Bron: Artikel verskaf

Toni Mould is ’n Suid-Afrikaanse para-fietsryer wat al vir die laaste ses jaar internasionaal aan wedrenne deelneem.

Sy is met ernstige serebrale verlamming gebore. Dit affekteer haar spiertonus, haar balans, haar spraak en het werklik ’n groot uitwerking in haar lewe gehad. Sy wou as ’n jongmeisie ook graag aan sport deelneem, maar hulle gesin het in ’n klein dorpie gewoon waar daar nie sulke geleenthede vir kinders met gestremdhede was nie.  Sy kon eers hierdie droom vervul toe sy as 29-jarige begin fietsry het.

“Fietsry het ’n baie belangrike aspek van my lewe geword. Dit bied my nie net die kans om te reis en op die hoogste vlak van die sport te kompeteer nie, maar help my ook om gesond te bly en hou my spiere en gewrigte sterk.”  Om op die fiets te wees gee Toni die vryheid wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Sy geniet dit om op die oop pad te ry sonder dat iemand haar hand hoef vas te hou of haar in ’n rolstoel te stoot. Sy het volle beheer en kan die wind in haar hare en die vryheid van beweging geniet.

Sy is van 2015 af deel van die Suid-Afrikaanse Para-fietsryspan en het tot dusver aan vier wêreldbekers deelgeneem: Twee in Suid-Afrika, een in Italië en een in België. Sy het ook aan drie Wêreldkampioenskappe deelgeneem, een in Suid-Afrika, een in Italië en een in Nederland. Hierdie vasberade atleet het verskeie nasionale kampioenskaptitels verower en ’n silwer medalje vir die Wêreldkampioenskap van 2017.


Facebook

Die afgelope ses jaar lank staan Anet Bosman vir Toni by. Dit het as ’n  vriendskap begin. Anet het destyds pas ’n fiets gekoop en toe uitgevind dat Toni ook fietsry. “Sy wou saam met iemand gaan fietsry, want sy was onfiks,” terg Toni. “Ja, ek wou nie hê hulle moet te vinnig vir my wegry nie; ek wou nie voel dat ek moet jaag om by te hou nie. Maar op die ou end moet ek nou in elk geval trap om by te hou by Toni!” lag Anet.

Anet is Toni se regterhand wanneer sy oorsee toer om aan kampioenskappe deel te neem. Sy sorg dat Toni haar energie kan spaar en net fokus op die resies. “Ek help haar stort en aantrek en maak seker alles is gepak en gereed,” verduidelik Anet. “Vir iemand soos Toni is energie die uitdaging. Ons neem dit so vanselsprekend, maar Toni moet haar energie bestuur … Ek gebruik altyd hierdie analogie. Ons word almal geseën met tien lepels energie aan die begin van die dag en sommige van ons sluit die ag af met twee of drie lepels oor. Toni het dikwels teen 11:00 niks meer oor nie. Tydens reise om te gaan deelneem, wil ons haar energie spaar sodat sy dit alles in die wedren kan gebruik.”

Kyk gerus hier na ’n video-onderhoud met Toni:

Toni kan nie as Para-fietsryer deelneem sonder die hulp van ander nie. “Ek kan dit nie alleen doen nie. Daarom is ons fondse wat ons moet insamel, hoër. Want daar is twee van ons wat moet reis  en nie net ek as fietsryer nie,” verduidelik sy.

Toni het verskeie doelwitte vir 2021. Die grootste is om vir die Tokio Paralimpiese Spele te kwalifiseer. Om te kwalifiseer, moet sy in 2021 aan verskeie ander kompetisies deelneem. Eerstens die  SA Kampioenskap  en die Wêreldkampioenskappe.

“Para-fietsryers in Suid-Afrika moet hulleself finansier  weens die gebrek aan finansiering van die regering en korporatiewe borge. Fondse wat deur hierdie Back-a-buddy-veldtog ingesamel word, sal in 2021 vir my fietsryvoorbereidings- en kompetisie-uitgawes in Suid-Afrika en in Europa gebruik word,” sê Toni.

Ondersteun asseblief hierdie dapper atleet in haar strewe om aan vanjaar se kompetisies deel te neem, besoek www.backabuddy.co.za/champion/project/toni-mould  

Jy kan haar ook borg vir haar fondsinsamelingsrit van Plettenbergbaai na Stellenbosch: 496,5 km in 41 dae. Borg Toni vir R2.00 per kilometer om haar te help om fondse in te samel vir die Wêreldkampioenskap in Portugal van 9-13 Junie 2021. E-pos Toni by tonicycling01@gmail.com


26 April 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.