-deur Patrick Simons

13 Mei 2019

Christene wêreldwyd was verheug om verlede week te hoor dat Asia Bibi uiteindelik uit Pakistan kon vertrek. Die vrou wat valslik van laster aangekla is, met die doodstraf gevonnis en toe ná ’n regstryd van tien jaar vrygespreek is, het in Kanada aangekom en is met haar gesin herenig. Dit beteken egter nie dat alles nou agter haar lê nie. Sy sal trouens die res van haar lewe oor haar skouer moet kyk.

Verskeie bronne het berig dat Bibi met heelwat gesondheidsprobleme in Kanada aangekom het. Dit is dus betwyfel dat sy oor die afgelope maande werklik “goed versorg” is soos wat Pakistanse owerhede beweer het.

Pakistan het sedertdien ook bevestig dat sy wel die land verlaat het, maar wou nie bekendmaak waarheen sy gegaan het nie. Moslem-ekstremiste het reeds belowe dat hulle nie sal rus totdat hulle Asia Bibi vergeld het vir die laster teen Allah nie.

Bibi en haar gesin voer sedert haar vrylating ’n baie onseker bestaan. Die ekstremiste het betogings aangehits waar daar aangedring is dat sy gestraf moet word. Dit was moeilik om ’n plek van veiligheid vir haar te vind. Selfs haar gesin is deur ontstoke Moslems geteister en gedreig. Alles en elkeen wat bande met Bibi het, was in gevaar.

Ook in Kanada is dit nie 100% veilig vir dié Christen-gesin nie. Sy het die teiken geword van godsdienstige waansin, trots en ekstremisme.


Bron: cip.nl

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.