Bron: icej.org.za

30 Junie 2020

Die Internasionale Christelike Ambassade in Jerusalem, die Suid-Afrikaanse tak (ICEJ) verteenwoordig Christene van alle politieke partye, insluitend die ANC. Die ICEJ maak dus sterk kapsie teen die onlangse verklarings van die ANC-woordvoerder, Pule Mabe, en ander organisasies wat regter Mogeong Mogeong aangeval het oor sy persoonlike siening, as ’n Christelike burger van Suid-Afrika, oor Israel.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het op 23 Junie 2020 in ’n aanlynonderhoud met die hoofrabbyn van Suid-Afrika, Warren Goldstein, sy persoonlike en Christelike opvattings oor Israel gegee. Die gesprek is aangebied deur die redakteur van die Jerusalem Post, Yaakov Katz.

Die hoofregter het gepraat oor hoe haat ’n mens vergiftig en hoe belangrik dit is om daarvan ontslae te raak, om enigsins vordering te maak. Hy het getuig van die haat wat hy voorheen teenoor sy wit landgenote gevoel het en hoe hy dit oorwin het deur die beginsels van sy Christelike geloof uit te leef. Hy is ook beïnvloed deur ’n boek van ’n Joodse outeur wat die Holocaust oorleef het en bevestig het dat vergifnis, as ’n lewenswyse, verhoed dat jy deur haat gevange gehou kan word. Die hoofregter het gesê dit is hierdie “beginsel en sy ingesteldheid, “om almal lief te hê”, wat hom in staat stel om objektiewe en regverdige besluite te neem.

Die hoofregter het erken dat Suid-Afrika se beleid ook op hom van toepassing is en het daarop gewys dat alles wat hy te sê, dus nie verkeerd verstaan ​​moet word nie. Hy het gesê dat hy, soos enige ander burger, geregtig is om kritiek te lewer of selfs voor te stel dat veranderinge nodig is – dit kan met betrekking tot beleid, wette of selfs die Grondwet wees.

Die hoofregter het gesê dat daar mense is wat van hom verwag om die Jode en Israel te haat, maar hy het gesê: “Ek is lief vir die Jode, ek is lief vir Israel, ek is lief vir die Palestyne, ek is lief vir Palestina.”

In die daaropvolgende paar dae het die mense wat van hom verwag om die Jode en Israel te haat, hul gesig gewys. Onder meer die ANC en die EFF. Hulle, en ander, het met versluierde dreigemente ’n beroep op hom gedoen om sy stellings terug te trek. Dit is die standaard boelietaktiek. Dit word beïnvloed deur die Boycott, Divestment and Sanctions (BDS)-beweging en is suksesvol gebruik teen die model, Shashi Naidoo en ander.

Diegene wat hul sterk afkeur teenoor regter Mogoeng se siening uitgespreek het, grond hulle oortuiging op die wanindruk dat Israel ’n “apartheidstaat” is en menseregte verontagsaam.

Die Staat van Israel reik steeds uit na mense van alle rasse en agtergronde, want menseregte is die basis van Israel se grondwet. Alle burgers van Israel, ongeag ras, godsdiens of geslag, het gelyke geleenthede in alle sfere van die Israelse samelewing. Om aan te voer dat Israel ’n apartheidstaat is, minimaliseer wat ware apartheid vir die meerderheid Suid-Afrikaners behels het. Dit dui op ’n doelbewuste ontkenning van wat werklik in Israel gebeur. Die ANC het voorheen amptenare in hul geledere veroordeel wat na Israel gereis het om vir hulleself uit te vind wat die waarheid is. Waarom sou hulle dit doen; tensy die ”feite” wat hulle verkondig, verkeerd is?

Die Palestyns-Israelse aangeleentheid is ingewikkeld en het duidelike historiese en regmatige faktore wat in ag geneem moet word voordat daar vurige stellings gemaak kan word.

Die ANC en ander organisasies word aangeraai om hierdie faktore deeglik te ondersoek voordat hulle beleid rakende die Israel-Palestynse situasie uitreik. Die media-propaganda, terreuraanvalle en voortdurende oproepe deur die Palestynse Owerheid, Hamas en omliggende state om Israel te vernietig, moet gesien word vir wat dit is: ’n Poging om Israeli’s se reg – om in vrede en veiligheid saam te woon – te ondermyn. Die wortel van hierdie anti-Sionistiese verklarings, is eintlik anti-Semities en is die oudste vorm van rassisme! (Sionisme is die Jode se reg tot hulle antieke vaderland.)

Die reg op vryheid van godsdiens word in die Grondwet van Suid-Afrika verskans. Hoofstuk 2 van die Grondwet van Suid-Afrika, wat die Handves van Regte bevat, verklaar dat elkeen die reg op godsdiensvryheid, vryheid van oortuiging en mening geniet. Artikel 9, die gelykheidsklousule, verbied onbillike diskriminasie op verskeie gronde – insluitend op grond van godsdiens.

Die hoofregter is ook onderhewig aan die Grondwet, waarvan hy die bewaarder is, en daarom is dit ongrondwetlik en ondemokraties om te impliseer dat die hoofregter nie sy persoonlike mening vrylik mag uitspreek.

Die handves van godsdiensregte en -verantwoordelikhede is op 21 Oktober 2010 onderteken. In sy toespraak het adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke gesê: “Waar godsdiensregte strydig is met ander grondwetlike waarborge of ’n wettige regeringsdoelwit, moet die konflik noukeurig opgeweeg word, met inagneming dat die Grondwet in ons grondwetlike demokrasie die hoogste gesag is en daar geen hiërargie van regte is nie. Alle regte is gelyk. Ons het almal die reg om anders te wees.”

Sluit dit nie ook regter Mogoeng Mogoeng se reg in om ’n mening te hê wat strydig is met, en onafhanklik is van, ’n bepaalde ANC-beleid nie?

Christene van verskillende partye en kerke moet opstaan ​​wanneer aanvalle op ons grondwetlike reg van godsdiensvryheid gemaak word, veral as dit deur ons regering, politieke partye en ongelukkig ook, sommige kerke en godsdiensorganisasies, gedoen word.

Die ANC verwys dikwels na die resolusie van konferensies waar beleidsbesluite geneem word (waarna die regering gedwing word om dit te implementeer). Let wel dat baie van die ANC se beleidsbesluite weens verskillende redes nog nie geïmplementeer is nie; tog duur die aanval op Israel voort. Die beleid rakende Israel en die besluit om Suid-Afrika van Israel te distansieer, is duidelik te wyte is aan ’n resolusie wat deur BDS geborg is. Dit is nie die standpunt van die meerderheid Suid-Afrikaners nie. Hulle sou verkies om ’n normalisering van die betrekkinge tussen ons twee lande te sien. Dit sal Suid-Afrika in staat stel om ’n rol te speel in die bevordering van vrede binne die huidige Israel-Palestynse konflik – soos deur die hoofregter bevestig.

Die aanval op hoofregter Mogoeng Mogoeng is ’n aanval op ons Christelike geloof en op die Grondwet van Suid-Afrika. Die ICEJ skaar hom by hoofregter Mogoeng se Christelike standpunt dat ons Israel moet seën en vir die vrede van Jerusalem moet bid.

God se Woord is duidelik oor Sy reaksie op diegene wat Sy volk seën of vervloek (die nasate van Abram – Genesis 12:3). Twee woorde word gebruik vir die woord wat vertaal word as “vervloek”. ’n Mens vervloek Israel (Hebreeuse woord “qalal”) deur die staat te haat, te beledig, te verkleineer of selfs te minag. Dit beskryf ongelukkig die huidige ANC-beleid teenoor Israel. God se beloofde reaksie op diegene wat Israel so vervloek, is om hulle waarlik te vervloek (“arar”). Die betekenis van hierdie woord “arar” is om “afgesny” te word van God se seën.

Die uitwerking van hierdie werklikheid op gesinne en nasies is deur die eeue goed gedokumenteer. Laat ons optree en bid dat dit nie die geval sal wees vir ons geliefde land nie.

Kyk hier na die volledige onderhoud met hoofregter Mogoeng:

Confronting apartheid of the heart – Lessons from South Africa

With racial tensions on the rise across the globe, join a conversation between Chief Justice of the Republic of South Africa Mogoeng Mogoeng and Chief Rabbi of South Africa Warren Goldstein. The discussion starts about 19 minutes into the video.Full story: https://bit.ly/2Z00sTn

Posted by The Jerusalem Post / JPost.com on Tuesday, 23 June 2020

Vir meer inligting besoek www.icej.org.za


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.