—deur Britt Gillette

Die huidige koronaviruspandemie is nie ’n gebeurtenis waaroor daar in die Bybel geprofeteer word vir die tyd van die “Groot Verdrukking” nie. Die wêreld het bloot nog nie daardie tydperk betree nie. Dit is egter van belang vir ons omdat hierdie pandemie die tafel dek vir die vervulling van die Bybelse profesieë oor die eindtyd. Dit is nie verbasend nie. Politici buit tye van onbestendigheid, rampe en vrees uit om veranderinge in werking te stel wat die landsburgers nooit andersins sou aanvaar het nie. Hier is ’n paar dinge wat jy in die nabye toekoms kan verwag:

1. ’N OPROEP VIR ’N STERK LEIER VIR DIE EUROPESE UNIE
Terwyl ek hierdie artikel skryf, word Amerika erger deur die koronavirus getref as enige ander land. As jy egter die Europese Unie (EU) as ’n enkele nasie beskou en die totale infeksies en sterftes van al sy lidlande bymekaartel, het die koronavirus die EU harder getref as enige ander land. Vroeg in die pandemie het die EU-leiers en talle individuele lande vasgeskop teen die idee om landsgrense te sluit. Dit het veroorsaak dat van die eerste infeksies in Italië oor die hele Europa versprei het. Baie mense glo dat dit verhoed kon word deur ’n sterk uitvoerende gesag. Met gesentraliseerde gesag sou ’n enkele Europese leier grense kon sluit en baie vroeër reeds ’n staat van inperking afgekondig het. In plaas daarvan het elke land sy eie beleid gevolg.

Eenwording van die EU
Wanneer die koronapandemie verby is, sal daar op die EU-leierskap se mislukking gewys word en sal dit as ’n verskoning gebruik word om druk uit te oefen vir ’n sterk uitvoerende leierskap om aan die hoof van die EU te wees. Verskeie kundiges oor profesieë glo dat dit die amp sal wees wat die antichris gaan beklee. Indien wel, sal hy waarskynlik die beheer oorneem van ’n meer verenigde en magtiger EU. Hoekom? Omdat die koronavirus waarskynlik tot verdere eenwording van die EU sal lei.

2. OPROEPE VIR VERDERE INTEGRASIE BINNE DIE EUROPESE UNIE
Die koronavirus het Italië verwoes. Die Italiaanse ekonomie is die vierde grootste ekonomie in die EU en die agtste grootste ekonomie ter wêreld. Sedert die begin van Maart het die land se ekonomie bykans tot stilstand gekom en begin nou stadig maar seker stappe neem om weer op die been te kom. In teenstelling met Amerika, wat geld kan laat druk vir finansiële hulppakkette vir ondernemings en stimulustjeks, beheer Italië nie sy eie geldeenheid nie. Soos die ander EU-lande, gebruik Italië die euro en dit beteken dat sy nasionale skuld in euro uitgewerk word. Die enigste manier waarop Italië sy skuld sal kan delg, is om belasting in te vorder. As die ekonomie sink, daal die belastinginvordering ook. Dit beteken dat Italië binnekort die middelpunt van ’n reuse-skuldkrisis gaan wees.

Onthou jy Griekeland se skuldkrisis?
In 2010 het Griekeland ’n finansiële hulppakket van €110 miljard nodig gehad. Die land kon nie sy skuldbetalings maak nie en ook nie euros laat druk nie. Die moontlikheid van wanbetaling het amper ’n tweede finansiële krisis, kort op die hakke van die 2008 / 2009-resessie, tot gevolg gehad. Tog bly Griekeland se skuld op onvolhoubare vlakke. Vanaf die derde kwartaal van 2019 is Griekse skuld 178% van sy bruto binnelandse produk (BBP) – die slegste skuld-tot-BBP-verhouding in die EU. Die tweede slegste? Italië teen 137%. Maar Italië se ekonomie is tien keer groter as dié van Griekeland. As Italië nie sy staatskuld betaal nie, is bankrotskap sommige van die grootste banke in Italië en Europa se voorland.

Waarom is dit ter sake?
Dit sal die wêreldwye finansiële stelsel “besmet” met skuld. Die gevolglike ineenstorting van wêreldmarkte sal een van die grootste ekonomiese depressies in die geskiedenis veroorsaak. Is daar ’n manier om hierdie ramp te vermy? Doen iets wat baie EU-lande belowe het om nooit te doen nie – deel die skuld. Met ander woorde, verdere integrasie en die skepping van ’n Verenigde State van Europa. Ek glo dit is onvermydelik. Dit sal die finale wêreldryk skep wat Daniël voorspel het (Dan 2; Dan 7).

3. OPROEPE VIR VERSKERPTE MONITOR VAN MENSE
Met inperkings oral in die wêreld, wat die wêreldekonomie tot stilstand bring, word oproepe al hoe dringender om die ekonomieë weer oop te maak en mense toe te laat om te gaan werk (as hulle nog nie begin het nie). Maar hoe kry jy mense “terug by die werk” sonder om ’n skerp styging in nuwe gevalle van die koronavirus te veroorsaak?

Druk vir opsporingstegnologie
Party mense oefen druk uit vir ’n oplossing wat behels dat die samelewing toenemend gemonitor moet word. Hulle glo die regering moet almal se selfone monitor. Wanneer iemand die koronavirus opdoen, kan die regering dan maklik uitvind waar hulle orals was en elkeen opspoor wat binne ’n paar meter van die siek persoon af was. Dan plaas hulle daardie individue onder verpligte kwarantyn. Sommige lande, soos Suid-Korea, doen dit reeds.

Groter beheer deur die regering
Ander mense is ten gunste daarvan dat “passe” aan dié gegee word wat van die koronavirus herstel het. Jy mag dan met hierdie amptelike dokumente in die openbaar reis of teruggaan werk toe. Sommige mense waarsku dat dit die pad na outoritarisme is, maar dit is nie. Sou ons so ’n voorstel in werking stel, is ons reeds by outoritarisme (nie op pad soontoe nie). Hierdie vlak van regeringsbeheer oor die individu is niks anders as waarvan ons in Openbaring 13 lees nie.

4. OPROEPE OM BANKNOTE MET ’N WÊRELDKRIPTO-GELDEENHEID TE VERVANG
Die gebruik van papiergeldeenhede het dramaties in hierdie nuwe era van aanlynbestelling en sosiale afstand afgeneem. Banknote is ’n broeiplek vir bakterieë en virusse en kan die verspreiding van die koronavirus versnel. Wees as gevolg hiervan op die uitkyk vir politici wat ’n beroep doen dat daar ’n einde gemaak moet word aan die gebruik van papiergeld (soos dit reeds in China gebeur).

Wat van die armes?
Intussen spook regerings om stimulusbetalings vinnig by die werkloses uit te kry. Die probleem bied die perfekte dekmantel vir die implementering van ’n virtuele beursie en ’n kriptogeldeenheid wat deur die regering geborg word. Dit sal maklik wees om mense te oortuig om aan te meld. Die regering hoef net elkeen wat by die virtuele beursieprogram aanmeld, ’n paar duisend rand aanbied. Sodra almal aangemeld het, sal die regering die gebruik van alle ander geldeenhede, behalwe sy eie kriptogeldeenheid, uitskakel. Dit gee die regering dan toegang tot die fynste besonderhede van elke transaksie waarby jy betrokke is. Dit sal hulle ook die vermoë gee om die bepalings en voorwaardes van al die transaksies te beheer. As hulle nie van iets hou wat jy doen nie? Dan sny hulle bloot die toegang tot jou virtuele beursie af en sny jou van alle handel af.

Dit is wat die Bybel voorspel
Die tegnologie om hierdie stelsel te implementeer, bestaan ​​reeds en die Bybel het gewaarsku dat dit kom. Die Bybel sê die antichris sal hierdie stelsel in werking stel: “En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ’n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.” – Openbaring 13:16-17

5. VERMINDERDE AANVRAAG NA OLIE
Die koronavirus het fabrieke laat sluit, hou vliegtuie op die grond gestrand en het die aantal motors wat rondry, laat afneem. Die wêreldwye aanvraag vir olie het met 29 miljoen vate per dag afgeneem tot ’n vlak wat laas in 1995 gesien is. Die prys van olie het aan die begin van die jaar van ongeveer $60 per vat tot ongeveer $20 per vat gedaal, nádat dit ’n paar dae selfs naby $0 verhandel het! Dit het natuurlik ’n ongekende uitwerking op die wêreldwye oliebedryf gehad.

Rusland se onwilligheid om toe te gee
In Maart het die Organisasie van die Petroleumuitvoerlande (OPEC) gepoog om ’n vermindering van olieproduksie met Rusland te koördineer. Toe Rusland weier, het Saoedi-Arabië gereageer met verhoogde produksie. Daar is dié wat dink Saoedi-Arabië wou hiermee sy markaandeel vergroot, pryse verlaag en Rusland terugdwing na die onderhandelingstafel. Ongeag sy ware bedoelings, het Saoedi-Arabië se dade ’n diepgaande en negatiewe invloed op Rusland gehad. In April het Rusland uiteindelik ingestem om sy olieproduksie te verminder, maar jy kan daarvan seker wees dat Wladimir Poetin ontevrede is. Om ’n hoë-profiel olieprysoorlog en miljarde dollars per dag aan oliewins te verloor, is nie iets wat hy maklik sal vergeet nie.

Sal dit tot die volgende oorlog lei?
Hoewel Saoedi-Arabië die voordeel van groot oliereserwes het, het Rusland ’n groter voordeel op die militêre gebied. Wat sal gebeur as Rusland Saoedi-Arabië binneval? Ongeveer 40% van die wêreld se bewese oliereserwes is in die Midde-Ooste. As Rusland die Midde-Ooste beheer, kan hy die wêreld se olie beheer. Slegs twee nasies staan ​​in Poetin se pad – Amerika en Israel. As ’n wêreldwye depressie, die wegraping, of ’n ander groot gebeurtenis die Amerikaanse beleid oor die Midde-Ooste verander, sal dit net Israel wees wat tussen Rusland en volkome oorheersing van die globale oliemark staan. Dit wat op die spel is motiveer Rusland om kragte met Iran saam te snoer en Israel uit die pad te kry. Dit sal hulle kollektiewe houvas op die streek verseker.

Die Bybel sê dit sal gebeur
Esegiël het meer as 2 600 jaar gelede ’n alliansie onthul wat bestaan ​​uit Rusland, Iran, Turkye en ander nasies in die streek. Hierdie groep sal vanuit die noorde ’n verrassingsaanval op Israel loods (Es 38-39). Elkeen van die belangrike rolspelers het sedert 2011, toe die Siriese burgeroorlog begin het, hul magte na Sirië verskuif. Rusland en sy bondgenote sit tans op Israel se noordelike grens. Dit is die rigting waarvandaan hulle volgens Esegiël sal aanval (Es 38:15; 39:2). Die olieprysoorlog, wat deur die koronavirus veroorsaak is, is nog ’n rede om te verwag dat ons nader aan die vervulling van Esegiël 38-39 kom.

Die eindtyd is in aantog
Die woord “koronavirus” kom nie in die Bybel voor nie en dít wat ons nou sien, is nie een van die gebeure van die Groot Verdrukking nie. Die koronavirus is egter een van die algemene tekens, wat Jesus gesê het, ons op die uitkyk voor moet wees. Dit baan die weg vir die wegraping van die Kerk en die koms van die Groot Verdrukking. Toe Jesus gevra is om die tekens vir Sy wederkoms te beskryf, het Jesus van pandemies (plae) gepraat – net soos die een wat ons nou ervaar – as ’n belangrike teken (Luk 21:11). Maar dit sal nie die enigste teken wees waarvoor ons moet op die uitkyk moet wees nie. Hy het gesê ons moet uitkyk vir die Joodse volk wat weer besit sal neem van Jerusalem (Luk 21:24-28). Hy het gesê ons moet uitkyk vir die Joodse volk wat terugkeer na Israel
(Jer 23:7-8). En Hy het gesê ons moet uitkyk vir die Evangelie wat tot aan die uithoeke van die aarde verkondig word (Matt 24:14).

Die profete het gesê ons moet op die tekens van die tye let
Hulle het gesê ons moet let op die volgende tekens: ’n Tyd wanneer Israel ’n “’n ontsaglike groot leër!” het (Es 37:10). Die opkoms van die Gog van Magog se bondgenootskap (Es 38-39). Die opkoms van ’n hernude Romeinse Ryk (Dan 2; 7, Op 17). Die opkoms van die wêreldregering (Op 13:7) en die opkoms van ’n enkele wêreldgeldeenheid-stelsel (Op 13:16-17). Ons sien deesdae baie van hierdie tekens. Jesus het ons beveel om op die uitkyk te wees daarvoor. Hy het ons gewaarsku om nie aan die slaap te wees wanneer die Meester onverwags opdaag nie (Mark 13:36). Die koronavirus is God se wekroep aan dié wat vas aan die slaap was. Die pandemie baan die weg vir die wegraping van die Kerk, die koms van die antichris en die wederkoms van Jesus Christus. Sorg dat jy nie aan die slaap is nie!

BRITT GILLETTE is die skrywer van die gratis e-boek, Coming to Jesus, en die boeke, Signs of the Second Coming en Racing Toward Armageddon.


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.