meer bespreek. Sirië, wat sedert 2011 uit die Arabiese Liga geskors is, en Libanon, wat die afgelope jaar sonder ’n funksionele regering sit, was nie tydens die vergadering verteenwoordig nie. Al Jazeera se Mahmoud Abdelwahed berig dat leiers ook beleggingsprojekte tussen die deelnemers bespreek het, asook politieke en veiligheidsuitdagings wat Irak in die gesig staar, insluitend die moontlike herlewing van die Islamitiese Staat-groep (IS).

Vanuit  ’n Christelike perspektief

Dit is bemoedigend om, na jare van konflik en onstabiliteit, Irak se geopolitieke vordering, as bemiddelaar in ’n hoogs onbestendige streek, te sien. Dis ’n vreugde om ’n land wat deur geweld verwoes is – dikwels deur magte wat instaan vir ander lande (Saoedi-Arabië en Iran) – hierdie einste nasies sien huisves in ’n strewe na meer bestendigheid en vrede in die streek.

Mag hierdie pogings ook weerspieël word in die werk van die Kerk in Irak. Die Christelike bevolking in Irak het oor die afgelope twee dekades met meer as 80% gedaal. Irak se sensus van 1987 berig dat daar 1,4 miljoen Christene in Irak was en vandag word bereken dat die Christelike bevolking minder as 250 000 is. Talle Christene het geëmigreer en baie min het teruggekeer. Díé wat oorgebly het, vorm ’n uiteenlopende en komplekse gemeenskap van gelowiges – Rooms-Katoliek, Ortodoks, Evangelies, Siries, Armeens en Chaldeërs.

As Irak egter in wêreldse terme, uit die as kan verrys ​​en ’n hand van vergifnis en versoening kan uitsteek, kan die Kerk in Irak sekerlik ook bemoedig word om die Evangelie van vrede van God se Koninkryk te bevorder. Maar om vrede te maak, is nie ’n vinnige of maklike proses nie. 1 Petrus 3:11 sê: “Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!” Die woord “soek” impliseer dat dit soms moeilik mag wees om te vind, terwyl “najaag” op ’n element van volharding dui.

Diegene wat egter in die Here glo en Hom volg, bemoedig Hy deur sy voorbeeld. Efesiërs 2:13-14 sê: “Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het.” Mag dit die getuienis van die Kerk in Irak wees – eensgesinde gelowiges, wat deur die krag van Sy Gees, genade vergifnis en barmhartigheid teenoor hulle vervolgers uitleef.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat die Here Irak in sy rol as bemiddelaar sal vestig – wat tot blywende deurbrake in die streek sal lei;
  • dat die Irakse Kerk verenig sal word in hul roeping in Christus Jesus, verskille opsy sal sit en hul rol as ambassadeurs van Christus sal vervul; en
  • dat gelowiges bemoedig sal word, terwyl hulle hul verpletterde gemeenskappe herbou.

4 September 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.