-deur Chris Eden

Bron: Bridges for Peace South Africa

 7 Oktober 2019

 

Die Anglikaanse Kerk het duidelikheid gegee oor sy teologie betreffende Israel. Dit volg op die kerk se stap om bande met die BDS-beweging te snoer.

Op 26 September 2019 het die Provinsiale Sinode van die Anglikaanse Kerk in Suid-Afrika eenparig  ’n resolusie goedgekeur om die Boycott, Divestment and Sanctions (BDS)-beweging teen Israel te ondersteun.

Die resolusie gee duidelikheid oor die teologiese standpunt van die Anglikaanse Kerk rakende Israel deur te sê dat “die huidige politieke volkstaat van Israel en Israel in die Bybel nie met mekaar verwar moet word nie, en so ook nie die ideologie van Sionisme en die godsdiens van Judaïsme nie.”

Eenvoudig gestel beteken dit dat die talle profesieë wat deur die terugkeer van Israel as ’n volk na die beloofde land van sy voorvaders – soos belowe deur die Bybel – volgens die Anglikaanse Kerk geïgnoreer moet word. Tesame met die Kairos Palestina-dokument wat ook in die resolusie genoem word, is Israel en die Jode nie meer ’n relevante deel van God se plan nie omdat die volk Israel nou deur die Kerk vervang is.

Om Israel se geestelik erfenis te ontken, is nie ’n nuwe verskynsel nie. Ondanks die duidelike lering van die apostel Paulus in Romeine 9-11, en dat die Skrif vol is van die belofte dat Israel sal terugkeer, het die vroeë kerkvaders die verstrooiing van die Joodse volk (wat gelyktydig met die geboorte van die Kerk geskied het) aangegryp as bewys dat die Kerk Israel vervang en dat die seëninge wat aan Israel belowe is, nou op die Kerk van toepassing is. Dit het binne die Christendom die geleentheid vir Christene geskep om instrumenteel te wees in baie van die lyding wat die Jode gedurende die daaropvolgende 1 900 jaar verduur het. Ander, buite die Christendom, het Israel se ondergang as die ondergang van die God van die Bybel beskou. Israel se moderne herstel daag albei standpunte uit.

Is daar ’n prys te betaal wanneer ons Israel verwerp? Afgesien van die Skrif se belofte dat God belowe om dié te seën wat Israel seën, is daar inderdaad ’n groter prys te betaal. Esegiël 36 verklaar God dat die welstand van die volk Israel en die land  ’n weerspieëling van Sy integriteit in die oë van ander is. Daarom is die herstel van die volk en die land noodsaaklik om Sy Naam te herstel. ’n Ander profeet, Jeremia verklaar in Jeremia 16 dat die terugkeer van die volk na die “’ land wat aan hulle vaders belowe is” die boodskap sal uitdra dat die God van Israel inderdaad ’n lewende God is.  Joël 3 praat van ’n oordeel oor die nasies wat die land verdeel en die volk verstrooi.

Ondanks die veroordeling van anti-Semitisme druip die resolusie steeds die toets wat die maatstaf geword het in die bepaling van anti-Semitisme. Dit ontneem Israel van sy wettige status deur die  grondslag vir die bestaan van die volk te ondergrawe. Dit maak van Israel die aartsvyand deur ’n misleidende en onvolledige konteks vir die konflik te verskaf en pas dubbele standaarde toe deur Israel uit te sonder vir die blaam en niks van die ander partye te vereis nie.

As die geslag wat getuig van die profetiese vervulling rakende Israel, is dit belangrik dat ons ons verantwoordelikheid erken om op te staan ​​vir Israel en erkenning te gee aan die belangrike rol wat die land speel om God se Koninkryksplanne tot vervulling te bring.


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.