-deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

10 Augustus 2019

KENNERS MEEN AKTIEWE BETROKKENHEID SAL BLINK TOEKOMS VIR AFRIKAANSE ONDERRIG VERSEKER

Afrikaanse onderrig word die afgelope paar jaar gekenmerk deur gewelddadige betogings, politieke moddergooiery en radikale afskaffing op tersiêre-onderwysvlak.

Tog meen kenners dat daar ’n toekoms vir Afrikaanse onderrig is, maar die aktiewe betrokkenheid van alle rolspelers en belanghebbendes, insluitend ouers, onderwysers en organisasies soos AfriForum, is kern.

Dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), Janetta van Niekerk, hoof van Laerskool Die Krans, Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys en adv. Albert Lamey het hulself onlangs tydens ’n paneelbespreking van AfriForum Onderwys uitgespreek oor die pad vorentoe vir Afrikaanse onderrig.

Volgens adv. Lamey, wat die Hoërskool Overvaal verteenwoordig het in die hofsaak teen die Gautengse onderwysdepartement omdat hulle die skool wou dwing om Engelse leerlinge toe te laat, is daar ’n toekoms omdat die Grondwet voorsiening maak vir moedertaalonderrig waar dit prakties uitvoerbaar is.

Hy het die Overvaal-hofsaak, waar ’n Afrikaansmediumskool wat reeds oorvol was gedwing sou word om Engelse leerlinge te aanvaar terwyl nabygeleë Engelse skole kapasiteit gehad het, vergelyk met dié van Hoërskool Ermelo, ’n Afrikaansmediumskool wat Engelssprekende leerders geweier het ondanks die feit dat hulle kapasiteit gehad het.

“Die nasionale norme en standaarde vir taalbeleide vereis dat ’n leerling sy gekose taal van onderrig aandui wanneer hy by ’n bepaalde skool aansoek doen. Waar ’n skool die taal gebruik wat die leerling gekies het en daar plek in die betrokke graad beskikbaar is, moet die skool eenvoudig die leerling aanvaar,” meen Lamey.

Hy sê skole diskrimineer nie teen kinders indien hulle ’n taalbeleid, selfs ’n enkelmediumbeleid, toepas nie.

Volgens dr. Theuns Eloff het Afrikaanse onderrig ’n blink toekoms indien volhoubare moedertaalonderrig vir alle gemeenskappe ingestel word. “Polities gaan die beste ondersteuning vir Afrikaanse onderrig kom as die regering vir ander inheemse taalgroepe ook die geleentheid gee om moedertaalonderrig toe te pas.”

Eloff het verwys na ’n nuwe inisiatief waarby hy betrokke is, naamlik “MOS” (Moedertaal in Onafhanklike Skole), wat daartoe gestel is om ’n netwerk van volhoubare, onafhanklike Afrikaanse skole te skep wat regoor Suid-Afrika bedryf sal word.

Privaatskole kan egter volgens Eloff nie as die enigste uitweg gesien word nie omdat min ouers privaat skoolfondse kan bekostig. Daarom is inisiatiewe soos die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), wat in samewerking met organisasies soos Fedsas, die SA Onderwysersunie, die ATKV, die Skole-ondersteuningsentrum (SOS), die Afrikaanse Taalraad en die Trust vir Afrikaanse Onderwys besef dat Afrikaans in die openbare skoolstelsel óók beskerm en bevorder moet word, ook belangrik.

“Tans maak wetgewing nie voorsiening vir die privatisering van openbare skole nie, so Afrikaanse skole moet vol bly én goed bly om ’n toekoms te hê.”

Janetta van Niekerk, hoof van die Laerskool Die Krans wat ’n heelbrein-metode van opvoeding en onderrig volg, sê die sukses van Afrikaanse onderrig lê in die vestiging van goeie gehalte skole waar kinders veilig voel en onderwysers goed opgelei is.

“Kinders moet nie in boksies verpak word nie en genoeg persoonlike kontak en goeie opgeleide onderwysers is krities vir kinders se sukses. Groot ideale en drome is niks sonder goeie mannekrag om dit uit te voer nie.”

Sy sê voorts dat die kwaliteit van onderwys ook van die styl en “pakket” van ’n skool afhang en meen moedertaalonderwys moet beslis deel van ’n skool se “pakket” wees.

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, sê Afrikaanse onderrig het ’n toekoms as mense hulself betrek by organisasies soos AfriForum wat daartoe gestel is om hoop en ’n beter toekoms te skep.

“AfriForum fokus op die behoud en bevordering van gehalte onderrig en as mense by ons inskakel maak dit ons hand sterker om nie net onreg in howe te beveg nie, maar ook positiewe inisiatiewe soos ons Dink of Sink-skoledebatskompetisie, wat moedertaalonderrig bevorder, aan te bied.”

Bloem het ook daarop gewys dat taal nie bloot ’n kommunikasiemiddel is nie, maar deel van ’n persoon se identiteit en wese. “Ons wil hê skole, ouers én jongmense moet besef daar is ’n toekoms vir Afrikaanse onderrig en die algehele waarde en moontlikhede wat moedertaalonderrig bied, insien.”


Bron: afriforum.co.za

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.