Deur: Lita Cosner

Baie mense hou van opreggeteelde honde. Hulle is bereid om baie duur te betaal vir die kenmerkende eienskappe en voorspelbare geaardhede van die gekose honderas. Maar is hierdie gewenste “rassuiwerheid” goed vir die honde se gesondheid?

Waar kom honderasse vandaan?
Mak honde bestaan reeds duisende jare lank. Die verskillende “hondesoorte” het ontstaan, toe mense honde selektief vir hul voorkeureienskappe begin teel het. Daardie eienskappe het meestal verband gehou met die tipe werk wat die hond moes doen – soos om te jag, vee te beskerm of vee aan te jaag. Sommige soorte het ’n kenmerkende voorkoms begin aanneem. Dit was deels te wyte aan mutasies (wat bv. die kleur, grootte en gesigsvorm beïnvloed het). Deur die nuttige eienskappe te identifiseer en dan honde met daardie kenmerke te laat inteel, is die eienskappe egter verder beklemtoon. Dit was die oorsprong van honderasse.

Registrasie en stoetboeke
In die 1800’s is die Victoriane deur die nuwe wetenskaplike kennis oor dieretelery gefassineer. Die wydverspreide belangstelling in selektiewe teling het daartoe gelei dat mense nuwe soorte honde begin teel het. Om bestaande rasse noukeurig te definieer, nuwe hondesoorte te registreer en teling te dokumenteer, is die eerste hondeklub gestig [Britse hondeklub, 1873]. ’n Geslote stamboek is vir elke ras geskep. Dit het die telers van hierdie ras vir ewig tot die nasate van slegs daardie spesifieke diere beperk.

Evolusionêre eugenetika
Terselfdertyd het evolusionêre denke tot eugenetika gelei. Dit is deur Charles Darwin se neef, Francis Galton uitgedink. Eugenetika behels die idee dat die teling van die “suiwerste” individue – mens of dier – tot beter nakomelinge sou lei. Ongewenste individue is verhoed om te teel en die toekomstige bloedlyn van ’n bepaalde spesie te “bederf”.

Die meeste wetenskaplikes beskou dit nie meer in ’n gunstige lig nie. Tog vorm eugenetika steeds die grondslag vir opreggeteelde honderasse – en het soms verskriklike gevolge vir die honde.

Die ‘mooiste’ honde is die ‘beste’
Die hondeklub het ’n “rasstandaard” vir elke hond ontwikkel. Dit is ’n geskrewe beskrywing van die ideale hond vir elke ras. Die beskrywing van die rasstandaard word egter volgens die heersende “mode” geïnterpreteer. Dít het mettertyd by verskeie rasse tot oordrewe eienskappe gelei.

Die Engelse bulhond
Die Amerikaanse hondeklub se rasstandaard vir die Engelse bulhond sê byvoorbeeld dat dit ’n “massiewe kop met ’n kort snoet moet hê”. Hoe massief? “Die omtrek van die skedel voor die ore moet ten minste dieselfde wees as die hond se hoogte by die skouers.” (Let wel – dit is die minimum, daar is geen beperking vir die maksimum nie. Dit is dié soort beskrywing wat tot uiterstes lei.) Die resultaat? Meer as 90% van die bulhondhondjies moet met ’n keisersnee gebore word. As ons die hedendaag-
se Engelse bulhond met die voorstellings van bulhonde in skilderye uit die 1800’s vergelyk, kan ons sien dat die standaard geïnterpreteer is om die kenmerke toenemend te oordryf.

Nadelig vir die diere
Toe die telers besluit het dat sekere eienskappe wenslik was, het hulle kunsmatige seleksie toegepas. Daar is byvoorbeeld meer met bulhonde met ’n korter snoet geteel. In teenstelling met natuurlike seleksie, is ’n korter snoet glad nie voordelig nie. Die keuse is op kosmetiese redes gegrond. Dit beteken dat ongewenste newe-effekte nie uitgewis is nie. Darwin het kunsmatige seleksie as voorbeeld gebruik van hoe natuurlike seleksie in die natuur werk, maar net oor ’n langer tydperk. Al wat kunsmatige seleksie bewys het, is dat die meeste veranderinge nadelig vir die dier is. Deur slegs op die visuele eienskappe te fokus, het telers daarvoor gesorg dat onsigbare mutasies dikwels saam met die “wenslike” eienskappe oorgedra is.

Slegs die ‘beste’ diere
’n Honderas het reeds ’n genepoel wat kunsmatig beperk is, want om opreggeteelde hondjies te kry, moet ’n mens ’n Engelse bulhond met ’n Engelse bulhond teel. Die genepoel word nog kleiner gemaak wanneer daar nie met honde wat “ongewenste” kenmerke het – soos die “verkeerde” kleur neus – geteel word nie. Die verkeerde kleur neus verskyn dan nie in die volgende geslag nie, maar ook nie die hond se ander gene nie.

Die teenoorgestelde gebeur. Daar word baie met die “beste” individue geteel. ’n Gewilde kampioenreun kan die vaar van dosyne werpsels hondjies wees – en sodoende ’n baie groter genetiese uitwerking hê as normaalweg. Dít, gekombineer met die uitskakeling van “minder gewenste” honde uit die genepoel, verminder die genetiese verskeidenheid van die hele ras. In die ergste geval kan ’n kampioen-reun ’n siekte aan ’n hele ras oordra.

Een voorbeeld van uiterste inteling
Dit kon die geval gewees het van niersiektes by jong bokserhondjies. Een hond, Gucci, is in 2007 as “hoofvaar” aangewys en was die vaar van 894 hondjies. Gucci se oupa word verbind aan almal behalwe twee voorvalle van niersiektes in jong bokserhondjies en Gucci word met bykans die helfte verbind. Dit is ’n resessiewe genetiese toestand – dit kan slegs voorkom as ’n hond twee kopieë van die foutiewe geen ontvang. Dit sou nie ’n groot probleem wees in ’n spesie met normale genetiese verskeidenheid, waar nou verwante diere nie gepaar word nie. Maar tot heel onlangs was uiterste inteling ’n algemene praktyk – soos wanneer die reun met een van sy eie vroulike nakomelinge gepaar word. Dit veroorsaak dat baie honde draers van die mutasie is óf die siekte het.

Wat dan van gesonde ‘basterhonde’?
Eugenetika slaan “suiwerheid” hoog aan. Dit kan lei tot die irrasionele keuse om siek diere as “suiwer” te beskou en bo gesonde “basterhonde” te verkies. ’n Goeie voorbeeld is die geval van Dalmasiërs met lae uriensuur, of die sg. Low Uric Acid (LUA) Dalmasiërs.

LUA Dalmasiërs
Die normale geen vir uriensuurmetabolisme ontbreek in Dalmasiërs. Die ras het dit as ’n toevallige newe-effek van inteling, verloor. Opgeboude uriensuur veroorsaak jig by die mens. In Dalmasiërs kan dit dodelike blaasstene veroorsaak. Dus moet elke opreggeteelde Dalmasiër ’n spesiale dieet volg en vir blaasstene dopgehou word.

Die geen is egter in 1973 deur kruisteling by ’n sekere bloedlyn teruggeteel. ’n Dalmasiër is met ’n Engelse patryshond gekruis. Die eerste hondjies het nie soos Dalmasiërs gelyk nie, maar deur hulle met opreggeteelde Dalmasiërs te kruis, is daar weer honde bekom wat presies soos Dalmasiërs lyk en wie se DNS 99,98% soos ander Dalmasiërs s’n is – maar hulle het normale uriensuurvlakke. Hierdie LUA Dalmasiërs behoort uiteraard bo hul siek eweknieë verkies te word, maar party mense beskou hulle as “basterhonde”, selfs al het die hondeklub hulle as ware Dalmasiërs aanvaar.

Bemoedigende tekens
Hierdie wegbeweeg van verouderde oortuigings oor “suiwerheid”, ten gunste van die gesondheid van die diere, is ’n bemoedigende teken en die beste manier om die ras se toekoms te verseker. As hierdie oortuiging posvat, kan dit die opreggeteelde honde se lyding en siektes drasties verminder.

Is dit eties?
Hoewel die voorbeeld oor Dalmasiërs belowend is, het sommige rasse nie meer die genetiese diversiteit om die probleme wat deur slegte teelpraktyke veroorsaak is, reg te stel nie. Ander rasse is weer in monsteragtige karikature van hul eertydse self omskep – soos baie van die rasse met ’n kort snoet wat sukkel om asem te haal, te paar en kleintjies te kry.


MOONTLIKE OPLOSSINGS
Laat vaar sekere rasse
Daar is mense wat aandring dat die rasse, wat probleme ondervind met ’n genepoel wat só uitgeput is dat kruisteling die enigste
oplossing vir gesondheidsprobleme is, afgeskaf moet word. Die argument is eenvoudig: As ons werklik van hierdie diere hou, sal ons nie voortgaan om ’n siek dier wat gaan ly, in die wêreld te bring nie.

Skep nuwe rasse
Sommige mense is besig om nuwe rasse te skep, soos die Leavitt-bulhond wat mooi lyk, maar ook gesond en atleties is. Nog beter, nuwe idees oor teling word gegrond op die beste huidige genetiese inligting, wat ten doel het om die ras gesond te hou.

Kruisteling
’n Ander opsie is kruisteling. ’n Hond wat met ’n ander ras gekruis word, vermy dikwels die gesondheidskomplikasies van sy opreggeteelde ouers, maar het ’n redelik voorspelbare voorkoms en temperament. ’n Voorbeeld hiervan is die schnoodle, ’n kruising tussen ’n schnauzer en ’n poedel.

Wees verantwoordelike rentmeesters
Die mens is verantwoordelik vir die teelpraktyke wat ongelukkig allerhande toestande by honderasse tot gevolg gehad het sodat die diere nou onnodig ly.

As Christene moet ons probeer om verantwoordelike rentmeesters van die skepping te wees. Dit sluit die welstand van diere in. As jy dit oorweeg om ’n nuwe hondjie te koop, doen jou navorsing en sorg dat jy ’n gesonde hond by ’n betroubare teler kry. Of, nog beter, neem ’n hond by die dierehawe aan. Wees ingelig oor die voor- en nadele van opreggeteelde honde teenoor “basterhonde” en moenie wegskram van ’n gesonde brak net omdat dit nie ’n lang stamboom het nie.

LITA KOSNER is ’n CMI-skrywer. Robert Zins is beskikbaar vir CMI-aanbiedings. Besoek creation.com of skakel: 021 979 0107, e-pos: sa@creation.info

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.