Deur: Christ for all Nations

Voel dit soms vir jou of daar ’n duisend stemme is wat om jou aandag meeding? Stemme wat luidrugtig beswaar maak oor die verskriklike dinge wat op die oomblik in die wêreld gebeur. Ons het meer toegang tot inligting as ooit tevore in die geskiedenis en tog voel dit soms asof niks waar is nie. ’n Mens kan nie meer alles wat jy in hierdie wêreld sien of hoor, vertrou nie. Ek wil jou vandag aanmoedig om nie meer na al daardie stemme te luister nie. Lees liewer hierdie wonderlike getuienisse. Dit is nuus wat jy kan vertrou. Dit is die tipe inligting wat ons met almal behoort te deel – Jesus leef! En Hy red, genees en verander mense steeds. Ons sal van Sy getrouheid getuig. Ons sal Hom prys vir alles wat Hy gedoen het. Wanneer ons dit doen, vervaag die fopnuus van die wêreld in die nietigheid.

 
 

Verlam na haar swangerskap, maar nou loop sy weer
Vir ’n vrou is die geboorte van haar kind een van die wonderlikste oomblikke van haar lewe, maar vir Ogechu Okereke was die geboorte van haar kind die begin van ’n nagmerrie. Komplikasies tydens die bevalling het veroorsaak dat sy van haar middellyf af verlam was. ’n Donker wanhoop het posgevat en sy het meer as ’n jaar lank in moedeloosheid verval. Toe hoor sy van ’n geleentheid waar wanhopiges soos sy, weer hoop kon vind. Toe Ogechu by CfaN se Groot Evangelieveldtog opdaag, het sy die kleinste saadjie van geloof gehad dat die Jesus van die Bybel, wat siekes en kreupeles genees het, nie Sy reddende en genesende krag verloor het nie. Iets het begin gebeur toe Daniel Kolenda uit God se Woord begin preek en vir die siekes bid. “Daar was ’n vreemde gewaarwording in my liggaam. My brein het vir my gesê ek moet begin beweeg. Ek het begin loop,” sê Ogechu. Sy kon nie wag om by die verhoog uit te kom en vir almal te wys dat sy nou regop kan sit, staan ​​en loop nie! Omdat Jesus Ogechu aangeraak het, kan sy nou sonder enige pyn loop, haar kind versorg en ’n normale lewe lei. Sy is altyd die eerste een om vir mense te vertel dat niks onmoontlik is as jy op God vertrou nie.

 

Jesus het my aangeraak
Daniel Tate was nog altyd lief daarvoor om aktief te wees en hard te werk. Hy het vegkuns beoefen en harde kragoefeninge gedoen. Maar sy wêreld het eendag terwyl hy gewerk het, dramaties verander. Hy het ’n groot breuk in sy skrotum opgedoen. Die dokters het aan die linkerkant geopereer, maar kort voor lank het hy ook ’n breuk aan die regterkant opgedoen. Skielik kon hy nie meer fisieke, swaar werk verrig nie. Toe hoor Daniel Tate dat Daniel Kolenda hulle omgewing gaan besoek. Volgens hom het hy in daardie stadium maar min geloof gehad, tog het iets hom aangespoor om die byeenkoms by te woon. Daniel Tate het opgewonde geraak toe die evangelis oor sy ooroupagrootjie se genesing getuig. Daniel het gesê: “Vandag is die dag; ek gaan vandag genees word.” Kolenda het begin bid en gesê: “Mense, moenie julle geloof in my plaas nie, kyk na die Here!” Kolenda het toe ’n woord van kennis ontvang dat iemand in die skare ’n breuk het – maar toe die evangelis dié wat ’n breuk het, beveel om hardop uit te roep en die Here te vra om hulle te genees, kon Daniel Tate dít nie eens doen nie omdat sy breuk so erg was. Hy het saggies uitgeroep: “Heilige Gees, neem dit weg! Jesus, laat U wil geskied!” “Terwyl ek bid, het ek ’n skok in my bene gevoel. Hulle het begin beweeg; ek het die Here gedank. Ek kon voel dat my skrotum nie meer so geswel was nie en skielik het die breuk begin verdwyn,” vertel Daniel Tate. Hy het hom na die verhoog gehaas om van die wonderwerk te getuig. Daarna is hy huis toe met groot dankbaarheid oor sy genesing. Hy kon weer normaal werk en oefen. “Die Here Jesus het my aangeraak,” sê hy.

 

Ek het besluit om te gaan omdat ek glo
Vir die 67-jarige James David het dit alles begin toe hy ’n stuk grond oopkap om gewasse te plant. ’n Tak het hom in sy linkeroog getref terwyl hy besig was om die digte bosse uit te kap. Dit het groot skade aangerig. Hy het dokters en oogklinieke besoek, maar die antwoord was altyd dieselfde. “Jy is blind in daardie oog, daar is niks wat ons kan doen nie.” James het geweier dat die dokters die oog verwyder. Hy was baie terneergedruk, veral toe sy goeie oog ook probleme begin gee. Hy het vir sy suster en sy pastoor gesê: “As hierdie oog ook blind word, wil ek nie meer aangaan nie. Ek wil nie hê ander mense moet my oral heen begelei nie. Ek sal doodeenvoudig bleikmiddel drink en dit alles beëindig.” Sy pastoor het gepleit: “Moet dit asseblief nie doen nie! Ek sal vir jou bid!” James het ’n katarakoperasie ondergaan, maar daar was niks wat hulle vir die blinde oog kon doen nie. Dit was toe dat James ’n plakkaat sien wat CfaN se Evangelieveldtog in Liberië aankondig. “Ek is ’n gelowige. Toe ek van die veldtog uitvind, het ek dus besluit om te gaan, want as jy geloof in God het, sal jy gesond word.” Daar in die skare, met tienduisende mense om hom, het James vertrou dat God ’n wonderwerk vir hom kan doen. Van die verhoog af het hy gehoor hoe die evangelis sê: “Sit julle hande op julle oë. Ek beveel elke blinde oog om oop te gaan. Ontvang julle sig in die Naam van Jesus.” Aanvanklik was James te bang om sy hand van sy oog af te haal; bang dat hy nog blind sou wees. Maar toe hy dit doen, kon hy die skare om hom duidelik sien. Met groot vreugde het hy sy weg na die verhoog gebaan om sy verhaal te vertel. “Ek het baie goed gevoel. Ek het innerlike gebewe. Die Heilige Gees het my aangeraak! Ek het die mense vertel wat met my gebeur het en hulle het saam met my gejubel. Ek dank die Here dat Hy ’n wonderwerk vir my gedoen het. Ek is oortuig as Hy dit vir my gedoen het, kan Hy ook vir ander mense wonderwerke verrig.”

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie


9 Oktober 2020

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.