Deur: Donnelly McCleland
Bron: incontextinternational.org

Twintig mense is op 28 Maart in ’n selfmoordbom buite die Sacred Heart of Jesus-katedraal in Makassar, Indonesië, beseer.

Die aanval het omstreeks 10:30 Sondagoggend plaasgevind en is deur ’n man en vrou, wat vermoedelik aan die Islamitiese ekstremiste groep Jamaah Ansharut Daulah verbonde was, uitgevoer. Vier veiligheidswagte en verskeie kerkgangers was onder die beseerdes. Die aanvallers het na afloop van die Palmsondag-erediens die gronde probeer binnegaan. ’n Veiligheidswag by die kompleks was agterdogtig oor die motorfietsryers en het een van hulle gekonfronteer voordat hulle by die hoofingang kon uitkom. Die bom het kort na die onderonsie ontplof.

Danny Pomanto, burgemeester van Makassar, het gesê dat daar baie meer slagoffers sou gewees het as die ontploffing by die hoofingang plaasgevind het. Die president van Indonesië, Joko Widodo, het die aanval as ’n terreurdaad bestempel en die polisie beveel “om die oortreders se netwerke deeglik te ondersoek en die netwerke met wortel en tak uit te roei.” Hy het tydens ’n toespraak wat op televisie uitgesaai is, die gemeenskap aangemoedig om “kalm te bly” en hulle die versekering gegee dat die staat “die veiligheid van gelowige mense waarborg om sonder vrees te kan aanbid”. Die minister van godsdienssake, Yaqut Cholil Qoumas, het die polisie ook aangemoedig om die veiligheid by plekke van aanbidding te verskerp. “Ongeag die motief, hierdie aanval kan deur geen godsdiens geregverdig word nie,” het hy gesê. Die polisie het 13 mense in verband met Sondag se bomaanval in hegtenis geneem.

Vanuit ’n Christelike perspektief

Indonesië is die grootste nasie met ’n Moslem-meerderheid; dit is die tuiste van 13% van die wêreld se Moslems. Ten spyte hiervan het die eiland Sulawesi (waar die bomaanval plaasgevind het) een van die hoogste konsentrasies Christene in die land (sowat 60%), met groter groepe Christene wat in die Tana Toraja-, Suid- en Sentraal-Sulawesi-streke woon.

Indonesië het ’n toename in godsdienstige ekstremisme ervaar sedert die Bali-bomaanval in 2002, wat die lewens van 202 mense by ’n gewilde toeristeplek, geëis het. Tientalle mense is in 2018 in ’n reeks selfmoordbomaanvalle op kerke in die hawestad, Surabaya dood. Jamaah Ansharut Daulah is ook by die aanval geïmpliseer. Islamitiese militante het in November 2020 op Lembantongoa, ’n dorpie met ’n meerderheid Christene, ook in Sulawesi, toegeslaan. Die aanvallers het ’n dorpsleier en drie Christen-boere vermoor en ’n kerk van die Heilsleër, asook verskeie huise afgebrand.

Pous Franciscus het ná Sondag se aanval vir gebed vir diegene wat in die aanval beseer is, gevra. Die Fellowship of Indonesian Evangelical Churches and Institutions (FIECI) het gevra dat daar vir die slagoffers van die aanval gebid moet word en dat godsdiensvryheid – soos vermeld in die grondwet van Indonesië – gehandhaaf sal word. Hulle het die aanval veroordeel en Indonesiese gelowiges aangespoor om die owerhede te vertrou om die aanval te ondersoek, terwyl hulle “nadink oor die liefde, opoffering en verlossingswerk van Jesus Christus”.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid vir diegene wat beseer en geraak is deur die Makassar-bomaanval; dat hulle vergifnis sal kan bied en Christus se liefde, as getuienis vir alle Indonesiërs, ten toon kan stel;
  • vir die veiligheid en beskerming van gelowiges (in Indonesië en oor die wêreld heen) terwyl hulle bymekaarkom om Christus se dood en opstanding te herdenk; en
  • dat die Christelike gemeenskap van Indonesië die Evangelie te midde van toenemende vervolging moedig sal deel.

7 April 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.