-deur Will Maule

10 Junie 2019

Die wêreld het verlede week op 6 Junie die opoffering gedenk van die geallieerde magte wat op daardie datum in 1944 die taak begin het om Europa te bevry.

Die aanslag op Normandië se strande, met die amptelike kodenaam “Operation Overlord,” het tot duisende sterftes gelei. Tussen D-Dag (6 Junie en 21 Augustus 1944) het net meer as 2 miljoen geallieerde soldate in Noord-Frankryk geland. Oor daardie tydperk het die Amerikaners meer as 20 000 manskappe verloor.

Onder hulle was twee broers van Bedford, Virginia. Raymond en Bedford Hoback was van die eerste soldate om te land by die “Dog Green”-sektor, Omaha-strand saam met die A-Kompanjie, 116de infanterieregiment. Hulle kanse op oorlewing was maar skraal onder die spervuur van die Duitse masjiengewere.

Lucille Hoback Boggess, die broers se jonger sussie, onthou die dag toe sy die verskriklike nuus van hulle sterftes ontvang het. “Ons het ’n telegram ontvang, wat maar net gesê het dat Bedford dood is,” het sy gesê. Haar ander broer, Raymond, was vermis en vermoedelik ook oorlede.

“Dit het my ouers gebreek, my pa het in die skuur gaan huil, want hy wou nie hê ons moes hom so sien huil nie,” het Boggess gesê.

Terwyl die gesin nog oor die verlies van die geliefde broers getreur het, het hulle ’n onverwagte geskenk in die pos ontvang – Raymond Hoback se Bybel. Daar was ’n brief daarby van ’n makker af.

“Ek het die dag na D-Dag langs die strand gestap. Ek het op die Bybel afgekom en dit opgetel,” het die brief gelui.

“Hy het dit opgetel en gedink dat my ouers dit graag sou wou hê. Iets wat aan Raymond behoort het,” het Lucille verduidelik.

Die brief en die Bybel is net ’n paar van die kosbare herinneringe wat Lucille vandag nog in ’n ou aktetas bêre. “Ons het ’n deeltjie van hom, die laaste ding waaraan hy waarskynlik vasgehou het, was die Bybel.”

Foto: Skermskoot / ABC 13 News


Bron: faithwire.com

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.