Bron: cip.nl

’n Driejarige meisietjie se lewe was op die spel terwyl Mission Aviation Fellowship (MAF) en Ambassador Aviation se vliegtuig op die aanloopbaan in Mosambiek gewag het vir toestemming om op te styg. Die vlug was haar enigste kans, maar hulle het nog nie hulle vlugoperateursertifikaat van die owerhede ontvang nie – sonder die lisensie kon die vlug nie plaasvind nie …

Die span van MAF- en Ambassador Aviation in Mosambiek was al ’n paar dae lank onrustig hieroor. Soos enige lugdiens, het MAF ook die lisensie nodig om te mag vlieg, maar sy sertifikaat het verval  en die hernuwing het om die een of ander onverklaarbare rede gesloer. Selfs ’n oproep na die ministerie van burgerlike lugvaart het niks opgelewer nie. Hulle het dae lank in spanning gesit en wag vir die sertifikaat, maar niks het gebeur nie. Toe die telefoon skielik lui het die programbestuurder, Dave LePoidevin, gehoop dit is die oproep om te sê dat hulle uiteindelik die sertifikaat gekry het. Dit was egter Pete van Ethnos 360, ’n sendingorganisasie. Hy was desperaat. Die dogtertjie, Joanna, van een van hulle gesinne was ernstig siek. Sy moes inderhaas na ’n goeie hospitaal geneem word, maar die gesin se woning is so verafgeleë dat Joanna nie die reis in ’n motor sou oorleef nie. ’n Vlug was Joanna se enigste kans … maar die vliegtuie het steeds nie die nodige lisensie gehad nie.

Dave het weer eens die owerhede gekontak. Hierdie keer met die grondige rede dat ’n dogtertjie se lewe nou in die weegskaal is . ’n Handtekening het tussen haar en die dood gestaan. Daar kon ten minste eenmalige toestemming verleen word vir hierdie enkele vlug!

Terselfdertyd as hierdie gesprekke met die owerhede, het talle mense in gebed begin intree dat die toestemming verleen sal word en dat Joanna ’n kans sal kry om te oorleef. Die eerste gebed is meer as beantwoord: deur God se genade het MAF nie net eenmalige toestemming vir hierdie vlug gekry nie, maar die sertifikaat is met een maand verleng. Prys die Here!

Alles het daarna baie vinnig verloop. Dave en sy medevlieënier het na Micaune gevlieg waar Joanna se ouers reeds met hul dogtertjie in hul arms op die aanloopbaan gewag het. Dave het teruggevlieg na Nampula vanwaar hulle direk na ’n groot hospitaal vertrek het. Daar is Joanna dadelik behandel; dokters het nie geweet of sy die nag sou oorleef nie.

Maar weer eens was die genade van God werksaam. Joanna het die nag oorleef en stadig maar seker begin herstel. ’n Week later het sy weer begin eet, gesels en selfs weer begin speel. Joanna se ma het enkele dae na die vlug ’n stemboodskap van Joanna gestuur. In die soetste stemmetjie het die dogtertjie gesê: “Dankie dat julle my hierheen gebring het. Ek is baie lief vir julle.”

Dit was die beste dankie wat Dave nog ooit vir ’n ambulansvlug ontvang het: “Ek wens julle kon dit hoor, want hierdie ‘dankie’ is ook aan almal wat vir ons gebid en ons ondersteun het!”


6 Mei 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.