Bron: Artikel verskaf deur ATT

Dit is vandag Wêreld-fetale alkoholsindroom (FAS) dag. Lees gerus oor die Afrikaanse Toekomstrust (ATT) se suksesvolle projek in Rawsonville wat hul bestuur om FAS hok te slaan.

Gee om en belê saam met die Afrikaanse Toekomstrust om SA se FAS-probleem hok te slaan

Volgens die Wes-Kaapse regering is die beste ding wat ’n mamma vir haar ongebore baba kan doen, om alkohol te vermy. Tog het die historiese drinkkultuur, beter bekend as die ‘dopstelsel’, daarvoor gesorg dat hierdie provinsie wêreldwyd die hoogste voorkoms van fetale alkoholsindroom (FAS) het!

“’n Studie wat in 2019 onderneem is, het skokkend berig dat meer as 20% van kinders wat in die Wes-Kaap gebore word aan FAS lei, vergeleke met minder as 1% swangerskappe wêreldwyd. Daarom is sentrums — soos die Afrikaanse Toekomstrust se inisiatief in Rawsonville — wat verwagtende moeders opvoed en hierdie kinders se potensiaal kan ontgin, onmisbaar,‖sê Dinah Bronkhorst, die uitvoerende hoof van die ATT.

Hierdie nie-winsgewende organisasie, in samewerking met Care Protect Invest South Africa (CPI SA), maak groot vordering daarin om die bose kringloop van alkoholverslawing en -misbruik binne die Rawsonville-gemeenskap te verbreek. Hul bied onder andere kampe en opleidingsessies aan en het ook ondersteuningsgroepe wat inwoners bewus maak en opvoed oor die gevare van alkoholgebruik.

Volgens Bronkhorst neem verwagtende moeders wat drank gebruik selde in ag wat dit aan hul fetus se ontwikkeling en breinfunksie doen. Alkohol wat ’n ongebore baba se bloedstroom binnedring, rig onomkeerbare skade aan.

“Afgesien van die fisiese verskille tussen ’n FAS-baba en ’n gesonde kind, is die onsigbare, permanente skade aan die brein onherroeplik. FAS strem kinders se fisieke groei, vertraag hul intellektuele ontwikkeling en maak hul kwesbaar vir siektes wat groot druk op SA se gesondheids- en onderwysstelsels plaas. Die breinskade maak dit holisties vir hom of haar onmoontlik om in ’n normale hoofstroom skool te kan funksioneer,‖sê sy.

Bronkhorst noem dat eenvoudige take, soos om ’n potlood vas te hou en te kan konsentreer, ’n uitdaging vir hulle is. Danksy die Afrikaanse Toekomstrust se Rawsonville-projek is ’n FAS-vriendelike klaskamer, waar hierdie kinders nou die spesiale aandag kry wat hul benodig om hul potensiaal te kan bereik, op die been gebring.

”Dit is belangrik dat hulle onderrig word op ’n vlak wat hul kan verstaan, toegerus word met ’n ambag, leer van basiese higiëne en hul selfwaarde herstel word sodat hul verantwoordelikheid vir hul eie lewe kan neem, onafhanklik kan funksioneer en nie in die gat van drankmisbruik verval nie,‖ sê Bronkhorst.

Die ATT bedryf ook sedert 2017 ’n nasorgsentrum waar nagenoeg 18 kinders met huiswerk gehelp en hul basiese fyn motoriese vaardighede gestimuleer word. ’n Gemeenskapsleier, Gladys van Wyk, is aan die stuur van hierdie suksesvolle projek.

“Mense in die gemeenskap het die hoogste respek vir haar; hulle vertrou haar. Haar beskeie benadering verseker dat verskeie plaaslike besighede en organisasies, en selfs owerhede soos die polisie, ingekoop het.

Terwyl SA stoei om die vernietigende siklus en uitdagings van alkoholverslawing te verbreek, word Wêreldfetale alkoholsindroom (FAS) dag simbolies jaarliks op die negende dag van die negende maand om nege minute oor nege herdenk.

“Die Afrikaanse Toekomstrust wil maatskappye vanjaar — as deel van hul maatskaplike verantwoordelikheidsprogram — uitdaag om ’n skenking tot die Rawsonville-projek te maak. Die publiek is ook welkom om nuwe of tweedehandse opvoedkundige speelgoed, houtblokkies, legkaarte, inkleurboeke, stoele, tafels en dies meer te skenk. U kan ook ’n R50-donasie maak deur die woord FAS na 40112 te SMS.


9 September 2021

 

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.