-deur Grant Winter

Bernhard Langer, die Duitse gholfspeler word vandeesmaand 62, maar is steeds een van die beste gholfspelers ter wêreld.

In ’n briljante vertoning het hy ons die afgelope Sondag op Royal Lytham in Engeland daaraan herinner toe hy sy vierde senior ope- en sy 11de senior major-toernooi gewen het.

In koue, nat en winderige omstandighede het hy met ’n 66 vir ses-onder-baansyfer met 274 afgesluit om Paul Broadhurst te wen en met Suid-Afrika se Retief Goosen in die derde plek.

Om hierdie prestasie in perspektief te plaas: Langer se totaal is net een hou meer as die 273 wat deur Seve Ballesteros behaal is toe die Spanjaard (as 31-jarige) die Ope Kampioenskap van 1988 op hierdie selfde baan gewen het.

Tot onlangs het Gary Player nog die rekord gehad van die mees senior major-toernooie, met nege oorwinnings. Nou het Langer elf gewen en dit lyk nie of hy enigsins sy voet van die pedaal gaan afhaal nie.

Hy is ’n toegewyde Christen en ná die oorwinning verlede Sondag het hy ’n Bybelvers aangehaal tydens sy onderhoud: God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.” Hy het toe met ’n glimlag gesê dat hy daardie gerusstelling nodig gehad het om Lytham se verraderlike en lastige bunkers die hoof te bied!

Bernhard is as Katoliek grootgemaak en het as ’n seuntjie Sondagskool toe gegaan, maar hy het geen idee gehad wat dit beteken om ’n Christen te wees nie.

Slegs twee dae nadat hy sy eerste mastors-toernooi in 1985 gewen het, is Langer deur die mede-gholfspeler Bobby Clampett na ’n Bybelstudievergadering genooi. Daar het Larry Moody vir hom Johannes 3:3 voorgelees: Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

Langer sê: “Ek het besef wat in my lewe ontbreek. Ek het nie ’n persoonlike verhouding met God of Jesus Christus gehad nie. Nadat ek daardie besluit geneem het, het my geloof ’n groot deel van my lewe geword: hoe ek mense behandel, hoe ek die wêreld beskou, hoe ek politiek beskou. Dit het alles beïnvloed. Ons is so betrokke by die hier en nou … Ons lewe is net ’n vlugtige oomblik in vergelyking met die ewigheid.”

Gholf is ’n belangrike deel van Bernhard Langer se lewe en hy is nog net so mededingend soos altyd. “Maar dit is nie die belangrikste ding nie,” sê hy. “Die belangrikste dinge in hierdie wêreld is my verhouding met God en my verhouding met ander gelowiges en my gesin.”

Foto: Phil Inglis / Getty Images, via The Golf Digest.


Bron: http://gatewaynews.co.za

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.