Deur dr. Louis en Thea Blom

Vroeg in Maart 2020 het die lewe nog “normaal” daarna uitgesien. Die koronavirus – wat sedertdien gesorg het dat die wêreld agt maande lank in ’n staat van inperking weggesluit is – was nog net ’n bedreiging in Wuhan, China. Die Blom-gesin – Louis, Thea en hulle seun Leo – het besluit om vir ’n vinnige wegbreekvakansie na Mosambiek te gaan. Min het hulle geweet dat Suid-Afrika streng inperkingsreëls gaan afdwing en die land se grense vir internasionale reisigers sou sluit en hulle gestrand laat, sonder enige manier om terug te keer huis toe.

’n Onseker tyd
“Ons het heerlik vakansie gehou en tyd as gesin saam deurgebring. Toe kom die inperking … Omdat hulle die grense gesluit het, kon ons nie terugkeer huis toe nie,” het Louis vertel. Die onsekerheid om tydens ’n internasionale pandemie uit jou eie land gesluit te wees, kan baie ontstellend wees. Tog
het die Blom-gesin dit as ’n geleentheid beskou om Christus se liefde te deel.

Die oes in Afrika
Tesame met ’n span leiers bestuur Louis en Thea ’n sendingorganisasie in Pretoria wat God se arbeiders help mobiliseer, toerus en van hulpbronne voorsien sodat hulle Sy oes in Afrika kan insamel. Judea Harvest verskaf tente wat ’n uiters koste-effektiewe en mobiele manier is om in agtergeblewe gemeenskappe te bedien en ’n positiewe uitwerking op die lewens van die mense in Afrika te hê. Tot op hede het hulle meer as 3 750 Evangelietente in Suider-Afrika versprei en dit moontlik gemaak om kerke en selfs kleuterskole te plant. Om in Mosambiek ingeperk te wees, het egter groot uitdagings aan hulle bediening gestel omdat Louis en Thea nie beskikbaar was om in Suid-Afrika te help en hand by te sit, juis toe ons land hulp die meeste nodig gehad het nie.

‘Die toestande was verskriklik’
Nadat hulle weke lank in Mosambiek gestrand was, is die grense uiteindelik oopgestel sodat Suid-Afrikaners kon terugkeer na die land. Toe die Blom-gesin die grens oorsteek, is hulle onder polisiebegeleiding in ’n konvooi motors na ’n kwarantynfasiliteit geneem. As voorsorg-maatreël moes hulle vir twee weke in die kamp bly voordat hulle weer sou kon huis toe gaan.

“Hulle het ons verseker dat die kwarantynfasiliteite baie goed was en dat almal vir COVID-19 gemonitor en getoets sal word. Tot ons ontsteltenis was dit nie die geval nie. Ons het almal onder haglike omstandighede gewoon. My vrou het baie siek geword en ek het gesukkel om medikasie vir haar in die hande te kry,” het Louis gesê. “Die fasiliteite was vuil en glad nie goed onderhou nie. Die kos was feitlik oneetbaar.”

Toegewy om ander op te hef
Thea is die hoof- uitvoerende bestuurder van Judea Hope, ’n sending wat onder Judea Harvest val en wat verskeie opheffings- en ontwikkelingsprojekte in Suid-Afrika behartig. Hierdie projekte fokus op kwesbare kinders in die plattelandse gebiede en informele nedersettings en het meer as 1 300 kindersorgsentrums gevestig. Gedurende die afgelope 21 jaar het Judea Hope bewys dat die organisasie die lewens van kinders in agtergeblewe gemeenskappe suksesvol kan verander.

Hulp aan ander terwyl hulleself hulp nodig het
Gedurende hul tyd in die kwarantynkamp het Louis en Thea baie geleentheid gehad om stil by die Here te wees. “By ons kantore vir Judea Harvest en Judea Hope in Pretoria is ons organisasie met versoeke vir kos oorval – terwyl ons self onder haglike omstandighede gewoon het,” vertel Louis. “Ek en Thea het besluit om te reël dat kospakkies onder die behoeftiges in kwesbare gebiede in Gauteng en omliggende gebiede uitgedeel word. Ons het per e-pos en via telefoonoproepe met ons personeel gekommunikeer en ’n groot projek begin om kos gedurende hierdie moeilike tye uit te deel. Gelukkig kon Judea Hope weer sy deure open, danksy spesiale regeringspermitte om kos te koop, te verpak en te versprei.”

Hulp aan kwesbare gemeenskappe
Judea Hope het ’n gedehidreerde maaltyd van rys, groente, gars, ertjies, lensies en peulgewasse, met bygevoegde vitamien- en mineraal-aanvullings, geformuleer. Dit voorsien in al die makrovoedingstowwe wat kinders en volwassenes nodig het. “In samewerking met kerke en maatskappye het ons hierdie bokse gedroogde kos aan gesinne in nood uitgedeel. Hierdie kos is ’n tasbare teken van ons liefde vir mense wat in agtergeblewe gemeenskappe woon en weens die pandemie hul inkomste verloor het. Judea Hope was bevoorreg om fondse te ontvang vir die verpakking en verspreiding van voedsel. Ons is so dankbaar dat ons met die ondersteuning van ons waardevolle vennote en skenkers gedurende hierdie tyd meer as 600 000 maaltye verpak het. Ons gaan steeds voort om kos te verpak en maaltye aan mense uit te deel wat weens die COVID-19-pandemie honger ly. Ons streef daarna om teen Desember 2020 een ​​miljoen maaltye te verpak.”

God kan en sal enigeen gebruik
“Gedurende hierdie moeilike tyd het ons pastoor Mois Baloyi van Diepsloot aangestel om kos aan die behoeftiges in Diepsloot en omliggende gebiede uit te deel. Ons het ’n oorweldigende reaksie van dankbaarheid gehad van desperate gesinne wat hierdie kospakkies ontvang het. Hierdie arm gesinne het getuig hoe die kospakkies hulle van hongersnood gered en weer hoop vir die toekoms gegee het. Ons het later gesien hoe sommige gesinne se nood verlig is toe mense weer kon begin werk en hulle ’n inkomste kon verdien,” het Louis verduidelik.

Hierdie verhaal getuig van die feit dat God jou vir Sy doeleindes kan en sal gebruik as jy jou beskikbaar stel, ongeag die omstandighede. Selfs al was die getroue paartjie nie in die land nie, het God hulle gebruik om ander se lewens te help verander en Sy Naam te verheerlik.

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie


10 Oktober 2020

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.