11 Junie 2019

Christene in verskeie dorpies in die Chhattisgarh-staat, Indië, ly honger nadat lede van die gemeenskap hulle van werk ontneem het en weier om kos aan hulle te verkoop, het bronne gesê.

In die suide van die Chhattisgarh-staat het inwoners die huise van drie Christelike gesinne in Bodiguda aangeval. Hulle het 25 mense dakloos gelaat, waaronder vier babas.

“Hulle huise is in puin,” het die leraar, Philip Veeti, aan Morning Star News gesê. “Die aanvallers het graan wat die Christene vir die hele jaar sou voed, in die drein afgegooi. Die gesinne kan skaars hul mae vul met die beperkte voorrade wat oor is.”

Die inwoners het die Christene gewaarsku om hul geloof te laat vaar of gereed wees om te sterf, het hy gesê. Toe die drie gesinne weier, het ’n skare van sowat 150 mense die dakke van die drie huise afgebreek en die Christene se klere en ander besittings uitgegooi.

Die enigste broodwenners van die gesinne, Sariam Virma, Kurram Desa en Panda Suba, het uit vrees vir hulle lewens na Injaram gevlug, ’n dorpie 35 km weg. Hul gesinne in Bodiguda woon nou onder die skaduwee van ’n tamarind-boom in temperature van meer as 42 Celsius. Die vroue het ook ’n skuiling van hout en gras opgerig.

“Die skuiling kan skaars enige skaduwee bied. Hulle kinders het sonsteek en is baie swak,” het Veeti gesê.

“Ons bid vir fondse om weer vir hulle huise te bou,” het hy gesê. “Die dorpsraad is nie gereed om die gesinne vir die verlies te vergoed nie. Selfs die polisie gee nie om nie. Ons het ’n petisie aan die landdros voorgelê, maar tot dusver het daar nog niks gebeur nie.

Nog ’n Christen-gesin in Charama kan as gevolg van hul geloof nie kos en ander basiese benodigdhede koop nie, het bronne gesê.

Dorpsouderlinge het aangekondig dat die Christene: Vishweshwar Sahu, Shivprasad Sahu, Shravan Kumar en hul gesinne uitgeworpenes is. “Sedert die aankondiging weier die winkeliers in die dorp om selfs die basiese benodigdhede aan ons te verkoop,” het Vishweshwar Sahu aan Morning Star News gesê.

Vroeër vanjaar het leiers van Dargahan-dorp, in die Dhamtari-distrik, agt Christen-gesinne ontbied en hulle meegedeel dat die Christene nie toegelaat sal word om in die dorp te werk nie, het Rajaram Nisad, inwoner van die gebied, gesê.

“Ons reis na naburige dorpe om werk te soek,” het hy gesê. “Ons word verbied om openbare vervoer en ander voertuie te gebruik. Ons spandeer 1 000 rupees of meer om trekkers van dorpe 24 km ver te huur. ”

Enigiemand in die dorp wat met die Christene praat of hulle ’n rit aanbied, word met 5 000 rupees beboet.


Bron: christianheadlines.com

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.